
Die einde van die jaar is op ons en ek dink almal is net lus om die tuig neer te lê en te ontsnap van een mal, op en af jaar. So ‘n paar weke gelede het Mauritz met die voorstel gekom dat hy graag sy vrou en ʼn paar van ons vriende twee van sy gunsteling plekke in die Tankwa wil wys. ʼn Kaart is na my geskiet om te vra of ek en die seuns wil join… Ag, met my ou rubber armpie was dit ʼn maklike ja!
Ons spannetjie vir hierdie Tankwa Extravaganza (soos ons die WhatsApp groep gedoop het) was:
- Ek & seuns
- Mauritz Kriek & gesin
- Mauritius du Toit & gesin
- Andre Piek & gesin
- Jacques Pienaar & gesin
- Leon Jansen Van Rensburg
- Rechtus Steyn
Rechtus het sommer saam met my en die seuns in Tigger gespring en kort voor lank is ons klein konvooi aan die beweeg Tankwa toe.
Net na die R356 van die R355 split stop ons vir ʼn koue lafenisse, maar meer belangrik is dit ‘n geleentheid vir die jong span om bene te rek.
Dis hartseer om te sien hoe die area deur vandalisme beskadig is met stukkende drank bottels orals. Van die ma’s moes later jong sieletjies, teen hul wil, skoene laat aantrek om voorsorg te neem teen enige moontlike snye van die stukkende glas bottels.
Dit is feitlik onmoontlik om Tankwa toe te gaan en dan NIE by die Tankwa Padstal te stop nie. Die kinders het natuurlik die geleentheid met beide handjies aangegryp en kort voor lank het ouers trane weggesteek soos die kinders die winkel aangeval het met versoeke vir speelgoed.
Ok, genoeg van hierdie intro/opbouende nonsens. Kom ons skiet reguit na die ernstige gedeelte van hierdie klein interessante avontuurtjie. Ja tannie, sit nou jou Huisgenoot neer en roep pappa en laat die kinders vir jul voorlees. Die volgende gaan soos ʼn feeverhaal wees wat deur infanterie soldate omsingel was en toe, op die een of ander onverklaarbare rede, gered word deur Rooikappie… Jy sal dit nie glo as ek dit vir jou vertel nie, so kry liewers vir pappa ietsie sterker dat hy kan fokus hier.
Ons plan vir die naweek was kortliks soos volg: slaap een aand by Tankwa Tented Camps en beweeg dan na De Mond waar ons twee aande sou kamp. Hierdie gaan ʼn rustige familie kamp wees met geen WOW oomblikke nie… Hahahaha…
Almal maak dit in een stuk tot by Tankwa Tented Camp, behalwe vir die Krieke wat spog met twee pap agterwiele.
Onmiddellik kom ek agter hoe ongemaklik warm dit is, maar meer belangrik dat ʼn onplesierige verdomde wind ons verwelkom het.
Laer word getrek en onmiddellik word kamp op geslaan. Elke gesin is doenig met sy eie takies en almal weet ʼn koue bier wag vir jou as jy klaar is met jou tydelike basis vir die aand. Soos ek my awning oop trek merk ek twee klein merkwaardige goedjies op, en hierdie is in geen spesifieke orde nie:
- QuickPitch se 270 Awning staan nie terug vir onsmaaklike omstandighede nie, maar toe ek daai knaap vastrek toe lyk Tigger soos die klein vet olifant met groot ore, Dumbo, wat wil opstyg soos die wind hom druk. Elke moontlike strap word vasgepen, maar steeds voel ek ongemaklik. Dit kos net een groot ruk wind en dan word my voertuig toegedraai met awning, en dit sal nie snaaks wees nie, maar daar was groter probleme as my bekommernis oor die wind…
- In die hoek van my oog sien ek my medekamper, Mauritius, wat sulke eksotiese bokspring bewegings doen weg van sy wa, wat hy vir die naweek geleen het by ons goeie maat Walters Smit. Teen hierdie tyd sit ek saam met Leon en ons teug aan ons eerste koue enetjie. Die knaap maak weer sy verskyning by sy wa maar dit wil voorkom of hy ʼn groen skynsel aan hom het. My oomblik van omgee was van korte duur, toe Andre Piek ons elkeen nog ʼn bier die hand in druk.
