Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Klein Karoo kuier…soms chaos

Karoo kuier

Sover is hierdie een van daai gat-oor-kop jare en dit voel byna of ons nie by alles uit kom nie. Vir een of ander rede het die seuns nog nie hul ouma-grootjie in Oudtshoorn gaan besoek nie en dus moes daar sommer gou ʼn plan gemaak word, want ons is reeds aan die gatkant van die jaar en dan raak die naweke sommer baie vinnig min.

Die ou dame staan al aan die ander kant van 90 en dit is belangrik dat die jong knape tyd met haar spandeer.

Terselfdetyd het ek en die seuns ook nog nie ʼn manne naweek gehad nie, so hoekom nie twee vlieë plat klap met een hou nie?

Met die dat Marli nie saam reis nie, sny ons +/- 50% van die nodige goed om saam te ry – grappie. Maar nee, ons het wel besluit om met net die nodigste te reis en dus is daar besluit op die pop-up tent en net die nodigste, belangrikste kamptoerusting.

Van Wellington volg ons die N1 tot by Laingsburg waar ons dan regs draai en die R323 volg (+/- 48km) tot by Porcupine Rest Camp. Was nog net een keer vantevore hier op pad na Amber Lagoon, maar toe was hul vol bespreek, dus het ek ‘n punt daarvan gemaak dat wanneer die geleentheid daar gaan wees wil ek graag hier kom kamp.

Was lekker om Joy & Francois weer te sien en soos verwag was die tent skaars op toe is die seuns reguit swembad toe.

Klein Karoo kuier

Laatmiddag, terug by ons kamp, het Jean vir ons pizza op die vuur gemaak terwyl ek aan ʼn koue bier of twee teug.

Saterdagoggend en die knape is sommer vroeg woelig. Ons het ʼn besige dag wat voorlê en wil darem nie te laat by ons kamp vir die aand uit kom nie.

Klein Karoo kuier

Pap, koffie & beskuit word geniet en dan is die 80 Series weer aan die beweeg. By die ingang van Porcupine besluit ek dit sal ʼn goeie plan wees om ʼn kiekie te neem met hulle bord in die agtergrond.

Ek stop ou Tigger (ons 80 Series Land Cruiser) langs die bord en almal spring uit. Terwyl ek op die grond lê om die tripod reg te kry vir die foto breek daar ʼn verdomde WWE geveg tussen daai jong knape uit bo-op my dakrak.

Klein Karoo kuier

Terwyl ek daar in die grondpad lê bewonder ek eers die twee wat dapper genoeg is om +/- 2 meter hoog van die grond af mekaar te takel, want as een gaan val is dit vêr grond toe. Skielik besef ek dat dit nie gaan deug met Marli nie en sy gaan hoogs befoeterd wees as ons tuis kom met gebreekte ledemate.

Ek vlieg op van bef@ktheid, want dit is skaars 7h30 en ons het skaars 500m gery en die twee is klaar in mekaar se hare. Dit is tyd om die plakkie te aktiveer en die twee knape gou te ‘reset’.

Met die besef die twee knape alle hel is nou los en vir een onverklaarbare wonderwerk begin daai twee skielik saamwerk. Nes ek om die voertuig beweeg dan skarrel hul in die teenoorgestelde rigting. Nou raak dit ʼn kat & muis speletjie en hoe langer ek sukkel hoe meer &#$*#&$@ raak ek.

Ek besluit genoeg is genoeg en toe ek agter die voertuig kom klim ek op. Ek was skaars bo toe spring daai klein wetters voor af op die bonnet en toe na die grond en skater in verskillende rigtings. Teen die tyd is ek op die dakrak met ʼn helse sooibrand.

Nou is ek befoeterd, sonder asem van die bleddy oefening en dan om alles te kroon nog sooibrand ook.

Die een staan in die bosse langs die pad en die ander een so 150m+ af teen die pad. Hoe nou gemaak? Ek besluit ek is wragtig nie lus om nou agter hul aan te hardloop nie en maak ʼn deal dat ek die plakkie sal bêre, maar dat die nonsens nou klaar is, want die volgende keer gaan ek my nie so laat vang nie.

Ek dink nie een van hulle wou padlangs stap terug Laingsburg toe nie en al 3 van ons is na +/- 10min se stukkie chaos terug in die voertuig.

By Calitzdorp gaan besoek ons eers vir ʼn ou vriend, Mac van der Merwe, van Willeklong se dae by die Bosvarkie en dan is ons weer aan die beweeg Oudtshoorn toe.

Klein Karoo kuier

Na die nodige familiebesoeke afgehandel is, vat ons die N12 De Rust toe. +/-20km uit Oudtshoorn draai ons regs by die Dysselsdorp bordjie en volg die pad (verander na grond na so paar kilometers) tot ons die plaas Koutie kry.

Hier op die plaas Koutie (waar my pa grootgeword het), staan beide my ouers se gedenkstene in ʼn ou bees klipkraal wat my pa en sy broers gebou het as kinders.

Klein Karoo kuier

Die seuns geniet dit elke keer om te gaan kuier in die ou beeskraal. Die stene word nagegaan en daar word seker gemaak hul staan nog vas, die seuns doen elk ʼn gebed en dan is ons weer aan die beweeg.

Terug op die N12 draai ons regs so 6km voor De Rust by die bordjie Middelplaas.

Vanaand kamp ons by The Travelling Tortoise. Die wêreld is warm en die Cruiser het skaars gestop toe is die seuns sommer so met hul kortbroeke die water in. Daar was nie eers tyd vir swembroek aantrek nie. Ek natuurlik het die volwasse ding gedoen en eers vir my ʼn koue bier uitgehaal en toe hul gejoin.

Laatmiddag word die vuur aangesteek terwyl die kinders die res van die plek verken. As hul terug is dan is dit reguit water toe – 10 minute later is hul weer uit en die verkenning gaan voort.

Klein Karoo kuier

Na ete is die knape tent toe terwyl ek rustig verkeer met ʼn koppie koffie en die rustigheid van die Karoo geniet.

Sondagoggend en ons is so net na 8am weer aan die beweeg. Die knape het nog nie deur Meiringspoort gery nie, dus is die pad terug huis toe vir ons sommer opgemaak.

Laatmiddag en Marli se seuns is veilig tuis. Elke keer as ek saam met die seuns reis leer ek iets van myself en so ook hulle. Ons het soms ons hiccups, maar meeste van die tyd is dit goeie fun saam met die knape.

Baie bevoorreg.

Kliek hier vir ‘n paar fotos van ons kort naweek avontuur.

Related Posts

Comments (3)

Always good to see you and the boys. Next time you’ll need to stay an extra day 😉

Thanks for you and your boys for your visit all be it fleeting.
go well,
Jeff.

Leave a comment