Skip to main content Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Wupperthal66 – sy mense & okerkleurige valleie, berge en klowe

Wupperthal66

Vat die tyd en vra jou vriende of hulle al gehoor het van die kleurvolle gemeenskap, Wupperthal, in die Cederberge… Soos per ons besoek vroeër hierdie jaar, het ek ʼn gedeelte van die area en gemeenskap ontdek wat ek dink die man op die straat nie van bewus is nie.

Met my volgende besoek het ek die Cruiser verruil vir ʼn paar stapskoene. Ek en 19 ander stappers pak die Wupperthal66 aan wat ʼn vierdaagse, “slack pack” staptog is wat oor ongeveer 66 kilometer in die pragtige Sederberge strek.

Wupperthal66 Hike

Ons stap avontuur begin naby die buitepos Heuningvlei by Drakie kamp, waar ons ons gidse, Werner en oom Gert, en logistieke spanmaat, Nina ontmoet. Ons elkeen word ʼn tent geallokeer en ontvang ons LTJ duffelsak waarin al ons persoonlike goed vir die volgende 4 dae moet kom.

Na ʼn verwelkomingsdrankie saam met die hele span, verduidelik Werner wat die volgende paar dae vir ons voorlê. Die aand word daar lekker om om die vuur ontspan en terwyl ons mekaar leer ken.

Wupperthal66 Hike

Dag 1 – 18km :

Na ontbyt en ʼn vinnige groep foto verlaat ons Drakie kamp onder leiding van oom Gert. Ons eerste stop is by die buitepos, Grasvlei, waar ons tannie Mollie ontmoet. Die einste tannie, wat die vorige aand ons aan die gons gehad het met haar kookwater asbrood!

Wupperthal66 Hike

Ons volg die kronkelende grondpad deur die klowe en buiteposte soos Agterstevlei, tot ons by Kleinvlei kom, waar die skoene uitgeskop word en almal middagete geniet.

Die gedeelte na Kleinvlei is opdraand en, alhoewel, nie baie styl nie, is dit aanhoudend, so wat ʼn lekker verrassing was dit nie toe ons ingewag word deur een van ons logistieke spanlede met ʼn coolerbox vol koue biere en koeldrankies! Luister, bier het lanklaas so lekker geproe!

Ons loop deur die strate van die buitepos, Eselbank, tot by die waterval waar ‘n paar van ons van die geleentheid gebruik maak om sommer ʼn vinnige swem te geniet voor ons die laaste kilometers aanpak na ons kamp, op die kant van ʼn krans geleë, wat uitkyk oor die waterval.

Wupperthal66 Hike

Ek het nog nooit ʼn “slack-pack” staproete aangepak nie en my mens, hoe gerieflik is dit nie as jy by jou kamp kom en jou tent staan reeds reg vir jou nie! Jy kan net gaan sit, ‘n koue bier, of koffie, geniet en oor die dag se stap gesels.

Dag 2 – 18km :

Vandag se roete vat ons deur die hartjie van Eselbank. Die mense is vriendelik en orals word daar vriendelik gewaai. Gert dui aan hy wil ons iets spesiaal gaan wys en versoek dat ons die paar kilometer daarna in stilte moet doen. Skielik word ons oorval met ongelooflike mooi rotsformasies en ‘n grot.

Wupperthal66 Hike

Na ʼn paar kiekies is ons weer aan die beweeg, al teen die plato. Ons loop ons vas teen ʼn vallei en dan dui Gert aan dat ons hier gaan afsak tot by die buitepos, Martiensrus, waar tannie Millie ons vriendelike verwelkom.

Middagete word onder ʼn boom geniet terwyl oom Japie se hond ons kom vermaak het.

Wupperthal66 Hike

Ons kamp die aand op die oewer van die Eselbankrivier by die buitepos, Onder Martiensrus. Gewapen met “ietsie” koud in die hand gaan sit so paar van ons in die middel van die rivier en gesels lekker oor die dag se stap.

Ons sluit die dag af met ʼn spesiale vertoning van die Rieldansers en my vriend, dit was nou iets spesiaals gewees!

Wupperthal66 Hike

Dag 3 – 15km :

Word wakker die oggend met ʼn byt in die lug. Soos ek teug aan my koffie kry ons die nuus dat daar sprake is van moontlike ligte reën tydens ons stap vandag.  Gewapen met reënbaadjies groet ons Onder Martiensrus en volg die pad, al langs die Eselbankrivier.

So derde in ons stap in, vat ons ʼn skerp regs en dan is dit net berge voor ons. My siel wil my verlaat, want ek weet wat gaan kom. Vir die volgende 5 kilometer beweeg ons al teen die hange van die berg op. Kort-kort stop Gert die groep dat almal kan asemhaal en dan lei hy weer van voor.

My oog vang ʼn “strepie” so op my 10 uur teen die helling van die berg en ek dink by myself: “Ons gaan seker nie daar uit nie…”

Wupperthal66 Hike

So kilometer of 2 later stop ons aan die voet van daai “strepie”, aka Johnny se Poort. Dit is ʼn gedeelte wat reguit opgaan en dan is daar ʼn draai na links wat jou uitspoeg bo-op die plato. Soos enige stapper vir jou sal sê, vat dit net stadig, tree-vir-tree en voor jy jou sal kry is jy bo.

Bo-op die plato kry ons die misreën en wind van voor. Die uitsig oor die vallei aan ons linkerkant is prentjiemooi en dit voel of ons in die Drakensberge stap.

Ons laaste kamp van hierdie avontuur is by Vaalheuning, waar ʼn warm koppie hot chocolate nog nooit so lekker geproe het nie! Alhoewel die reën en wind iets van die verlede was, en ons geseënd was met ʼn mooi aand, het die koue neergesak op ons daai aand.

Wupperthal66 Hike

Dag 4 – 12km :

Die laaste dag van hierdie onvergeetlike stapavontuur breek aan. Die son is uit en dit is ʼn prentjiemooi dag. Die eerste gedeelte van die roete is plek-plek sanderig. Kort voor lank is ons oor die kruin en begin ons afsak na Wupperthal, wat mens in die verte al kan sien.

Wupperthal66 Hike

Ons stap verby die buitepos, Beukeskraal, dan deur Langbome waar die stap-bruggie jou oor die Tra-Tra Rivier neem. Aan die ander kant wag Barend Salomo (Burgermeester) met ʼn groot glimlag en ʼn sagte handdruk.

Wupperthal66 Hike

Hy stap saam met ons deur die strate van Wupperthal en vertel ons van die dorpie se diep geskiedenis asook die hartseer tye (2018 se brand en 2023 se vloed).

Ons volg die pad deur die Bloekombome tot teen die wit geboutjie, Die Morawiese Kerk. Ons stap die kerkie in met die musiek van ʼn blaasorkes en mens word oorval met ʼn emosie van dankbaarheid en waardering.

ʼn Glasie vonkelwyn word geniet voor daar gegroet word en elkeen in sy eie rigting gaan. ‘n Groot dankie aan die span van Live The Journey vir al die harde werk en awesome herinneringe. Vir meer inligting oor hierdie staproete, Wupperthal66.

Kliek hier vir paar kiekies van hierdie ondervinding, die Wupperthal66 staproete.

Wupperthal66 Hike

Related Posts

Comments (1)

[…] The Journey bied twee staproetes, die Wupperthal66 en Wupperthal100, in die omgewing aan en ons manne het ‘n uitnodiging ontvang om by 3 van die […]

Leave a comment