My mens, nou toer ons lekker! In die eerste twee artikels het ons die Kgalagadi Transfrontier Park by die suidelike hek, Twee Rivieren, binnegegaan. Ná onvergeetlike dae en aande by Rooiputs, Nossob en Polentswa beweeg ons nou ooswaarts na die Mabuasehube-gebied, waar ons die omliggende panne en die pragtige Kalahari verder gaan verken.
As jy dalk die eerste twee gedeeltes gemis het, lees dit gerus hier:
- Deel 1 – Katte met tande in die Kgalagadi
- Deel 2 – Mabuasehube!!
Van Monamodi na Mpayathutlwa (Mpaya) pan, waar ons vir die volgende twee dae gaan wees, is dit slegs +/- 12km so ons besluit om die Botswana grenspos te besoek met die hoop om van ons waterkanne vol te maak en daarna mik ons na Mabuasehube pan vir middagete.
Daar heers ʼn ongemaklike opgewondenheid onder die groep met ons aankoms by Mpaya. Die vorige gaste het ons gewaarsku ons moet op ons hoede wees, want die leeus het elke dag deur hulle kamp gestap.
Kamp word op geslaan met een oog wat heeltyd die pan se oop vlakte monitor. Daar is ʼn gemengde gevoelens onder die jongspan wat om te doen as die katte met die wit tande sou kom: Loumari reken sy mik vir ʼn bakkie. Lian reken hy moet net voor nefie Stiaan in die tent kom, anders gaan Stiaan die tent toe zip met Lian buite 😊.
Die voël lewe om die kamp is iets besonders. Groot troppe Springbokke wei op die vlakte en Jakkels-kind is soos natuurlik altyd nuuskierig om die kamp.
Lourens stel voor ons begin vroeër met aandete dat ons nie te laat in die donker rond loop nie.
Soos ek die braaipie vir die laaste keer draai en almal laat weet hul kan maar nader staan vir aandete hoor ek Lourens se rustige stem.
“Wees rustig almal – hier is die leeus!”
ʼn Oomblik van gemengde gevoelens oorval my – eers begin dit met ʼn, uiteindelik maak hulle hul verskyning, en dan kort daarna is ek geïrriteerd met myself want ek het so gesukkel met die verdomde braaipie so moet ek die ding nou net op die vuur los om dalk verbrand te word, as ek vir ʼn tent moet mik…
Twee wyfieleeus verskyn deur die lang gras en kom tot stilstand terwyl hulle ons stip dophou. Dit is ’n ware “staredown” tussen ons en hulle – amper dieselfde gevoel as net voordat daar handsakke in ’n rugbywedstryd rondgeslinger word. Ons het dalk die getalle aan ons kant, maar hulle het die tande, so die twee het definitief die voordeel gehad. 😊
As gevolg van die populariteit van Mpaya, kon die span by Ultimate Routes nie vir ons ʼn tweede aand by Mpaya #2 kry nie, maar kon darem die Mpaya Reserve kry, wat regoorkant die watergat op die pan is.
Lian & Stiaan maak ʼn wesenlike fout toe hulle my met ʼn kortverhaal probeer oortuig hoekom hulle nie die skottelgoed die volgende oggend wil doen nie. Ek strip ʼn lekker size moer en laat val die alombekende woorde: “DIT IS FINE!”
Met die dat Pa nou die skottelgoed moet was, gaan julle twee alleen ons tent opslaan. Die oggend is koel en albei het langbroeke en baadjies aan, maar ná so 20 minute se gesukkel en energie is die langbroeke uit, die baadjies word eenkant gegooi en, toe hulle besef ek gaan nie help nie, gaan die liggie aan: Ons het ʼn k@k besluit geneem – ons moes maar net die skottelgoed gewas het. 😁

