Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Sanddrif se Wolfberg Cracks

sanddrift_01

Met die lang & nat winter wat ons die jaar gehad het, is hierdie kamp seker meer geskuif as ʼn 2 ure skaak wedstryd.

Uiteindelik het al die gesinne se kalenders gesinchroniseer en met geen tekens van reën wat voorspel was nie & eksamens wat iets van die verlede is kon ons uiteindelik Sanddrif gaan besoek het, en die bekende Wolfberg Cracks gaan verken.

Camping @ Sanddrif & hiking Wolfberg Cracks

Was 7 jaar gelede by Sanddrif en dit was lekker om weer in die Cederberge te wees. Voel of ek nog so min van die Cederberge verken het, so sal plan moet maak om meer daar te gaan kuier in 2025.

Ons spannetjie vir die naweek was:

  1. Karstel’s (Rainier, Lydia + kinders)
  2. Joubert’s (Bertie + kinders)
  3. Van Der Merwe (Piet)
  4. Jonker’s (ek + Lian)

Lydia verras ons elk, met die intrapslag, met ʼn stukkie Funky Ouma bederf. Terwyl ons op hierdie onderwerp (kos) is, het sy ook aangebied om die menu/etes vir die naweek te reël, en my mens het ons nie soos konings geëet nie.

Neem kennis Jacques Groenewald – my mater, jy gaan vir ʼn vinnige kursus moet gaan by die dame, want sy maak kos-maak lekker.

Kamp, visvang, swem & lekker eet was wel ʼn bysaak die naweek en ons was hier om die bekkende Wolfberg Cracks te gaan verken.

Saterdagoggend en daar is al vroeg lewe in ons kamp. ʼn Lekker warm somersdag wag vir ons en die laaste ding wat ons wil doen is om hierdie 4-5ure stap in bloedige hitte aan te pak met kinders.

So net na 7h15 stop ons by die parkeerarea en dan begin ons die “zigzag” roete op na die skeure. Die roete na die voet van die skeure is eenvoudig – dit is net op en OP.

Aan die voet van die skeure, kom ons spannetjie gou by mekaar, maak seker die jongspan drink genoeg vloeistof en dan beweeg ons weer aan.

So, as jy kyk na die berg is daar 3 skeure. Jy stap eers verby ʼn vals skeur, en dan sien jy die groot breë skeur, so op jou 10 uur hoek. Jou kop sê dit is seker die een wat ons moet op gaan, maar nee – dit is die skeur waarmee ons gaan terug kom later. As jy reguit voor jou kyk, lyk dit nie of daar ʼn 3de skeur is nie, maar net ʼn groot rots/berg. As jy bietjie hoër kyk sal jy die skeur agter hierdie hindernis sien. Dit is toe hier waar ons avontuur’tjie regtig begin 😊.

Natuurlik is die kinders daardeur soos ʼn mes deur botter, maar ons groot mense moes bietjie ons staal wys en met geen yoga instrukteur in sig nie, moes hierdie maar ʼn “baptism of fire” gevalletjie wees.

Ek was laaste om die hindernis aan te pak, en ek moet sê die uitvoering van my medestappers, aka vriende, voor my het nie soos ʼn kinderverhaal gelyk nie. UITEINDELIK bo myself (ek dink ʼn sensor het by Starlink afgegaan, want ek moes soos ʼn Bedford lorrie gelyk het, wat se diff vasgeval het op ʼn stuk rots) beweeg ons regs op die rand van die krans, weg van die groot skeur (#2) waarvan ek vroeër gepraat het.

Ek en Bertie is effe “ronder” as die kinders so ons kon dalk ʼn skraap of 4 op my mae gekry net in die proses.

Camping @ Sanddrif & hiking Wolfberg Cracks

Die roete sak effens, en dan kry ons ʼn teken om links te beweeg. Skielik maak skeur #3 sy verskyning voor ons, en jy kon die opgewondenheid voel onder die kinders. Ek het meer gefokus om net normaal asem te haal.

Om elke hoek en draai is daar ʼn nuwe verrassing. Die skeur maak oop in ʼn klein amfiteater en in die hoek sien ons hoe die kinders verdwyn deur ʼn noue skeur.

