
Einde verlede week skiet ek gou na Jacques op die plaas, buite Wellington, en terwyl ons om die tafel sit en ʼn koppie koffie geniet gesels ons oor die vorige naweek se kuier in Loeriesfontein en wat ʼn puik naweek dit was vir almal betrokke.
Soos altyd het ons net ʼn halwe rede nodig om in die pad te val – dus toe Frans met die uitnodiging kom dat ons by hulle in die Hantam op die plaas moet kom kuier tydens Loeriesfontein se bekende kerk basaar was die koeël reeds deur die kerk.
Ons span vir die 4 dae (21 – 24 September) uitstappie was soos volg:
- Groenewald’s (Jacques, Carlize & Rialé)
- Laas’e (Paul, Marina, Munnik & Streicher)
- Hugo’s (Lourens, Mariette, Josua & Loumari)
- Laubscher’s (Frans & Lunay)
- Jonker’s (ek, Marli, Jean & Lian)
Vrydagaand so net na 8pm ry ons die stil, verlate Loeriesfontein binne.
Eerste ding wat my tref is hoe skoon die strate is. Nêrens is ʼn siel te sien nie en as jy nie vir my gesê het daar was die volgende dag ʼn groot basaar op die dorp nie, sou ek dit wraggies nie geglo het nie.
Verby die kerk (regs) draai ons links op die Brandvlei pad terwyl Loeriesfontein se paar liggies agter ons weg raak.
17km verder kom Frans op die VHF radio en vra of dit ons ligte is wat oor die koppie kom. Hy en Jacques ontmoet ons by die hek en blad word geskud. Die opwinding lê vlak tussen die twee manne, en mens kan sien die knape is sommer lus vir ʼn groot naweek.
By die vurk draai ons regs en ry verby die bordjie Spitzbergvlei. ʼn Km verder stop ons langs die ry Toyota bakkies op die werf.
Die vure brand hoog en elke man is gewapen met ʼn glas “rustigheid” van sy keuse. Die vrouens is doenig êrens in die plaashuis en die kinders is die vlaktes vol.
Terwyl daar om die vuur gekuier word vertel Conrad (Frans se broer, asook die eienaar van die plaas) van die droogte wat hul die laaste paar jare ondervind het in die distrik en hoe jakkals se kind hul gereeld groot skade maak.
Een ding is verseker hier sit ʼn boer & ʼn jakkals nie om dieselfde vuur nie – groter aardsvyande sal jy nie kry nie.
Saterdagoggend en daar is sommer vroeg lewe in die plaashuis. Al die mans & seuns het sommer in die sit & eetkamer tuiste gemaak vir die naweek.
Uiteindelik is die hele spannetjie reg en aan die beweeg terug Loeriesfontein toe. Vandag is die groot basaar en almal is reg vir die “ding”.
Soos ons die dorp binnekom word jy oorval met die reuk van braaivleis en sosaties. Lunay kry vir ons vinnig ʼn tafel onder een van die groot weermag tente, terwyl daar nog plek is.
Die kerksaal is vol met tafels met enige iets van koeke, vleis, speelgoed, beskuit … amper enige iets waaraan jy kan dink.
9am word die basaar offisieel oop gemaak deur die dominee en in ʼn oogwink is die saal stam vol mense.
Die atmosfeer is geselling en die skaap sjops & sosaties is iets uit ʼn ander klas, maar wat my die meeste beïndruk van hierdie Hantam dorpie en sy mense is die gemeenskaplike respek onder mekaar – wit, nie-blank, boer, werker…maak nie saak wie of wat jy is nie.
Droogte ken geen kleur of ras nie. Dit affekteer almal en almal kry swaar, en dit is dan wanneer ʼn gemeentskap & sy kerk mekaar nodig het om deur sulke moeilike tye te kom.
Laat middag en ons is terug op die plaas. ʼn Staanrib kry sy plek langs die vuur terwyl daar oor die dag se basaar gesels word.
