Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Elandsbaai Hotel via Tankwa Karoo

Roadtrip

Wou graag die artikel begin het met ʼn definisie wat die vriendskap verduidelik wat daar heers tussen ʼn paar siele saam met wie ek die naweek gehardloop het. Siele wat nie hul moeders se mooiste of slimste kinders is nie en ook nie hul skole verteenwoordig het in een of ander asemrowende sport nie. Baie van hulle sukkel om “sport” in Engels te spel. Hierdie is ʼn klas mens/siel/knaap eie aan homself.

Ek het elke moontlike kombinasie op Google probeer, maar alles was hierdie mooi vleiende woorde wat my skoon ongemaklik gemaak het. Derhalwe vir die lys van negatiewe effekte wat daar heers by elke van hierdie individue (en die lys is maar woes lank) is daar wel een komponent wat daar nooit OOIT betwyfel word nie. Wanneer daar ʼn moontlike geleentheid is om ʼn avontuur êrens na nêrens aan te pak, sal hierdie knape reg staan om te klim al weet hul nie eers waarnatoe daar gehardloop word nie.

Ek hou daarvan om saam met “like-minded” mense avonture aan te pak. Wanneer ons sulke wegbreke aanpak kom die khaki’s uit, testamente word noukeurig na gegaan en vroulief kry beperkte informasie want ons weet self nie hoe die ding gaan uit draai nie.

Die aanvanklike plan sou wees dat ons Vrydagaand deur skiet na Verneukpan en daar die aand braai op die pan. Saterdagoggend sou ons die bakkies se neuse weer Suid draai en dan, of by Doringbaai of Elandsbaai oorbly voor ons Sondag weer terug hardloop Boland toe. Maar twee sagte kandidate, Boerbok & Christo, het gevoel hulle gatte sou nie die afstand pan toe kon hanteer nie vir net een aand nie. #SiesMan

Dus op 99%, word daar bietjie aan die plan geskaaf om seker te maak die twee knape kry darem nou nie rowe op hulle gatte van te veel sit nie.

Vrydagmiddag en twee bakkies (6 man sterk + Boerbok, of Theunis soos op sy biblioteek kaartjie staan) trek Wellington uit. Die VHF radio’s begin lewe kry en daar heers opgewondenheid met ʼn 2.45% van angs. Almal is bewus dat op sulke wegbreek naweke is die Vrydagaand altyd die een wat skade / ʼn merkie gaan maak.

Op die R355 ry ons tot by die Tankwa Padstal waar daar iets vir die droë kele gekry word. Kort voor lank en meeste van die manne is in die swembad onder die lat afdak.

Na ʼn rondte of twee en dit is weer aan die beweeg tot ons die Tyre Shop bordjie kry waar ons regs draai Tankwa Tented Camp toe. Met die intrap en ons word gegroet deur Henk van Niekerk (een van die eienaar) – aangename knaap en ons tipe mens.

Roadtrip via Tankwa Karoo & Elandsbaai Hotel

Laat middag en vuur word buite aan gesteek. Die kuier kry spoed en kort voor lank … DIE EINDE! Hehe

Saterdagoggend en ons word wakker geraas deur die jakkalse se roep. Terwyl daar skoon gemaak word sukkel ons twee nie-langafstand kandidate, Boerbok & Christo, om die een wiel op die Isuzu te vervang. Dit was pynlik om te kyk hoe hierdie twee veetjies so kan sukkel om ʼn wiel te verander. #SiesMan

Uiteindelik terug op die pad en dinge met die Toyota is nie soos hy moet wees nie. Dan is die krag daar, dan nie. Boerbok lees die “owners manual” twee keer deur – eers in Engels en toe in Japannees. Maar dit help glad nie.

Ons kruis die Doringrivier by Uitspankraal en geniet ʼn koue bier & iets op die kole by Jai Yen Yen bar voor ons verder aanstoot.

Roadtrip via Tankwa Karoo & Elandsbaai Hotel

Uiteindelik in Clanwilliam en ons kry die nommer van een van die Toyota tegnikusse op die dorp, Jacques. Na so uur met al die koppe onder die enjinkap word daar besluit dit is veilig om nie verder met die Toyota te gaan nie en dat hulle liewers Maandag in detail deur die voertuig gaan.

Met al die manne + vrag, is dit onmoontlik om in een voertuig deur te skiet Elandsbaai toe. Daar word besluit die enigste opsie is dat Christo twee trips gaan moet doen met die Isuzu. So 10min nadat hulle weg is met die 1st vrag bied Jacques aan, met die dat hy nie veel planne vir die Saterdag het nie, om ons 3 + vrag Elandsbaai toe sal neem. Beter diens kan mens nie voor vra nie. Welgedaan Toyota Clanwilliam!

Met ʼn vol span uiteindelik in Elandsbaai kry ons die sleutels van die hotel se twee buitekamers. ‘n Paar koue biere word saam met Jacques geniet. Sou wraggies ʼn sonde wees om nie vir die knaap dankie te sê vir al sy moeite nie. Toe sy vrou later skakel om te hoor of sy die vuur moet aansteek was dit seker maar die teken dat Jacques ons moes verlaat hehe.

Vuur word aangesteek en ou verhale word herroep terwyl die glasies vol bly. Later word die TV aangesit om die Bokke vs Ireland wedstryd te kyk, maar aai dit was die grootste fout gewees…

Roadtrip via Tankwa Karoo & Elandsbaai Hotel

Sondagoggend en Paul reël dat sy swaar, Peter, vir ons twee kom haal terwyl die ander 5 manne met die Isuzu terug huis toe gaan skiet.

Manne dit was ʼn puik wegbreek gewees. Soos bespreek dink ek die volgende een moet in die Noorde wees dat ons bietjie keel kan gaan nat maak daar in die Bosveld.

Kliek hier vir so paar foto’s van die naweek.

Related Posts

Comments (5)

En so = het ek jare terug die vriendelike energieke jongman op n Blog ontmoet en volg hom steeds. Hy is vir my net n voorbeel en inspirasie – en as ek nog dink ek wil oudword – dink ek net = Henry mag nooit dink ek is n ou antie nie!!! Geniet jul kuier en trip… en ek volg weer!!!

Dankie tannie…skuus, ek bedoel Mariana haha. Dalk ry ons mekaar weer raak erens op ‘n grondpad in SA soos laas.

Groete hier uit die Boland.

Jonker.

Jy beter Salusa 45 en Essentiale mainline die volgende trip, want sodra jy ‘n oomblik nie gaan konsentreer nie…

Hahaha, niks minder van jou verwag nie ouboet 🙂

[…] toe om sy Hilux te gaan haal wat die week bietjie by Toyota gekuier het. Lees gerus meer hier hoekom hy daar gestaan […]

Leave a comment