Einde van die jaar staan nader en binnekort gaan alles wat leef en beef skarrel om die laaste goedjies klaar te kry voor die jaar op sy gat geslaan gaan word. Paar van ons manne besluit voor hierdie chaos ons tref, dat ons moet ontsnap en bietjie die Overberg gaan verken.
Met die dat die res van die families nie saam reis nie, was dit ʼn gulde geleentheid om dit so minimalisties te hou en die tente word by die huis gelos.
Ons eerste stop vir die naweek is by die 1854 Restaurant in die dorpie wat ʼn uiters gewilde naweek- en vakansiebestemming vir besoekers is, Greyton.
Na ʼn yskoue draft is ons weer aan die beweeg en ons volgende stop sou Fish and more in Struisbaai wees, waar Jacques vir ons ʼn paar mooi Geelsterte uit gekies voor ons weer aan stoot na Brandfontein se duine is.
Sand/duine ry bly maar ʼn lekker belewenis en dit is iets wat, vir een of onverklaarbare rede, ons veels te min doen.
Na so paar draaie deur die duine kry Jacques vir ons ʼn lekker gat, en laer word getrek.
Kort voor lank brand ʼn lekker Kameeldoring vuur en elke man is gewapen met ʼn vuil Coke.
Die aand is windstil en na ʼn kookwater ete & paar koues trek die manne die stretchers reguit langs die voertuie. More is nog ‘n groot dag wat voorle.
Volgende oggend is ons gou eers terug Fish and more in Struisbaai vir koffie & ontbyt voor ons aanstoot na ons volgende stop, De Mond Natuurreservaat
Die speedo’s word af gestof (grappie😊) en gewapen met ʼn handdoek of twee is ons spannetjie al langs die Heuningsnesrivier tot by die see waar ons soos paar seekoeie afgekoel het in een van die poele.
Van De Mond word daar eers by Arniston gestop waar Jacques vir ons die Waenhuiskrans grot gaan wees het. Op ware Jacques wyse, word daar eers een van sy kort paaie na die grot gevat, maar die gety het ʼn stokkie voor daai plan gesteek en ons moes maar die regte paadjie wat groot en duidelik met bordjies aangedui is neem 😊.
Die grot is iets om te beleef en ek sal graag die seuns in die Nuwejaar dit wil gaan wys. Na ʼn vinnige roomys by een van die strande is ons konvooi weer aan die beweeg.
Ons tweede aand is by een van Jacques se vriende (Hans Jurie Uys) op hul plaas, want langs die Breërivier geleë is. Die visstokke is darem nie verniet saam gery nie.
By die Breede River Trading Post, wat net voor Malgas geleë is, word die laaste paar goedjies gekoop en ook ʼn paar koues geniet om darem die stof uit die monde te kry.
+/- 2km verder stop ons voor die Breërivier en wag ons beurt af om oor die rivier geneem te word met die nuwe ferry.
Uiteindelik by Hans Jurie Uys se plaas aan gekom volg ons die jeeptrack tot ons die plekkie langs die rivier kry.
Lourens het nie op hom laat wat nie en kort voor lank is sy stokke in die water.
Soos die vorige aand is ons weer geseënd met ʼn windlose aand. Ou Frans was op kosmaak diens en soos altyd was dit uit die boonste rakke.
Volgende oggend is dit ongelukkig tyd om die voertuie se neuse Wellington toe te draai, maar niemand is haastig nie en daar word besluit om eers ʼn vinnige ontbyt te gaan geniet by Spasie Restaurant in Witsand.
Was ook lekker om ou Hannes van der Merwe van VenventureSA en die ander manne van Alublack Outdoor & Infanta4x4 daar raak te loop en na een van hul nuutste LC79 projekte te kyk.
By Stormsvlei draai ons regs en ry Bonnievale mis op pad Robertson toe. Met nog heelwat vleis in die yskaste word daar besluit ons moet ʼn plekkie kry waar ons darem nog ʼn laaste keer kan vuur aan steek.
Ek weet van die perfekte plek en gee vir ou Krummel (Reinhardt Malherbe) ʼn luidjie om te hoor of ons nie dalk daar by hul familie swemgat kan gaan braai nie. Sy swaar, Gerrie van Zyl, se plaas is net so paar km buite Worcester en op ons pad terug huis toe.
Gerrie en sy twee sware sluit by ons aan terwyl vuur aangesteek word en hul kinders die geleentheid gebruik om bietjie te swem.
Manne, baie dankie vir ʼn top naweek. 2023 gaan ʼn grote wees en daar wag nog vele avonture vir ons. Kom ons maak elkeen tel.
Kliek hier vir ‘n paar foto’s van hierdie lekker boskamp naweek.
[…] om te glo dat ons klomp vriende, bietjie minder as ʼn jaar laas saam gekamp het. Genade, wat het van die jaar geword. Ons sal hierdie situasie duidelik moet aanspreek by die […]
[…] jaar het ons die Overberg lekker verken, maar die keer het ons die voertuie se neuse Noord-Wes gedruk. Jacques het te hore […]