Die aand word afgesluit met Jacques se swart pot skuifies op die vuur wat altyd ʼn wenner is onder die kinders en ook as jy die heeldag jouself ooreet het aan skaap sjops & sosaties en jy net iets anders as vleis soek haha.
Sondagoggend en die spannetjie staan effe swaarder op. Vandag is ʼn groot dag in die Laubscher’s se familie. Oom Dirkie (Conrad & Frans se pa) is 80 vandag en die familie kom kuier op die plaas om die ongelooflike gebeurtenis te vier.
ʼn Skaapboud & sterte pot + ʼn hoender pot word onder wakende oë gemaak terwyl die jong span vir die oom verjaarsdag kaartjies teken/skryf.
Laat middag en almal kan skaars beweeg soos daar geëet was. Die dag se hitte lê nog vlak en Conrad stel voor dat hy ons bietjie die plaas gaan wys en dan kan ons sommer in een van die plaasdamme gaan swem.
Skaar ʼn paar minute van die plaas en Lian se ligte is uit. Dink die vars lig agter op die bakkie en die aanhoudende geveg met wie voor teen die tralies moet staan het sy ligte geknip haha.
Die veld is bedek met veldblomme en die broers vertel staaltjies van hoe hul skaap gewerk het op die plaas toe hulle nog jong latte was.
Die bakkie kom tot stilstand by ʼn sementdam – die manne is maar huiwerig oor die swem-ding, maar ek en ou Laas besluit ons het mos hiernatoe gekom met ʼn doel so die water moet maar getoets word.
Skaars het ek die water getref en my liggaam gaan in skok en angs van koue. Ek wil omroep skreeu vir hulp, maar toe kom Laas se skrale 100kg+ lyfie oor die sement wal en toe moes ek net keer om nie te versuip nie.
Ja, dit was mos nou ʼn verdomde puik idee hierdie manne…k@k man!
Groepsdruk is soms ʼn wonderlike ding, en skaars paar minute later na my amper verdrinking met Laas se induik in die dam toe is al die manne in die dam.
Jean word so effe teen sy wil die damn aangehelp – mens kan nie al die moeite doen om jou swembroek aan te trek en as jy dan voel die water is effe te koud dan ontrek van operasie Dam Swem nie…duh, dit werk nie so nie. In so geval, moet ʼn jong man effens gehelp word met sy keuse en uitvoering daarvan. Arme knapie se oë was groter as pierings toe hy sy kop uit die water druk haha.
Terug by die plaas en die vure word weer lewe gegee met groot Kameeldoring hout. Die middag se potte word weer warm gemaak vir die siele wat nog kos oor die lippe kon kry (meestal net die mans gewees).
Maandagoggend en dit is tyd om die lang pad terug huis toe aan te pak. Die families word eers gegroet op die dorp voor daar by die bekende Fred Turner Windpomp museum gestop word wat spog met 30 verskillende windpompe.
So 7km voor Nieuwoudtville op die R357 stop ons by die Nieuwoudtville Waterval Reservaat vir ʼn paar foto’s. Die seuns is sommer klaar woelig so die stop kom net betyds anders was daar dalk moord in die voertuig.
ʼn Laaste stop word by Klaver gemaak vir petrol & diesel voor daar aangestoot is huis (Wellington/Franshoek) toe.
Loer gerus na ‘n paar foto’s van ons trippie.
Dit lyk na ‘n LekkeR kuiertjie.
Ek love jou blogs Henry, ek ek kan sommer die vure ruik met jou beskrywende woorde.
Keep it up, ek sien uit na julle kamp sessies
Dankie vir die inloer Hugo.
[…] 2018!! Amper op my rug geval toe ek sien dat dit die laaste keer was, wat ons klomp manne by Frans se broer, Conrad Laubscher, gaan kuier het. Hoe meer ek daaraan dink, besef ek dat dit wraggies strafbaar is 😊, en Frans (aka gevreesde Span B leier) gaan met die volgende bosberaad moet verduidelik, hoekom dit ons 6 jaar geneem het om weer in daai rigting te beweeg het. Lees gerus meer oor ons kuier in die Hantam wêreld hier. […]