Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Groenrivier lighuis & Waterval se Skuimgat

Weskus(7)_02

Ons kuier by Agama Tented Camp het ongelukkig tot ‘n einde gekom (lees gerus meer oor ons kuier hier), en ons het die tweede been van ons vakansie begin.

Van Agama beweeg ons terug na Garies, waar die nodige brandstof aangevul word voor ons op die grondpad klim Groenriviermond Lighuis toe. Beide seuns was al vantevore by hierdie bekende lighuis aan die Weskus en dit was ʼn voorreg, diè dat hulle nou bietjie ouer is, om weer daai mooi kusstrook van Suid Afrika vir hulle te wys.

Lees gerus meer oor ons vorige besoeke aan die Weskus hier & hier.

Camping at Groenriviermond Lighthouse

By Groenriviermond, kry ons gou eers ons permit by SANParke kantoor, voor ons gaan kamp opslaan naby die lighuis. Daar is ʼn ligte seebries, maar vir beter weer kon ons nie gevra het nie. 

Lian is soos oudergewoonte doenig met die kamp yskas en al die lekker dinge daarbinne, terwyl ek en Jean in ʼn ernstige skaak wedstryd betrokke was. 

Camping at Groenriviermond Lighthouse

Ons manne gaan verken die lighuis van nader en dan word die Boule balle uitgehaal. Alles het klopdisselboom verloop, totdat Lian begin verloor het… *Sug…* Ek en Jean wil net begin lag vir die situasie, maar dit kort baie selfdissipline om nie uit te bars van die lag nie, want dit sal net nog petrol op die vuur wees.

Dit was Jean se beurt om kos te maak (hoender burgers + Gemsbok wors) terwyl ek die kortste toutjie getrek het – skottelgoed. Lian was in beheer van die vuur, so dit het natuurlik in sy kraal geval.

Ons manne sluit die aand af met lekker warm sjokolade en ʼn soetdingetjie of 5. 

Camping at Groenriviermond Lighthouse

Volgende oggend na koffie/beskuit & pap, slaan ons kamp af en dan is ons manne weer aan die beweeg. Jean is op die stokke en Lian op hek diens.

Ons volgende stop is by Waterval Namakwaland se Skuimgat 48 wat so +/- 14km suid van die ligtoring is.

Camping at Waterval, Skuimgat

Kamp word opgeslaan en die kinders spat in alle rigtings. Ek trek my boek en die sak Gemsbokdroëwors nader en maak net seker ek kan ʼn ogie oor die knape hou.

Later word die graaf en emmers kom haal en ek weet daar word nou hard gespeel.

Camping at Waterval, Skuimgat

Tannie Therese (eienaar van die plaas) kom sê later hallo en sy was skaars weg toe daag die knape my uit vir ʼn rondte parkie krieket. Ek prep Lian dat hy homself geestelik moet voorberei want ek gaan sy balle verniel met die kolf vandag.

Soos geluk dit wou hê, kry die klein wetter my uit met die eerste bal en natuurlik was die viering van so ‘n aard dat mens sou glo hy het die Lotto gewen. Ek sluk my trots en gee die kolf vir Jean wat net so lekker lag. Ek besef ek moet die order van die voedselketting hier reg stel, en besluit die eerste een moet sommer vir die kop gaan.

Vrywaring: wees asb rustig tannie, ons speel met ʼn tennisbal en darem nou nie ʼn krieketbal nie

Terug by ons wedstryd. Jean trek die perfekte hou en daai bal land seker in ʼn ander tydsone. Lian lê op die sand soos hy lag, en ek moet diep asemhaal om die beter sportman te wees en nie sand in sy oë te skop nie.

Jean is uit vir 20 en later is Lian uit vir 15. Ek kry weer ʼn kans om die rangorde reg te stel. Teen die tyd sweef beide die klein wetters op soveel testosteroon mens kan met hulle toor.

Lian se eerste bal en ek slaan bykans al die hare van daai tennisbal af. Skielik is daar stilte onder die twee knape. Tweede bal kom en hy vlieg soos ʼn missiel verby Jean se gesig. Ek laat glip so chirp of twee (ok, dalk meer na 4 se kant toe…) en ek kan sien Lian se gesiggie is besig om te transformeer na befoeterdheid. Ek besluit voor hierdie bom aka Lian gaan bars laat ek liewers uittree en vir ons ʼn lekker drone video neem.

