Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Sand, see & zinkplaat deur Namaqua National Park

Weskus

Die Weskus het maar net sy eie bekoring en daar is min goed wat lekkerder is as om langs die see wakker te word in ʼn tent.

Ons avontuur begin Donderdagmiddag direk na skool en skaars trek die groot yster sy neus deur die hek en die VHF radio begin lewe kry met die groot seun, Jacques Groenewald, se stem oor die lug.

Vir my is daar min goed lekkerder as wanneer ek Wellington uit ry en ek weet dit is die oop pad voor ons – die country musiek loop oop oor die radio terwyl die wind raas met die oop vensters en tussen dit alles word daar kliphard gesels in die Cruiser oor waarnatoe ons gaan, waar gaan ons kamp, wie gaan nou weer daar wees, was ons al daar en die lys gaan aan.

En skaars Wellington uit, kom Lian se bekende woorde altyd: “Pa ek is honger!”

Dan kry ek ʼn glimlag op my vet bakkies en gee my standaard reply: “Amper daar boeta – vasbyt!”. Teen die tyd weet Jean daar is ʼn 90% kans dat daar seker ʼn paar 100kms tussen ons en die 1ste aand se oornag plek sal wees, en dat “amper daar” so ver is soos jy ʼn jakkals in ʼn skaap kraal sou kry. Die jong man glimlag en die onderwerp wou gou-gou verander.

Namaqua National Park Tour

Voor ons ry Jacques en sy gesin en die 4.0 Hilux lyk lus vir grond en sand paaie. Die twee swaargelaaide voertuie vleg deur die N7 en na ʼn vinnige biltong stop by die Trawal garage is ons oor die Olifantsrivier en sterk op pad Noorde toe.

Kamieskroon is so +/- 70 kilometer voor Springbok en as jy nie mooi fokus nie gaan jy jou oë uitvee en dan is jy verby die afdraai wat so effens in ʼn draai sit.

Ons eerste aand skop ons af by Kroon Lodge met netjiese geriewe en omrede dit nog nie blomme tyd is nie, het ons feitlik die hele plek vir onsself gehad.

Die kinders spat in alle rigtings en die eerste koue bier word oopgemaak nadat die tente oop getrek is. Vuur word aangesteek en bliksem die lewe kan nie beter nie.

Namaqua National Park Tour

Die volgende oggend is daar vroegoggend lewe en klein Trus maak seker dit is tyd dat hierdie konvooi aan die beweeg kom.

Hierdie sou ons tweede keer by die Namaqua National Park wees en met die dat ons laas die suide gedeelte vanaf Hondeklipbaai gedoen het, het ons besluit om die gedeelte verder Noord bietjie te verken.

So 10 kilometer voor Springbok draai ons links by die Soebatsfontein bordjie. Van hier volg ons die grondpad al op die rug van die park. Ons stop by die ou verlate gevangenis aan die voet van die Wildeperdhoek Pas vir middagete en dan word daar weer aangestoot.

Namaqua National Park Tour

Vroegmiddag stop ons by Boulders Baai en dit is lekker om weer terug langs die see te wees. Kort voor lank word vuur aangesteek en die dag se roete word in diepte bespreek met iets koud in die hand.

Later die middag suiker ʼn paar manne van die Boland ook die baai in en die geselligheid raak net lekkerder hoe later die aand raak.

Francois en sy gesin kom so net na 22h00 oor die koppie en dit is lekker om die knaap en sy gesin weer te sien. Soos ons hand gee om hul tent op te slaan, kom ʼn groot sug van Francois en stel hy ons in kennis hy het sy tentpale by die huis vergeet.

Koppe word bymekaar gesit en die verskillende opsies word oorweeg. Gelukkig het ek die krat met QuickPitch se awning side wall kit saam gebring, vir ingeval die weer sou skeef draai, en vinnig-vinnig word die kante van die awning op gezip en siedaar daar is ʼn nuwe vertrek vir die Pretorius gesin.

Volgende oggend word die Spoegrivier Grotte gou eers verken voor ons weer al langs die kuslyn Suid deur die park beweeg. Plek-plek verander die twee spoor pad na sand maar daar was stukke wat dit voel of alles in die voertuig uit mekaar ‘rattle’ so sleg was die sinkplaatpad.

Dit was ook tyd om Jean agter die groot 80 se stuurwiel te kry en gou het die knaap geleer dat sand ry effe anders is as ʼn paar grondpaaie in die Boland. Dit gesê het die jong man puik gedoen en ʼn trotser pa kon jy nie kry toe hy deur effens dik sand op sy eie in die voertuig is nie.

Ons volgende stop sou Groenrivier Lighuis wees en ek het net weereens besef hoekom dit een van ons gunsteling plekke is om te besoek. Kinders is natuurlik reguit rotse toe en kort voor lank word daar lekker gesels om ʼn vuur.

Ou verhale van ons vorige besoek aan die park word herleef en dit is lekker om dit met my seuns te deel, veral met my jongste, Lian, wat nog te klein was om die vorige keer saam te kom.