Dit is vir my belangrik dat jy, die leser, ʼn globale prentjie kry van die omstandighede wat hier afspeel. Die wêreld is warm en die wind moker ons van alle kante. Van die gesinne sit met bitter jong kinders en die arme ma’s moet soveel goed “juggle” op een slag: help tent penne inslaan terwyl manlief bevele afskiet en dan terselfdetyd kom daar ʼn klein welpie huilend by ma aan, want die stof het in sy/haar oë gewaai…
Een van hierdie vrouens is Jeannine Du Toit, wie se kroos 1, 3 en 5 jaar oud is. Manlief (Mauritius in punt 2 hierbo) het spesiale reëlings getref vir ʼn (geleende) Conqueror Companion kampwa vir die naweek, want hy weet die 3 woelwaters gaan ma besig hou. Die galante heer wat Mauritius is, het besluit hy wil dit so gerieflik as moontlik vir vroulief maak.
OK, so nou met daai bietjie agtergrond informasie keer ons terug na punt 2 hier bo. Soos ek teug aan my tweede koue bier saam met Leon en Andre, rustig onder die skadu van ons awnings, sien ek hoe Mauritz na sy swaartjie (Mauritius) toe stap wat teen die tyd so groen is soos Kikuyu gras. So meter voor Mauritius se wa kom Mauritz tot ʼn skielike halt, gryp na sy mond en maak spore weg van die wa. Teen die tyd staan Jeanine, met een van haar welpies op die heup, ook ʼn veilige afstand van die wa.
My nuuskierigheid kry die oorhand en ek stap nader om te kyk wat is die storie met die wa. Ek vra Mauritius wat is fout en die knaap mompel: “Kyk vir jouself!!!”.
Mense, toe ek so ‘n meter van daai wa is toe oorval die vrot/angsaanvallende reuk my dat ek onmiddellik stop en terugsteier, weg van die wa af. Alles in die kombuis area van die wa is oortrek deur iets wat ontplof het in die wa…
OK, kom ons pause gou die artikel en gaan so paar maande terug in die verlede. September 2021 besluit Walters (wie se wa Mauritius geleen het vir die trippie) en Mauritz (Mauritius se swaartjie) om vir die naweek by Kleinmond te gaan kamp. Terug tuis na die kamp naweek word alles skoongemaak en reg gepak, maar oom Walters VERGEET EEN KRITIESE item in sy wa – ʼn pot vol aartappels & vleis.
Nou jy hoef nie Wiskunde op HG te hê nie, maar vir die wat sukkel met die maande, dit is 4 maande lank wat daai pot in die wa, wind en son staan. So toe Mauritius die grondpad van die Tankwa tref het daai uiters plofbare konkoksie begin skud en die res kan ek oorlaat aan jou verbeelding…
Op hierdie oomblik het ek besluit ek dit is ʼn goeie tyd om die volwasse besluit te neem en nie in te meng nie. Ek het dus stadig wegbeweeg van die situasie en my sitplek weer ingeneem by Leon, Andre en die 3de koue enetjie wat my aandag geverg het.
Nou, dit is hier waar ek my hoed MOET afhaal vir Mauritius en Jeannine. Ons almal weet daar is altyd so bietjie wrywing as daar kamp opgeslaan word tussen mamma en pappa, so verbeel jou jy sit 3 jong woelwaters wat klou aan ma, ʼn wa waarin hul vanaand, inteendeel die hele naweek moet slaap, wat deurtrek is deur #&%*#(^#$ wat enige Suid Koreaanse Pofadder kan laat dood ruk in sekondes, die natuur wat dit ook nog vir jou ongemaklik maak (wind, hitte, stof) dan is dit mos net ʼn kwessie van tyd voordat ‘n hierdie huweliks fiasko gaan ontplof hier voor almal.
Maar dit het nie. Inteendeel, ek dink albei het net besef dinge kan net nie erger raak as wat dit tans is nie. Beide het diep asemgehaal vir ʼn oomblik en die probleem van ʼn kant af aangepak. Alles, en ek bedoel ALLES, moes skoon gewas word. “They just worked the problem”! Mauritius en Jeanine, ek weet op daai oomblik het dit seker gevoel dit sou makliker gewees het om alles net toe te maak en terug huis toe te ry, maar ek moet jul twee komplimenteer – welgedaan!!!
Uiteindelik is almal gewapen met ʼn koue en die vuur baklei teen die Tankwa stof en wind, maar teen die tyd het almal daarmee vrede gemaak dat die wind hier gaan wees en daar was niks wat ons daaraan kon doen nie, so ons kan nou net die beste van die situasie maak en dit is PRESIES wat ons gedoen het.
Natuurlik het die wind die kinders glad nie gepla nie; as hulle nie betrokke was by ʼn krieket wedstryd nie, dan is daar geswem in die YSKOUE plaasdam.
Later die aand het die wind so sterk begin raak dat as jy op staan om iets op te tel dan is jou stoel skielik nie meer daar nie. Maar tussen dit alles deur het ons ʼn ongelooflike lekker aand om die vuur beleef.