My mens, ek het skaars daai drone die lig in gehad toe is daar ʼn ontploffing agter my. Jean reken die bal het uit sy hand geglip en sy broer in die kop getref en Lian se weergawe is dit was aspris en hy doen dit net omdat pappa nie by is nie. Met die verdomde drone nog in die lig probeer ek die angs en anargie oplos, maar Lian staan nie terug vir sy ouer broer nie en na ʼn paar “krag” woorde maak ek dit duidelik as daar nie nou rustigheid kom nie, gaan ʼn pakslae vinnig en direk kom en dan moet hulle nie verstom staan hoekom dit nou gebeur het nie.

Ek was skaars 2 minute weg en dit ontaard so – like really!

Ek steek vuur aan en uit die hoek van my oog sien ek die twee (wat net ʼn minuut gelede mekaar wou takel in die sand) sit op ʼn duin, diep in gesprek besig. Skielik voel ek soos die vark in die verhaal en al wat ek wou doen is om ʼn verdomde drone foto te neem, haha!

Camping at Waterval, Skuimgat

Volgende oggend en die vorige dag se ligte kortsluiting is lankal iets van die verlede. Ons manne sit gewapen met tee, warm sjokolade en pap/beskuit en geniet die kleurskakerings soos die son deur die wolke breek.

In die verte lyk die weer kwaad. Eers dog ek dit is dalk ʼn misbank wat deur beweeg, maar toe onthou ek die gids by die SANParke kantoor naby Groenriviermond het ons gewaarsku teen swaar weer (reën & wind) wat kom.

Ons 3 manne hou ʼn kort bosberaad en daar word besluit om kamp af te slaan en vir Elandsbaai Hotel te mik en te kyk of hulle nie vir ons plek in hul backpackers het nie. Behalwe dat nie een van ons lus was vir natreën nie, was die groot trekpleister dat die Springbokke teen Argentinië later daai middag in Nelspruit sou speel en hoe kan ʼn man dan nou ʼn Bokke wedstryd mis??

Camping at Waterval, Skuimgat

Ons groet Waterval en beweeg al teen die kus langs in ʼn Suidelike rigting. Almal kry ʼn beurt om te ry en die oopmaak van hekke word eweredig verdeel tussen Jean en Lian. Daar is nie ʼn manier dat ek hekke oopmaak nie – PUNT!

By Lutzville draai ons regs op die R632 en kort voor lank stop ons voor Elandsbaai Hotel se voordeur. Met die swaar weer wat al langs die kus afbeweeg het, was daar baie kampers wat dieselfde besluit as ons geneem het, so dit was lekker om die hotel so vol te sien. Ongelukkig het dit teen ons getel en was die backpackers reeds vol, maar ons kon darem ʼn familie kamer in die hotel kry.

Ons almal was maar bietjie pê en na ʼn lekker warm bad is daar laag gelê tot net so voor 5pm toe ons afbeweeg saal toe waar almal die rugby saam gaan kyk. Dit het om en by dieselfde tyd toe begin reën en ons 3 het net so vir mekaar gekyk en geweet ons het die regte besluit geneem.

Natuurlik weet ons almal wat die resultaat was, maar sjoe wat ʼn lekker gees was dit nou nie. Die kroeg area was stampvol met die locals en al die besoekers (meestal families met kinders) het in die eetsaal gekyk.

Volgende oggend na ʼn groot ontbyt groet ons almal, en dan is ons weer aan die beweeg – die keer huis toe.

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Pa het al vir jul paar keer genoem hoekom dit vir my belangrik is dat ons soms hierdie tipe reise alleen moet aanpak, want dit is belangrik dat ons 3 met mekaar tyd moet spandeer en as daar ʼn skermutseling is, moet dit uitgesort word daar en dan. Terselfdetyd as ons besluit om dinge te wil verander, soos ons laaste aand, dan kan ons 3 knape besluit hoe en wat en dan voer ons dit uit. Dit is wat ʼn reis so lekker maak – ja, mens beplan, maar jy moet die vrymoedigheid en flexibility hê om soms uit jou “comfort zone” uit te beweeg en op Nommer 99 te besluit om dinge op jou reis anders aan te pak.

Tot ʼn volgende keer.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier al langs die Weskus.

Camping at Groenriviermond Lighthouse

Related Posts

Comments (2)

Dis wonderlik wat jy met jou manne doen!

Love dit

Leave a comment