Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Ceres Karoo Toer

Blog Main Image Template

Voor ons ons oë kon knip was dit weer skool vakansie en tyd om die seuns uit die huis te kry.

Met die dat dit Jean se verjaarsdag, Vrydag 7 April was, het ons besluit ons moet teen Donderdag se kant terug by die huis wees sodat ons darem die knaap op sy verjaarsdag kan verras met sy geskenk.

Dit het ons dus met 4 dae/3 nagte gelaat om die 80 Series se bene bietjie te gaan rek en van selfoon sein te ontsnap.

Maandag laat oggend, 3 April, en die hek gly agter ons gatte toe soos ons die huis verlaat. Met ons hele gesin wat so effe sukkel met “motion sickness” en nie kans sien vir Bainskloof se draaie nie klim ons op die R46 Ceres toe via Gouda.

+/- 16km buite Ceres op die R46 draai ons regs by die Bo-Swaarmoed bord en volg die pad tot ons by die hek van die Matroosberg Natuur Reservaat kom.

By hulle Dennebos kamp aangekom en die seuns skiet in alle rigtings op ʼn bos verkenning. Kamp word op geslaan en die vuur aangesteek. Niks so spesiaal soos om te sien hoe die kinders die natuur geniet nie.

Ceres Karoo 2017 Toer

Volgende oggend (Dinsdag 4 April) en die seuns se opgewondenheid is sommer van vroeg sigbaar met die dat hul weet vandag ry ons na die volgende plek. ʼn Nuwe kamp, ʼn nuwe verkenning, ʼn nuwe belewenis…

Koffie en beskuit word geniet voor kamp op geslaan word. Van hier skiet ons terug Ceres se kant toe waar ons dan regs draai en die R303 vat tot by die klein dorpie, Op-die-Berg. By die Ceres Karoo/Cederberge bord draai ons regs en volg die pad vir 25km waar ons dan regs draai by die Kagga-Kamma teken. 20km verder op die grondpad draai ons links by die Kagga-Kamma bord en dan is dit ʼn verdere 15km tot by die hek.

Ceres Karoo 2017 Toer

Hul Bobbejaanskrans kamp kan net bereik word met ʼn 4×4. Dit is ʼn pure boskamp met geen fasiliteite nie – perfek om te ontsnap van die lewe se gejaag en geraas. Dit was die tweede keer wat die seuns hier was so onmiddellik was hulle in hul tweede element. Elke bos en klip word verken terwyl ek en Marli kamp opslaan.

Ceres Karoo 2017 Toer

Die stilte en skoonheid van die natuur is onbeskryflik en iets wat beleef moet word. Met geen fasiliteite nie, was dit maar ʼn uitdaging vir ma om haar twee leeuwelpies soort van skoon te kry vir bed die aand.

Ceres Karoo 2017 Toer

Woensdagoggend, 5 April en ons word gegroet met ʼn koue oggend briesie. Koffie/beskuite (ouers) + pap (kinders) word sommer in die tent geniet voor die oppak begin word.

Uit by die hekke en na so 15km is ons terug by die T-aansluiting. Die keer draai ons links en volg die grondpad tot ons by die R355 kom waar ons links draai en die groot grondpad vir so +/- 70km volg. By die Stonehenge + Tyre Shop bordjies draai ons regs. Twee hekke later en ons is by ons 3rde bestemming vir die trippie.

Ceres Karoo 2017 Toer

Stonehenge of Tankwa Tented Camp lyk soos ʼn uittreksel uit een van die Mad Max films. Dit is ʼn regte eye-opener en dalk nie vir enige iemand nie. Dit is ook die tuiste van die jaarlikse AfricaBurn waar duisende mense stroom om groot hout strukture te brand.

Was gelukkig om te sien hoe van die hout strukture gebou word toe ons ʼn draai gaan ry het by die burn site. Marli se mond het natuurlik oop gehang van ongeloof haha.

Ceres Karoo 2017 Toer

Stonehenge spog oom met een van die bekende bos kroeë in die Karoo – Onverklaarbar.

Ceres Karoo 2017 Toer

Jaco en sy manne het vir ons ʼn lekker rib met pap en sous voorberei terwyl ek en Marli teeg aan ʼn koue Gin & Tonic terwyl ons die sonsondergang geniet.

Ceres Karoo 2017 Toer

Na ʼn vinnige besoek aan van die metaal strukture is dit terug na die kroeg waar daar lekker om die vuur die aand gekuier was.

Ceres Karoo 2017 Toer

So net na 11pm en die wind begin stoot van alle kante. Die Cruiser wieg liggies soos die wind die daktent druk & pluk. Kinders weet van niks en snork ʼn hond uit ʼn bos – ek en Marli word gereeld wakker geskrik as ʼn groot ruk wind teen ons tent druk.

Donderdagoggend, 6 April, en daar is geen sprake van die vorige aand se wind nie. Jaco en sy manne word gegroet en ons is weer op die R355 grondpad Ceres se kant toe.

By die Tankwa Padstal word daar gestop vir middagete voor ons weer aanstoot huiswaarts.

Donderdag vroegmiddag en ons suiker Wellington binne. Lian word wakker en met die gewaar dat ons tuis is, begin die knaap sy ontevredenheid duidelik maak dat hy nog nie reg is vir huis toe gaan nie en dat daar nog gekamp moet word haha.

Net weereens besef mens hoef nie duisende km’s te ry om te ontsnap van die dag-tot-dag se gejaag nie. As jy mooi kyk sal jy ʼn avontuur om die draai kry.

Altyd ʼn voorreg om met die familie plekke in ons mooi land te gaan verken.

Kliek hier vir paar kiekies van die trippie.

Related Posts

Comments (3)

Hi Henry. Altyd lekker om jou stories te lees. Lyk of daar nogsteeds niemand by die Tradisionele Kamp kamp nie? Het selwers al daar in baie koue en nat weer stoksiel alleen gekamp vir ‘n paasnaweek.

Yes Martin. Dankie vir die inloer. Was ook stoksiel alleen die keer en het dit nogals geniet om so alleen te wees. Gelukkig was ons weer darem beter as julle sin 🙂

[…] hoe die plek lyk nie, behalwe die paar kiekies wat ek met hul gedeel het van my vorige besoeke aan Bobbejaanskrans, so dit was lekker om almal se reaksies te […]

Leave a comment