Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

‘n Draai deur die Weskus & Cederberge

Wekus

Dit was tyd om die jaar op sy gat te stamp, maar voor ons almal in verskillende rigtings infoeter moes ʼn tradisie voortgesit word. Ons moet ín ʼn rigting skiet met min tot geen idee waar ons gaan eindig nie. Geen tente, so nee jy mag nie jou sussie se tent saam bring nie. Geen kos, ons koop soos ons reis.

Verlede jaar het ons die Overberg lekker verken, maar die jaar het ons die voertuie se neuse Noord-Wes gedruk. Jacques het te hore gekom van ʼn plekkie teen die Weskus, so met hierdie bestemmingspunt vir aand 1 het ons in die pad geval.

ʼn Vinnige koffie word geniet by Morale Coffee voor ons aanstoot Riebeek-Kasteel toe waar proviand aangeskaf sou word by die nuwe, BAIE GROTER, Delico.

Was lekker om weer blad te skud met Hendri Truter en te sien hoe groot hierdie familie besigheid ontwikkel het. Sy passie en positiwiteit is altyd iets wat uitstaan as jy met die man gesels.

Terug op die pad en dit is elke man in sy voertuig met sy eie gedagtes, as daar nie nonsens gepraat word op die radio’s nie.

Ons trek die voertuie se neuse Weskus toe en by Velddrif stop ons in Bokkomlaan by Ek & Djy Vissery. Na ʼn paar lekker Bokkoms stoot ons weer aan.

In Elandsbaai, voor ons regs draai op die spoorwegpad, word daar besluit om die manne die hotel te gaan wys. Laaste keer wat ek in die einste hotel was, was toe ek en die seuns in 2022 oppad Noup toe was.

Exploring the West Coast & Cederberge

Na ʼn koue dingetjie vir die keel skiet ons gou deur na die tannie, waar ons die heksleutel kry en kort voor lank is ons by ons 1ste bestemming van hierdie kort wegbreek.

Soos ons stop, stap ʼn oom op ons af en blad word geskud. Hy en die tannie kamp so ent verder, maar hy wil net onder ons aandag bring dat so rukkie terug ʼn moerse pofadder hier deur is en hy wys hoeka nogals in die rigting waar ons wil staan vir die aand.

Of die oom ons net geterg het, weet ek nie, maar my mens ek en slange (veral Pofadders) het nie ʼn “connection” nie. Ek gaan hom nie pla nie, en hy moet my nie pla nie ASSEBLIEF. Die onderbroek is nog skoon, maar ek kan niks belowe as ek daai fris knaap gaan raak loop nie, maar toe die eerste brannas en vuil Coke val toe is die angs gedemper… soort van.

Oom Dirk (Viljoen) kom maak later die aand ʼn draai en ons manne sit lekker om die vuur en vertel stories tot laat terwyl ʼn skaap ribbetjie op die kant van die vuur staan.

Exploring the West Coast & Cederberge

Volgende oggend en die span word stuk-stuk wakker. Ek het so dood geruk dat, wie ook al gesnork het, ek niks gehoor het nie.

Terwyl die ketel sy staanplek kry, word daar opgepak en reg gemaak om weer in die pad te val.

Exploring the West Coast & Cederberge

Ons beweeg verder Noord en by Lambertsbaai word die voertuie vol gemaak, waarna ons Isabella’s Restaurant toe is vir ontbyt.

Die padkaart word nader getrek en die manne begin na opsies kyk waar ons moontlik wil eindig vir die aand. Met die dat ons nou ʼn stuk al langs die Weskus gery het word daar besluit om ʼn draai deur die Cederberge te ry en te kyk waar ons eindig.

Ons besoek die klein dorpie van Wupperthal en alhoewel meeste van die huisies al herstel is na die verwoestende brande, is die vloed skade van vroeër die jaar nog baie sigbaar.

Aan die voet van Eselbank Pas word middagete geniet voor ons aanbeweeg na die waterval by Eselbank.

Exploring the West Coast & Cederberge

ʼn Ernstige dors ontaard onder die manne en by Cederberg Oasis besluit ons om die “honesty bar” te gaan ondersteun. Terwyl ons teug aan ietsie kouds word daar besluit ons gaan mik vir Mount Ceder en as ons daar kom, en hul is vol, dan besluit ons verder.

Maar soos ons oor die Brandkraak rivier ry, wys ʼn bordjie “Nuwerust Cederberge” na links. Nie een van ons manne was al daar nie, so ons om te gaan loer.

Tot ons verbasing het hul ʼn groot kampterrein wat heeltemal leeg is, so dit pas ons perfek. Ons voertuie trek weer laer en kort voor lank is daar ʼn lekker vuur en nie te ver agter hom, so paar vuil Coke’s.

Exploring the West Coast & Cederberge

Soos die vorige aand word die stretchers langs die voertuie staangemaak en dan is dit ligte uit.

Die volgende oggend is dit die gewone roetine: koffie, beskuit, lag oor die vorige aand, oppak en dan is ons weer op die pad.

By Harvey Table Bistro stop ons vir middagete en dan is dit huiswaarts.

So, as jy nog tot hier gelees het, dan WELGEDAAN 😊 en dankie dat jy saam gereis het. Tot ʼn volgende keer manne.

Kliek hier vir ‘n paar foto’s van ons naweek.

Exploring the West Coast & Cederberge

Related Posts

Leave a comment