Ons ry ʼn lekker draai na die Khiding gebied en by Malatso pan vra Jean (wat op die stokke was) ʼn belangrike vraag, wat Lian onmiddellik laat regop sit het.
“Pa, hoeveel km’s is dit terug na Nossob?”
Die manier hoe die knaap die vraag my vra, laat my onmiddellik dink hy het reeds die somme gedoen. Ek trek die kaart nader en besef die km’s wat ons nog moet aflê en die range wat die bakkie sê nie ooreenstem nie.
“Manne, ons het dalk ʼn tegniese probleempie.”
“RETIG? WEER?”, kom die angs, bewerige stem van Lian van agter deur. Ek dink ons episode van 2021 toe ons dit wraggies amper nie uit Khutse gemaak het nie, lê nog vlak in die jongman se geheue.
Gelukkig onthou ek skielik ons het darem ʼn ekstra 20 liter jerry can diesel diep agter in die bakkie so ons sal veilig wees.
Ons sluit ons laaste aand by Mpaya af met een van die jongspan se gunsteling etes – swartpot chips en lekker fris steaks.
Die volgende oggend word alles dubbel en dwars op die dak vasgemaak, want die Mabuasehube Wilderness 4×4-roete wag vir ons. As dit enigsins soos die suidelike roete is, gaan ons lekker rondgeskud word!
Die Mabuasehube Wildernisroete is ‘n, 2-dag, 155 km enkelrigting 4×4-roete wat loop van die Mabuasehube-panne in Botswana na Nossob in Suid Afrika. Jy moet die nodige permit hê, en ʼn oornagstop by Mosomane-pan word vereis.
Plek-plek verdwyn die rooi Kalahari sand as gevolg van die geel knieë hoogte gras wat oor die twee-spoor pad hang. Die twee tieners, Jean & Loumari, is op die stokke van die bakkies.
Die pad was lank, maar iets besonders en alhoewel die haak & steek bos plek-plek die pad baie nou gemaak het, was daar nie so baie uitgeryde gate nie.
Vroegmiddag slaan ons vir die laaste keer kamp op langs die Mosomane-pan. Ons gaan die pan van naderby verken en trek daarna laer om die tafel vir die tweede-laaste speletjie van ons Kgalagadi-vakansiekompetisie.
Josua is steeds voor, maar Stiaan blaf sterk op sy hakke. Ek, aan die ander kant, het ongelukkig ’n bietjie probleme, aangesien ek tans in die laaste posisie sit. Net ’n wonderwerk of ʼn weerligstraal kan my nou red, maar daar wag darem nog een finale rondte by Molopo Lodge – so daar is steeds ’n liggie van hoop! 😁
Die volgende oggend is ons douvoordag aan die beweeg, want ʼn lang dan in die saal wag vir ons. Kamp word vir die laaste keer op geslaan en dan pak ons die tweede gedeelte van die Mabuasehube Wilderness 4×4-roete aan na Nossob.
By Nossob word die voertuie weer vol gemaak terwyl die kinders die beursies knak by die winkeltjie. Laat middag stop ons, lekker gatlam gery, by Molopo Lodge. ʼn Warm shower word geniet en dan bederf ons pa’s onself met ʼn yskoue draft.
Die groot oomblik breuk aan – met die dat die lodge vol is, en gaste van buite die Springbok toets by die lodge gaan kom kyk besluit ons op ʼn vroeër aandete en ook om die finale spyker op die kop te slaan rakende ons 2026 Kgalagadi-vakansiekompetisie.
Die kompetisie het intussen ’n lewe van sy eie begin kry soos die vakansie langer geraak het, en die een ding wat almal wil weet, is: wat kry die wenner, en wat moet die verloorder doen?
Na baie aande se lang besprekings om die vuur besluit ons: die verloorder moet tydens die finale groepete ’n nagereg by die lodge reël, en dan met ’n Sparkle voor al die gaste “Happy Birthday” vir die wenner sing. Natuurlik is dit nie die wenner se verjaarsdag nie – ons gaan bloot as groep ’n Spur-oomblik trek. Dit is ’n uiterste geheim, en niemand in die groep mag begin lag wanneer die verloorder begin sing nie.
Die finale speletjie is baie eenvoudig – daar gaan strooitjies getrek word. Die langste een gee jou 6 punte, en die kortste ’n volle 0. Omdat Josua voor is, moet hy die strooitjies hou. Ek, steeds laaste, moet eerste trek. Voor ek trek, loer ek oor my skouer en sien hoe die stoep- en bararea lekker vol begin raak. My karakter gaan ’n helse knak kry as ek vandag moet sing.
Almal trek – daar is stilte, en ’n wonderwerk vind plaas. Ek trek die langste en Loumari die kortste, wat my uit die laaste posisie skuif en die jong dame ongelukkig onder my laat eindig. As jy as meisie alleen saam met ses manne/seuns vir 14 dae reis, is hierdie ligte vrugte. Kort voor lank kom die jong dame singend “Happy Birthday” met ’n bakkie roomys en ’n Sparkle vir haar broer, Josua, wat die wenner van die reeks was.
En net so vinnig soos wat dit begin het, kom ons Kgalagadi Transfrontier Park toer tot ʼn einde.
Aan Lourens, Josua & Loumari: nog ʼn onvergeetlike avontuur saam met jul gesin. Dit was/is ʼn voorreg om hierdie oomblikke saam met julle te kon beleef het. Dankie vir als.
Vir die span by Ultimate Routes wat die administrasie rondom besprekings heeltemal van ons afneem – baie dankie weereens vir julle puik diens.

Aan my twee seuns, Jean en Lian & nefie Stiaan: soos altyd, wat ʼn voorreg om hierdie oomblikke saam met julle te kon beleef het. Lief vir julle drie jongmanne.
- Dag 1 – Noord Kaap, Fraserburg
CHECK - Dag 2 – Molopo Kalahari Lodge
CHECK - Dag 3 tot 4 – KTP, Rooiputs #1
CHECK - Dag 5 – KTP, Nossob
CHECK - Dag 6 tot 7 – KTP, Polentswa #2
CHECK - Dag 8 – KTP, Matopi #1
CHECK - Dag 9 tot 10 – KTP, Monamodi #1
CHECK - Dag 11 – KTP, Mpaya #2
CHECK - Dag 12 – KTP, Mpaya Reserve
CHECK - Dag 13 – KTP, Mosomane
CHECK - Dag 14 – Huis toe
CHECK
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Suide van die Kgalagadi Transfrontier Park.









[…] 3 Deur Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende August 3, […]
[…] Deel 3 – Leeus in die kamp en Mabuasehube Wilderness 4×4-roete […]