Merweville is ʼn Karoo dorpie so 45km Noordwes van Prins Albert en as jy enige iemand sal vra of hul al van die dorpie gehoor het, sal meeste eers Google raadpleeg om te sien waar die plekkie presies sit.
Wel +/- 13 jaar gelede was ek en ʼn paar vriende (van Willeklong verlede) deel van daai lysie en het ons vir een of ander onverklaarbare rede opgeëindig op Merweville. Dit was maar net nog ʼn dorpie op ʼn kaart waar ons nog nie was nie, en dit was genoeg van ʼn rede om te gaan kyk. Lees meer gerus oor daai avontuur.
Ok, nou dat daar so klein bietjie van ʼn agtergrond geskep is, kom ons spring voete eerste in hierdie avontuur. So skiet Boerbok ʼn boodskap dat hy ʼn voertuig in die Oos-Kaap moet gaan haal vanuit JHB, maar hy is lus vir ʼn draai ry en dit sal lekker wees as al ons brakke weer om ʼn vuur kan sit tussen êrens & nêrens. Terselfdetyd het Rickster, nog ʼn maat van ons, na 4 jaar in Malta, teruggekeer SA toe en hy hunker ook na die Afrika son en stof. Wel, daai is mos twee groot redes om die bakkies se neuse Noord te draai!
Kaart word nader getrek en daar staan Merweville groot uit, soos ʼn geel puisie op jou voorkop. Net soos die lot dit wil hê, het ek net die week voor dit ʼn dametjie (Chucky) ontmoet by vriende wie se ouers op die dorp woon en die het aangebied as ons ooit weer soontoe gaan moet ek laat weet en sy sal my in kontak sit met mense daar vir akkommodasie.
Aand 1 is vas en soos my vingers op die kaart rondhardloop spring Blesfontein uit. Ek was so paar jaar gelede vlugtig daar saam met vriende en het altyd gedink ek wil teruggaan, en siedaar aand 2 is ook vas.
Vrydag laatmiddag en almal is uiteindelik in Merweville. Blad word geskud en die kinders is reguit plaasdam toe om van die hitte te ontsnap.
Ons spannetjie vir die vinnige naweek wegbreek het soos volg gelyk:
- Ek en my twee seuns, Jean & Lian
- Ricky
- Boerbok
- Marnus en sy seuns, Marthinus & Ulrich
Na ʼn vinnige draai deur die dorp en die ergste hitte wat darem bedaar het, word die vuur aangesteek en die eerste vuil Coke proe soos heuning oor die tong. Stories van 13 jaar gelede word herleef toe ons donkiekar gery het op Merweville en daai tyd by die Springbok Lodge oornag het.
Hoe laer die son sak in die verte hoe meer word die lug bo ons ingekleur met verskillende skakerings van rooi en oranje. Kinders hardloop in die verte agter ʼn remote control kar, roosters is vol vleis, glase is vol en jy voel hoe die rustigheid jou oorval.
Saterdagoggend en ons is vroeg aan die beweeg. Vandag gaan warm wees en almal is bewus daarvan, so na ʼn vinnige koffie en beskuit kruip ons rustig deur die dorp tot by Die Boekklub Restaurant (wat ek later sou hoor is waar die bekende KykNet TV reeks geskiet is).
Die kinders is soos miere om die tafel en wil heeltyd buite wees, maar die son klap hulle van albei kante as hul onder die stoep se skaduwee uit beweeg, en dan is hul weer om die tafel. Die jong klomp word na die winkel om die hoek (Die Merweville Mall) gestuur met ʼn paar Rand en die opdrag is eenvoudig: vra vir Chappies. ‘n Paar minute later is die spannetjie terug met ʼn sak kakebeen brekers. Intussen het Boerbok ook ʼn besoek daar gaan maak en vir elk van die jong span ʼn tol in die hand gestop.
Skielik moet daar geleer word hoe om ʼn tol te gooi en dan, meer belangrik, hoe om een te gooi sonder om dit deur ʼn venster te laat gaan.
Teen die tyd het die son die wêreld lekker gepak en op een stadium het Boerbok se voertuig genoem dit is 47 grade.
