Die Weskus het ʼn bekoring van sy eie, begin ek al hoe meer agterkom. Hierdie dorre landskap met sy vars seelug en vriendelike Weskus mense, is maar net anders as die Ooskus se groen landskap en soms “ons-weet-van-beter” mense.
Alhoewel die Karoo en woestyn, met al daai niks en groot vlaktes vol klip, my gunsteling wegbreek plekke is om kop skoon te maak, moet ek bieg ek begin my kuiers & avonture langs die Weskus meer en meer geniet.
Ek dink ook ʼn groot aspek van enige avontuur/naweek wegbreek is die tipe mense saam met wie jy dit aanpak. Alhoewel ek dit geniet om met die familie of soms net met die seuns te ontsnap is dit altyd lekker om saam met hierdie manne en hulle families nuwe herinneringe te gaan skep:
- Frans Laubscher & gesin
- Paul Laas & gesin
- Jacques Groenewald & gesin
Vrydagmiddag so net na 17h00 stop ek en Lian voor tannie Erene Engelbrecht se huis in Lambertsbaai. Met die dat Jean aan ʼn mini-krieket toernooi deel geneem het sou hy en Marli eers die volgende oggend by ons aansluit.
Die tannie is ferm en ek skud net kop soos sy die NB punte vir my verduidelik. Met die hek sleutel in die gatsak is ons weer aan die beweeg.
+/- 5km uit die dorp draai ons links by die Vredendal bordjie en volg die grond pad vir so +/- 9km tot ons die Soopieshoogte Privaat Natuur Reservaat muur op linkerhand kry.
Van hier volg ons die pad tot oor die Sishen treinspoor brug. 200m verder kry ons die Zevenputs hek. Bande word bietjie afgeblaas en dan volg ons die sand twee spoorpad tot by die see.
Laaste keer wat ek hier was, was in 2008 tydens ou Bertho se batchelors, en was verbaas hoe die plekkie verander het. Daai tyd was dit net oom Sybrand se staanplek, maar intussen is daar al langs die see skoon gemaak vir staanplekke. Behalwe vir die skoon gedeeltes langs die see is daar verder NIKS nie. Daar is 2 dalk 3 “longdrops” in die veld, maar verder moet jy alles saam bring as jy daar wil kom kuier.
Die wind waai ongemaklik en ek sukkel so manalleen om die daktent se “dropdown” kamer op-ge-zip te kry en terselfde tyd oog op Lian te hou wat net nie wil weg beweeg van die rotse nie. Wou hom later aan ʼn tentpaal vasbind totdat ek klaar gesukkel het met die verdomde tent.
Net soos die son sy laaste strale wil weg trek kom die res van die span daar aan. Gou word die tente opgeslaan voor die Rooikrans lewe kry saam met die eerste koue vir die naweek.
Ou “groot” Jacques was weer op sy stukke met ʼn Geelstert & vasgebakte brood (+ jam) op die spyskaart vir die aand.
Die week se chaos & gejaag was skielik iets van die verlede en lankal vergete. ʼn Bier proe darem net beter met die vars see lig en die reuk van Rooikrans in die lig.
Saterdagoggend en ek en Lian is vroeg op die pad terug Lambertsbaai toe, met Paul se Hilux (Cruiser het die daktent op), om Marli & Jean te kry. Hulle het gereël dat haar voertuig by vriende se ouers staan die Saterdagaand.
Terug by die kamp en Jacques se lyn is reeds in die water. Toe die seuns dit sien is die koeël deur die kerk en skielik moet ek visstokkies reg kry vir die knape. Altyd ongelooflik hoe opgewonde kinders kan raak oor visvang, maar aai die geduld is maar net nie altyd daar nie.
Paar swart mossels maak hul verskyning in Jacques se kreef pot terwyl ou Paul besig is met sy bekende Mexican omelette.
Laat middag en die kinders dring daarop aan dat daar geswem moet word. Aai, dink hulle het ʼn lewens les geleer met die dat die Weskus water effe koeler as die Ooskus sin is haha.
Laatmiddag en die Rooikrans laat alweer Frans se gat jeuk en kort voor lank loop die vure weer sterk. Die volgende avontuur word reeds beplan terwyl die kinders langgend die plek plat hardloop. Hier huil een, daar kla een oor sy toon, maar in geheel wil nie een van hulle by die huis wees nie.
ʼn Skaapribbetjie kry sy plek (waar hy hoort) langs die vuur en die glase word vol gemaak terwyl die Weskus windgat spog met ʼn ongelooflike mooi sonsondergang. Later maak steaks & toe vark sjops hul verskyning met ʼn vasgebakte brood kort op hulle hake.
Een ding is nou maar duidelik – as jy lekker wil slaap, dan gaan kamp jy langs die Weskus. Daai geluid van die see en koue briesie is net ʼn wen kombinasie.
Sondag en dit is weer tyd om die voertuie se neuse Boland se rigting toe te trek. Voor Elandsbaai stop ons by die Vensterklip restaurant vir middagete waarna daar blad geskud word voor ons die laaste gedeelte huis toe aan pak.
Soos altyd ʼn onvergeetlike naweek saam met lekker mense.
Kliek hier vir so paar foto’s van die naweek.