Wanneer laas het jy saam met twee wildvreemde families in ʼn rigting in geskiet? Nee, ek praat nie van daai keer op hoërskool toe jou vriende vir jou ʼn blind-date gereël het met jou eie niggie nie.
Wag, voor dit woes weird begin raak laat ek sommer reguit inspring met die storie.
Hoe ouer ek raak hoe meer begin ek my verskeie sosiale kanale vir spesifieke doeleindes gebruik. Bv. Facebook is om al die belangrike verjaarsdae en nuus van families te kry, maar ook die een wat my tans die meeste irriteer, so nie seker hoe lank ek daarop nog gaan wees nie. Twitter is 95% slegs vir besigheid en dan die twee wat ek deesdae meer geniet is Instagram & YouTube. Beide kanale fokus op ons familie avonture, veral saam met die seuns, waar alles gepaardgaan met kamp, overlanding, 4×4, ag hel enige iets as dit iets is wat weg van die huis en in die natuur is.
Vir ʼn geruime tyd gesels ek aanlyn met Simon van Rolbos Adventures & Roland van My Life In Africa en bewonder die avonture waarop hul gaan.
Eendag word ʼn idee in die hoed gegooi dat ons mekaar moet ontmoet vir ʼn paar koue biere en die beste plek vir so iets is ʼn naweek weg saam met die families. Soos die goed mos maar gebeur word ʼn WhatsApp groep geskep en kort voor lank is alles gereël. Wel nie alles nie – ons weet waar ons gaan en dit is “pretty much” dit – nie een van ons is groot fans van te veel in detail reël vir ʼn naweek wegbreek nie.
Vrydag laat middag en so paar km voor Ceres kom daar lewe oor die VHF radio – Simon se stem kom plek-plek deur. Sein is maar sleg, met die dat hy & Roland alreeds in Ceres is. So paar km verder waar die R355 en R356 skei kry ons Roland se Land Cruiser Troopy & Simon se V6 Fortuner langs die pad staan waar hul vir ons gewag het.
Teen die tyd is die seuns nou al verby opgewonde en wil net die nuwe mense ontmoet saam met wie ons die naweek gaan toer – wie is hulle? Is daar kinders? Hoekom is die oom Engels? Wie gaan braai? Ma ek is honger – en die lys gaan aan en aan.
As jy nog lees, gaan die res van die artikel, nie soos al my voriges oor die actual trip gaan nie. Nope, daarvoor kyk gerus na beide Roland en Simon se video’s hieronder van ons naweek. Wees nou ʼn lekker mens en Subscribe tot hul kanale, asseblief!
As jy saam met nuwe mense kuier of travel dan wil almal altyd weet so hoe is hulle. Watse stories kan jy my vertel? Is hulle regtig soos A, B & C sê hulle is?
Wel hier is my weergawe…
Die 80 stop kort op die Troopy se gat in ʼn wolk van stof. Soos ek uit klim kom ʼn kort knaap na my gestap met ʼn helse glimlag en een van daai weird gekleurde sonbrille wat jou laerskool meisie altyd gedra het. Blad word geskud en onmiddellik herken ek Roland Rau van sy Instagram foto’s.
Kort op sy hake kom groet twee jong dames. Wel die een is actually jonk, sy dogter Skyla, en die ander een, sy vrou Gail, lyk wraggies of sy nou net klaar gemaak het met universiteit.
Roland is een van daai knape wat altyd rustig voorkom en dit lyk of niks sy moer-meter kan roer nie. Ek is natuurlik heeltemal die teenoorgesteld as dit, dus kon ek vir ure na hom kyk hoe hy sekere goed die naweek aan gepak het.
Voor die Troopy staan ʼn windmakerige Fortuner. Lyk wragtig soos ʼn Std 8 knaap wat gekies is om saam met die 1st rugby span te oefen – sommer lekker breëbors.
Takhaar knaap (vrek die een is ook kort) kom steek hand uit en so ontmoet ek Simon van der Merwe. Soos met Roland, is daar ook ʼn dame (Minouw Coetzee) aan sy sy, – wel nog nie legally nie, want as jy verloof is, het sy nog nie wettiglik toegang tot jou geld nie, maar goeie moer as jy trou dan moet jy jou geld tussen jou onderklere weg steek.
Beide Roland & Simon laat my dink aan die storie van die twee lelike eendjies wat saam met ʼn dam mooi swane geswem het. Ek is seker daarvan dat daar so ʼn storie is.
Tweede ding wat ek onmiddellik van Simon agterkom is die paar Blundstones aan sy pote – bliksem dit is netjies! Ek sal maar verby die sagte krulle kan kyk glo ek.
1) Kamp opslaan:
Met die dat ek al saam met soveel verskeie mense getravel het, is dit altyd vir my interessant hoe ʼn familie saam (of dalk nie) werk as daar reg gemaak word vir die aand se kamp.
Wel die Rau’s (jup dit is hulle van – self nog nooit van so ʼn van gehoor nie, maar dit is glo ʼn legal ene … sê hy) is een “well-oiled-camping-machine”. 2 min flat en sy dames se stoele is langs die kampvuur, en die knaap is gewapen met ʼn sigaret en ‘n koue bier, Windhoek Draught.
Met Simon & Minouw wil dit voorkom of hul eers bespreek watse drankie eerste geniet gaan word as alles opgeslaan is. As daar duidelikheid daaroor gekry word, dan word hul awesome setup in ʼn jiffy op geslaan.
2) Kampvuur geselsies:
Naas die kamp opslaan toets is die volgende ding waarna ek kyk al die gesprekke om die vuur. Is hulle een van daai knape wat jou vertel dat toe hy ʼn Recce was het hy man alleen die oorlog so verander, of een van daai knape wat groot oog in sy stoel sit met angs en vrees, of is die knaap ʼn lekker ou en nie iemand wat jy elke 5 minute wil moer nie.