Namaqua National Park Tour

Kameeldoring op die vuur + kinders wat speel en lag in die verte + die son wat sy laaste strale oor die oseaan trek + branders wat breek op die rotse + en hartsmense om dit mee te deel = laat mens weer besef dat mens lewe vir oomblikke soos die en nie die gejaag agter die ou bekende monster (geld) nie.

Namaqua National Park Tour

Volgende oggend word die repeat knoppie gedruk en die proses van pap, koffie, beskuit, skottelgoed was, oppak.. begin.

Teen die tyd is die twee seuns al goed ge-olie wanneer daai knoppie gedruk word – Lian verdwyn natuurlik spoorloos as hy sien dit staan na oppak tyd en soos ʼn vlieg op beesk@k verskyn skielik net voor ons ry. Dit los arme Jean saam met my, maar ek moet bieg die jong man vat raak en hy verstaan kamp opslaan gaan oor ʼn ritme – geselsies kan ons in die voertuig en op die VHF radio’s doen, maar as jy op ʼn stop-gaan toer is en jy slaan elke aand af en soggens weer op dan moet almal hul vat-vat ken en my oudste is definitief al daar. Sy broertjie, uhmmm – daar kort nog bietjie skaafwerk.

Die oggend beweeg ons al langs die skouer van die kuslyn en elke tweespoorpad wat afdraai nader aan die kus word gery. Teen die tyd was daar weer nuwe maats in die Cruiser en dit was lekker om na die stories en gesprekke te luister wat ontwikkel.

Namaqua National Park Tour

So ry die dogters van Francois (René) en Jacques (Riale) saam en hulle sit agter saam met Lian en daar word vir die vale hasies of een of ander gedierte ingekleur. Jean sit links voor my. Terwyl ons so deur die tweespoorpad vleg luister ek aandagtig hoe daar raad en advies gegee word vir Lian oor hoe en wat hy moet doen om nie soos ʼn verdomde seuntjie in te kleur nie, maar bietjie meer finesse toe te pas en in die lyne van die prentjie bly – skielik begin die Cruiser swaar trek en ek besef, nee wat, ek is hier in die dik sand en my rat keuse is vir poef.

“If all else fails – give more right foot”. Die revs klim op en ons is in die dik sand en draai. Die opgewondenheid voel ek outomaties want die jong mans love dit as daai groot seun sy longe begin los maak.

Namaqua National Park Tour

Soos ek fokus om die ding in die dik sand aan die beweeg te hou in die kort draaie, skuif René’tjie skielik hier tussen my en Jean in en in haar oulikste stemmetjie sê sy:

“Oom! Ek wil oom vertel van my beste maatjie wat langs my bly. Oom sy….”

Daar sit ek, jaag petrol deur die vergasser soos ou toiletpapier en die jonge dame het geen bekommernis of hierdie 3+ ton voertuig moontlik gaan vas sit nie. Vir haar is dit belangrik om die takhaar oom van haar maatjie te vertel…

You gotta love it.  

By Kwass se Baai word daar gestop vir middagete waarna ons weer aangestoot het opsoek na ʼn plekkie vir ons laaste aand langs die see.

Soos Jacques maar doen, kry hy vir ons weereens ʼn lekker plek waar ons die aand kamp opslaan.

Vanaand is dit steaks en Jacques se bekende swartpot chips wat ALTYD ʼn wenner onder die kinders is. Wil amper vir my voorkom of die vlamme al groter raak Jacques of verbeel ek my ouboet? Hahaha…

ʼn Windstil aand langs die see = priceless!

Namaqua National Park Tour

Volgende oggend word daar met ʼn swaar gemoed opgestaan, want vandag draai ons die neuse van die voertuie huis se kant toe.

Ons volg die kuslyn pad tot ons die R363 kry en draai dan regs op die teerpad. By Koekenaap begin die Cruiser skielik ruk en pluk en die krag kom en gaan en ek weet sommer dit is of vuil petrol, of ʼn petrol filter wat op sy einde is. My oog vang Jean en nog voor ek iets kan se klap die knaap my met vrae.

“Wat is fout pa? Het ons genoeg petrol (kinders wat met Cruisers groot word haha)? Hoe nou gemaak pa?…”

Ek verduidelik ons het genoeg petrol, maar dat daar “fuel starvation” is en glad nie ʼn geval dat ons op die laaste van ons petrol is nie.

Jacques en Francois wag ons in op Lutzville waar ons gou die inlyn petrol filter vervang en siedaar die knaap drink weer dors en lustig voort aan oktaan.

Aan my twee seuns, Jean en Lian: op hierdie kort toer was daar ʼn klomp eerstes vir jul twee gewees: Jean wat die stokke van die 80 Series Cruiser vir lang tye gevat het en dik sand leer ry het, maar ook op stukke alleen die voertuig gery het sonder dat pa hier oor sy skouer loer en blaas. Lian dit was jou eerste keer in die Namaqua National Park en ek glo jy sal jou “eye-to-eye encounter” met ʼn klein rob onthou.

Tot ʼn volgende keer.

Kliek hier vir paar foto’s en video grepe van die toer.

Namaqua National Park Tour

Related Posts

Comments (1)

[…] Lees gerus meer oor ons vorige besoeke aan die Weskus hier & hier. […]

Leave a comment