Van Merweville volg ons die grondpad tot ons die R354 kry waar ons dan regs draai en eers ʼn vinnige draai gaan ry in Sutherland. Petrol word ingegooi en die laaste proviand word gekry voor ons weer terug op die R354 klim. ‘n Paar kilometers buite die dorp kry ons die Blesfontein bordjie en draai dan regs op die grondpad.
Uiteindelik by Blesfontein en die erge hitte is iets van die verlede, maar dit stop nie die manne om eers hul groot sement plaasdam te betree nie. Die dam, gevul met visse, is iets om te beleef, want in die middel is ʼn sement platform van waar jy kan op klim en dan in enige rigting kan spring.
Die son het stadig begin sak in die Weste en dit was tyd om die manne die ongelooflike platorand te gaan wys. Teen die tyd het die wind effe begin optel en na ʼn paar asemrowende uitsigte oor die Tankwa Karoo het ons besluit dit is tyd om vuur te gaan aansteek.
Die lot kinders is weer die vlakte in en terwyl die vuur knetter hoor jy hulle lag en speel in die verte. Kort voor lank en die pa’s en ooms besluit dit is tyd om die jong knape te wys hoe om tol te gooi en aai aai, die vaardigheid was maar min.
Sondagoggend en Boerbok slaan ʼn groot ontbyt vir al die manne aanmekaar. Die groot seun moes in die pad val want hy het nog so 650 kilometer gehad om deur te draf voor hy by sy familie weer is. Ons betree die plaasdam nog ʼn laaste keer en dan val ons ook in die pad terug Suide toe.
Manne dit was ʼn voorreg en wraggies lekker om weer om ʼn vuur met jul in die Karoo te sit. Dit is tyd om die volgende een weer vas te maak, so kom ons praat!
Aan my twee seuns, Jean & Lian: seuns elke klein plekkie in ons mooi land het ʼn ander mooiheid, maar meer belangrik is die rede hoekom pa julle na wildvreemde of verlate plekke neem: ek wil julle die rustigheid en ongelooflike sonsondergange laat beleef. Ja, as jul hierdie lees is jul al ouer, sal julle seker net kopskud en onderlangs lag, want toe julle 10 en 6 jaar oud was, was sonsondergange en rustigheid die laaste ding wat jul op ʼn naweek wou doen haha!
En laaste rede is, hoe ouer jul raak hoe groter rol gaan tegnologie in jul lewens speel, so sal ek jul na meer en meer verlate plekke neem waar daar nie sein is nie – dus kan jul nie vir my kwaad wees as die verdomde goed nie werk nie. Om tyd te spandeer met tegnologie is die maklike roete, maar om te reis in die stof en wind as dit nog 47 grade buite is, is iets wat ek glo en vertrou jul langer sal onthou as ʼn Minecraft speletjie.
Kliek hier vir ʼn paar fotos & video grepe van die reis saam met die seuns & vriende.
Lekker kuier boys; daai ontbyt by Boekklub was darem maar wenner….
Kan osn try uitfigure wie Sandra is?
Is dit nie daai ou tannie op Sutherland wat vir Rickster gewaai het nie 🤔😂
Watse een ??
Wow jou laaste twee paragrawe het sommer die trane vlak laat lê, want ek en jy kan getuig van ouers wat betrokke was in ons lewens van krieket speel elke middag in die agterplaaas tot met elke game langs die rugby veld gestaan het en al het ons altyd gemoun ons wou ook die goeters hê wat die ander gehad het, besef ons vandag ons was eintlik die ryk kinders. Ryk aan aandag, liefde en beskerming en dus al wat tel op die einde. Ek dink nie daar is ‘n kleinsus wat trotser kan wees op ‘n broer as ek en eendag gaan jou seuns met net soveel trots oor jou praat.
Great naweek terug gewees!, amazing die onbekende en verlate plekke wat mens kan vind in the land minder as 3 ure se ry van mens se voordeur af, …in plaas daarvan om jou naweek te beplan rondom “wat is daar op Netflix wat ek nog nie gesien het nie”
Regte egte bier sou ook nice wees…
[…] boskamp naweek nou amptelik begin het. Ek het nie so lank terug hierdie einste grondpad saam met ʼn paar ander manne gery en dit was lekker om terug in hierdie wêreld te […]