Jy kan nie by Tankwa Tented Camp wees en NIE by OnverklaarBar ʼn draai maak nie. Ons manne het in ʼn vrolike bui afgewandel OnverklaarBar toe. Sekeres van ons was vroliker as die ander…
Uiteindelik by die bar aangekom, wat soos ʼn leeftyd gevoel het, kan ek nie my vinger plaas op die musiek of iets wat ek hoor nie. Ek maak die deur oop en skielik kan ek nie my hand voor my sien nie. Die hele plek is toe onder die rook en die reuk van gebrande rubber. In die verte, in die rigting van die bar, is daar een moerse dreuning en geraas.
Ons voel-val-voel-val tot ons by die bar is. Teen die tyd is die geraas weg en die rook het begin sak. In die middel van die bar is een helse groot KTM 1250 Adventure met ʼn skraal knaap op sy gat wat heel duidelik vroliker as ons was. Sy mater wag ons by die deur in, en dié se klere weet hy self nie waar dit is nie. Voor ek nog die omstandighede kan opsom wandel my mede-kampvegter, Mauritius, verby my ook sonder sy klere. Teen die tyd help dit nie jy dink oor die omstandighede nie. ʼn Rondte vuil Coke word bestel en die musiek twee knoppies harder gedraai – whoop whoop.
Andre Piek maak die fout en vra die skraal knaap of sy KTM dit weer kan doen. Ek dog daai knaap verstik aan sy vuil Coke en voor ek my kan kry is daai knaap op sy ysterperd en sy twee makkers aan beide kante van die ding se gat. Die twee moet die gat effe lig anders voeter daai helse fiets deur ʼn klip muur en hul sal hom seker op Calvinia eers kry want dit is ‘n groot stuk motorfiets.
Daai knaap begin daai KTM se ore draai en tussen die musiek en die gejuig staan ek daar oopmond en verwonder my aan die chaos wat hier voor my afspeel. Ek het al baie in my lewe beleef, maar wragtig hierdie was ʼn eerste vir my.
Na vele onskuldige vuil Cokes stel ek my mede-kampers in kennis dat ek hulle gaan verlaat en die tog terug kamp toe aanpak, alleen in die donker. Daar is geen tekens dat die wind gaan lê nie en ek maak seker niks lê rond voor ek die daktent in klim nie.
Fast forward na die volgende oggend.
My eerste observasie was – wat het gister alles gebeur? Het dit werklikwaar alles gebeur op een dag? Soos die manne uit hul tente kom, wil dit voorkom of van hulle ʼn helse onderonsie gehad het met ʼn pak hiënas op pad terug tent toe, want ek kan die skade in die gesiggies sien, hahaha…
Na ontbyt is die konvooi weer aan die beweeg en vir die volgende twee dae gaan ons lekker uitspan langs die Doringrivier by De Mond.
Teen die tyd was die wind darem iets van die verlede en, alhoewel die son ons gepeper het, was dit so gerieflik met die Doringrivier aan die voet van ons kamp.
Enige kind se droom!
Hierdie was een van daai naweke wat altyd om die vuur herleef sal word via stories. Ek dink ou arme Walters gaan nooit OOIT die einde hoor van die pot kos wat hy vergeet het in sy wa nie.
Goeie tye saam met goeie vriende!
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Ek dink jul twee knape het die Tankwa nou al goed verken, maar elke keer om daar saam met jul in die oop vlaktes te wees is altyd iets spesiaal vir pa. Hierdie was wel die eerste keer wat die wind nie saam gespeel het nie, maar jul twee was regte “troopers” so welgedaan. Onthou gedurende enige avontuur gaan daar altyd iets wees wat nie 110% gaan verloop nie, maar dit is hoe mens dit hanteer en aanbeweeg. Dit help ook natuurlik as jy saam met ʼn groep mense gaan wat die pyp kan rook en nie gaan “back-off” vir ʼn challenge nie.
Kliek hier vir ‘n paar fotos en videogrepe van hierdie onvergeetlike naweek.
Niemand kan daai naweek beter beskryf nie….was bitter lekker ek gaan defnitief weer saam.
Dit was n topklas naweek met baie verrassings 👌. Hoe lekker kry ek nou weer heimwee van voor af. Opgewonde om dit weer te doen. Magic plek daardie Tankwa!
Is julle beperk tot die kaap of kan Jonker adventures n gautengse nwk reel vir n paar vriende?
Hi Bronwyn,
Lekker om weer van jou te hoor. Haha, man ek probeer so MIN as moontlik in Gauteng kom, maar as ons deur Gauteng gaan erens oppad na nerens sal ek julle ping dan kan mens n bier of 10 geniet.
Groete