Teen die tyd het almal al die konsep van tyd verloor, want ons is nou volstoom besig met ʼn verkenning. Paar plekkies was so nou, ek wou omdraai om met Bertie agter my te gesels het, toe ek besef as ek verder gaan beweeg, gaan ek soos ʼn bearing lyk wat vas ge-seize het.

As daar nie DIEP asem in gehou word nie (om seker te maak daar word nie nog ʼn paar skrapies op die maag by gevoeg nie), is daar ge-KLOUTER, maar voorwaarlik iets om te beleef.

Later raak die skeur smaller en smaller en ons begin wonder of ons dalk ʼn afdraai gemis het. Later loop ons onself vas teen ʼn klip en dit lyk of ons definitief iets gemis het.

Bertie sien bo hom ʼn plankie (waar daar geklouter word, maak hul gebruik van hout blokkies & toue om stappers te help met die klouter), en ons weet ons is op die regte pad, maar my mensdom hoe kom ek daar bo uit begin ek wonder.

Voor ons ons oë knip spoeg die skeur ons uit bo op die plato. “High fives” word uit gedeel, en daar word net stories uit geruil.

Ons volg die kronkelpad tot ons die T-aansluiting kry: regs lei die voetpad na die bekende Arch toe (gaan dit definitief nog kom doen), maar ons volg die pad links…

Êrens moes ek ʼn baken gemis het, want na so 100m raak die voetpad skielik net weg. Ons “back-track” ʼn gedeelte na die T-aansluiting waar ons ʼn stapper sien wat van die Arch kom en hy wys uit waar ons fout gegaan het.

Net na die T-aansluiting is daar ʼn skerp draai na links wat jou dan neem in die mond van die tweede skeur, wat parallel is met die een waarmee ons op gekom het.

Die groot verskil, is hierdie een is baie breër en stap maklik.

Die af was maar ʼn gesukkel, en ek het op paar plekke gedink ek gaan aan die beweeg kom soos ʼn Samil 100 wat se brieke gegaan het – sou nie mooi gelyk het nie, maar ek sou seker voor die res onder gekom het 😊.

Camping @ Sanddrif & hiking Wolfberg Cracks

Ons was so net voor 12h00 die middag terug by die kamp en daar was skaars gestop toe is die jongspan weer weg met hulle visstokke.

Later die middag pak ons die 2.7km stappie na die maalgat aan, waar die dapperheid so bietjie getoets sou word. Piet wys die jongspan hoe en waar gespring moet word en dan volg die jongspan een vir een.

Terug by die kamp, en Lydia is volstoom besig met haar pita brood verrassing. Jongspan het later in ʼn groot kamp rugby wedstryd deel geneem wat tot donker toe aangegaan het.

Sondagoggend en die realiteit tref ʼn persoon, dat dit weer huis-toe-gaan-tyd is. Ek en die Karstel’s besluit om nog so bietjie van die “awesomeness” in te werk, en na ons Piet en die Joubert’s groet, word daar nog vir ʼn laaste keer om die vuurtjie gekuier.

PS: BAIE DANKIE Lydia vir al jou reëlings met die kos, en dankie weereens dat ons saam met jou en Nika jul verjaarsdae kon vier.

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Jean, jy het wraggies uit gemis seun, maar welgedaan met die afskop van jul fondsinsamelings projek, Pop-up Fruit, vir jul rugby toer einde 2025. Lian, ek het nog nie iemand gesien wat so in sy noppies is met ʼn “faded mullet” soos jy nie seun. FADED MULLET?!?!?! Haal asb net diep asem tannies – dit is net vakansie hare. Januarie is beide seuns weer skoon en netjies (sover moontlik), en reg vir skool. Welgedaan met jou hoë sprong by die maalgat. Ek het vir ʼn oomblik gedink jy gaan dit nie doen nie, maar jy het pa verkeerd bewys. Trots op jou.

Tot ʼn volgende keer.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Cederberge.

Camping @ Sanddrif & hiking Wolfberg Cracks

Related Posts

Leave a comment