Dankie tog; beide slaag diè punt met lof, anders sou ek geen ander opsie gehad het as om ʼn besering die volgende oggend te fop net om terug huistoe te kon gaan.
3) Reis etiket:
Derde punt van so toer naweek is overland etiket – is jy heeltyd doenig met jou eie ding of wil jy net heeltyd hê mense moet jou planne volg. Op ʼn toer loop dinge NOOIT volgens plan nie en as dinge skeefloop na ʼn lang warm dag is die laaste ding wat jy soek ʼn verdomde kapokhaantjie wat op steroïdes is en wat hier langs jou op en af spring.
Soos geluk aan my kant is besluit ek dit is tyd om my spaarwiele te toets en ry aspris een wiel pap…korrek, aspris…want ek kan, en mag. Ek was skaars uit Tigger en beide knape is by om te help. Was eers bekommerd oor Simon en sy sagte krulle, maar die knaap is nie bang om sy hande vuil te maak nie.
Bly om te sê beide wetters (skuus wou sê reisigers) slaag die punt ook met lof. Sover doen die twee kort knape nie sleg vir ʼn oop boek toets nie.
4) Kos maak:
Nou die volgende punt mag ek nie regtig sterk opinies gee nie, want 90% van die tyd travel ek saam met mense wat vuis sal slaan om kos te maak. Dus staan ek met graagte eenkant en help waar dit nodig is – maak seker hulle het ʼn koue bier of Vuil Coke, dat daar genoeg hout is… die basiese goed van klas Kamp 101.
Wel beide skram nie weg van kos maak nie. Inteendeel, daai Engelse knaap het die Saterdag so ʼn lekker potjie gemaak dat as ek verby sy Engels kyk sal ek wraggies weer saam met hom reis met die hoop dat hy dalk so potjie weer sal maak.
5) Terugvoer van ons seuns:
Laaste punt en ook vir my die belangrikste – interaksie met my seuns. Ek en Marli is maklik aanpasbaar in enige geselskap, maar ons twee woelwaters kan enige normale mens dalk gou dryf na drank. Hul is nie die maklikste travel partners nie en ons mind nie hul woeligheid nie, maar ek weet nie almal is soos ek en Marli nie. 90% van die tyd travel ek met my familie en dus is hulle altyd my 1ste prioriteit. Geniet hulle die mense saam met wie ons travel? Wil hulle weer saam met die groep travel?
Jean is die maklike een en vir hom gaan alles oor die manne se voertuie. Hoe groter, hoe rowwer, hoe meaner, hoe beter, en dus in sy oë like hy beide ooms baie. Lian se terugvoer was meer direk en dalk persoonlik:
“Hoekom teken (tatoes) die ooms op hul bene & skouers pappa?”
Ek moes aan ʼn antwoord dink wat hy sou verstaan en toe tref dit my:
“Dit is omdat die een oom Engels is en die ander een sagte krulhare het my seun”. Haha!
Alle grappies op ʼn stokkie: beide seuns het Sondag, toe ons tuiskom, gevra wanneer ons weer saam met die oom’s kan reis, dus is dit 5 uit 5 vir beide hierdie knape.
Wees nou ʼn lekker mens en gaan besoek hul verskeie sosiale kanale hieronder en maak seker jy volg hulle. As jy hul dalk sien op ʼn grondpad êrens in ons mooi land, stop hulle en maak tog seker die knape kry ʼn koue bier, want hulle is lekker mense… al sê die internet wat ook al. (grappie)
Simon van Rolbos Adventures:
- Web – www.rolbosoverland.com
- Instagram – www.instagram.com/rolbos_overland_za
- YouTube – www.youtube.com/rolbosoverland
- Facebook – https://www.facebook.com/rolbosoverlandza
Roland van My Life In Africa:
- Web – www.mylifeinafrica.com
- Instagram – www.instagram.com/my_life_in_africa
- YouTube – www.youtube.com/mylifeinafrica
- Facebook – www.facebook.com/mliafrica
Kliek hier vir paar fotos van die naweek.
Lekker bly lekker, om te toer saam met mense wat dieselfde belangstellings het, maak dit net maklik
Lekker Henry! Naweek was great ons maak gou weer so.
Looks like you okes had a Lekker time together! Was an enjoyable read!
Now that was an epic article, almost as good as camping with you guys!!! Henry you are a skilled storyteller that’s for sure! Looking forward to the next adventure with you guys soon…
Lekker stuk om te lees Henry. Kon op tye my pens voel skud soos ek giggel. Julle het sowaar n lekker naweek gehad en moes great wees om hierdie “likeminded” mense saam jou te he. Ek en my vrou se ook ” ons kamp remote omdat ons ook n woelwater het “. Maar dis great om kinders op hierdie manier groot te maak.. Sien yt na die volgende een om te sien.
Klink soos ‘n lekker avontuur wat jul gehad het!
Klaar die videos gekyk en verlang sommer weer na die Karoo.
Great story!
Dankie Henry vir nog ‘n LekkeR Kamp storie. Soos altyd is daar genoeg humor in jou stories was jou net nog verder wil laat lees.
Lag ek nou lekker vir die een! Geniet altyd jou stories van die avonture en kan nie wag vir die volgende een!
Lekker blog Henry, jy’t my nou aan die lees hierso! 🙂
Dankie vir die terugvoer manne – ons maag gou weer so.
[…] Het al voorheen saam met hul die vlaktes in geskiet, en dit was ʼn belewenis homself gewees. Lees gerus meer daaroor hier. […]