Skip to main content Scroll Top

Mabuasehube!!

Polenswa

Ons is nou vyf dae in ons Kgalagadi-avontuur tydens die Junie/Julie-skoolvakansie. In die eerste deel van die reis het ons via Fraserburg die park by Twee Rivieren binnegegaan.

Ná ‘n paar onvergeetlike aande by Rooiputs en Nossob, pak ons nou die pad verder noord aan na Polentswa – een van die Kgalagadi se mees besondere kampe.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Mense het my gewaarsku die Kalahari is bitter koud gedurende die winter seisoen, maar van dag een het ons die perfekte weer ervaar. Aande was koud, maar gedurende die dag was dit enige iets van 22-28 grade.

Polentswa 2 KTPOL 02 is een van drie kampe lans die Polentswa pan. Vriende van Lourens, wat ons by Nossob gekry het, se seun (Jaco) het besluit hy wil liewers saam met die jongspan kuier vir die volgende twee dae so ons spannetjie is nou agt.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Leeus het vroeg die 1st oggend naby ons kamp gebrul en dit was ʼn belewenis om in jou tent te lê en daai brute krag te hoor. Nog ʼn hoogtepunt was om te sien hoe twee jakkalse duiwe jag by ʼn water gat.

Laatmiddae het ons die vuur aangesteek en die dag se avonture met ‘n koue in die hand bespreek. Teen dié tyd was die jongspan natuurlik gretig om die dag se speletjie vir ons Kgalagadi-vakansiekompetisie te speel. Ons nuwe besoeker, Jaco, het behoorlik skoonskip gemaak en albei dae se speletjies gewen.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Na twee onvergeetlike dae by Polentswa, het die groot dag aan gekom om ons reis na die Ooste-kant van die park te begin. 5 km voor Nossob sien ons hoe vier cheetahs ʼn springbok plat trek – ongelooflik!

By Nossob kry ons vars roosterkoeke en brood (twee dae terug bestel) en na ʼn gesukkel kry ek ook die jongspan uiteindelik uit die winkeltjie.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Die opwinding is hoog en almal sien uit vir die nuwe gedeelte van hierdie avontuur. Daar is twee roetes (wat ‘n paar kilometer noord van Nossob begin) na die Mabuasehube-gebied. Die suidelike roete, Nossob–Bosobogolo 4×4 Access Route, is ‘n tweerigtingroete wat deur die Kalahari se duine kronkel. Dit neem jou verby Motopi tot by die Bosobogolo Pan.

Die noordelike roete, Mabuasehube Wilderness 4×4 Route, loop parallel met die Nossob–Bosobogolo 4×4 Access Route en kan slegs vanaf Malatso na Nossob in ‘n westelike rigting gery word. Meer oor hierdie roete in die volgende artikel.

Die afstand na Motopi #1 sou nie lank in afstand gewees het nie, maar dit het soos dae vir die jongspan gevoel wat so bietjie met karsiek gesukkel het met die kronkelende roete.

Ons was wel beloon toe ons drie leeu-mannetjies, +/- 2km voor ons kamp, reg langs die pad kry wat die middagsonnetjie geniet het. Daar was groot ekstase, maar die realiteit het ook ingesink dat ons werklikwaar op ons hoede moet wees…

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Die geel gras is knie hoogte lank om ons kamp en soos daar opgeslaan word, word daar maar heeltyd rond gekyk. Jean trek ʼn vuil streep op sy nefie en sê as daar vir ʼn “no 2” gegaan word, moet daar altyd twee wees. Die een staan op die uitkyk terwyl die ander een besig is met sy saak. 😊

Laat die aand toe al die dag se opwinding iets van die verlede was en die jongspan rustig in die tente is en ek en Lourens om die vuur sit met ʼn warm koppie koffie, besef jy hoe afgeleë ons nou werklikwaar is.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Volgende oggend volg ons die pad in ʼn oostelike rigting vir nog so 75km tot by die Bosobogolo pan. Van daar is dit nog so +/- 20km tot by ons volgende kamp, Monamodi #1 waar ons vir die volgende twee dae sou kamp.

Die ongelooflike lekker weer het ons die hele tyd vergesel. Party dae was ‘n kortbroek al wat nodig was, maar sodra die son sak, het die kampbaadjies weer uitgekom.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Oor die twee dae verken ons al die omliggende panne, maar die dierelewe is skaars by Monamodi & Mabuasehube panne. Paar alleenlopende Springbokke, Gemsbokke & Elande word gesien en natuurlik Jakkals se kind is orals te siende.

Laatmiddae, wanneer die vuur aangesteek word, is daar groot opgewondenheid vir die dag se kompetisie. Almal help met die kamptakies, maar soms moet die twee jong knape (Lian en Stiaan) eers met die dood gedreig word voordat daar skielik lewe in hulle kom. Gelukkig is ons almal nog voltallig!

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

In die volgende artikel reis ons na die bekende Mpaya kamp en dan mik ons weer Suid terug huis toe.

Aan my twee seuns, Jean en Lian & nefie Stiaan: Daar was vrek baie “interessante” oomblikke in die bakkie 😊, maar ook oomblikke wat die lewendige vrees in ek en Jean gesit het. Stiaan wat amper ʼn hele piekniekarea geskuif het met reverse skills, en Lian wat een modderskerm op sy lys van Toyota-plastiekbehore gesit het. Jean, jy kan maar ophou lag, maar jy het een nommerplaat op jou lysie, seun.

  • Dag 1 – Noord Kaap, Fraserburg CHECK
  • Dag 2 – Molopo Kalahari Lodge CHECK
  • Dag 3 tot 4 – KTP, Rooiputs #1 CHECK
  • Dag 5 – KTP, Nossob CHECK
  • Dag 6 tot 7 – KTP, Polentswa #2 CHECK
  • Dag 8 – KTP, Matopi #1 CHECK
  • Dag 9 tot 10 – KTP, Monamodi #1 CHECK
  • Dag 11 – KTP, Mpaya #2
  • Dag 12 – KTP, Mpaya Reserve
  • Dag 13 – KTP, Mosomane
  • Dag 14 – Huis toe

Lees gerus die res van die reeks:

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Mabuasehube gebied van die Kgalagadi Transfrontier Park.

Kgalagadi Transfrontier Park Tour 2026

Related Posts

Comments (3)

[…] 6    Deur Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende July 23, […]

[…] 0   Deur Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende August 13, […]

Leave a comment