Moeilik om te glo dat ons klomp vriende, bietjie minder as ʼn jaar laas saam gekamp het. Genade, wat het van die jaar geword. Ons sal hierdie situasie duidelik moet aanspreek by die volgende braai.
Schoongezicht is geleë aan die voet van die Skurweberge in die Koue Bokkeveld, Wes-Kaap. Met ons vorige besoek so 2 jaar gelede, was dit DIEP winter, en my mens ek het lanklaas so gebewe soos daai aand. Die keer het ons besluit om in die Somer te kom kuier.
Toe ek die foto van Alex Kock so paar maande terug gesien het, het ek geweet ons klomp gesinne moet hier kom kuier.
Hul Morning Glory kamp, is heeltemal privaat en het sy eie kristal helder swemgat, so ideaal vir klein groepe. Nog meer belangrik is dat hulle troeteldier vriendelik is so toe ek daai Cruiser Vrydagmiddag start, was Mila eerste in.
Ons span vir die naweek was:
- Ons 3 manne + Mila
- Jacques Groenewald & gesin
- Frans Laubscher & gesin
- Lourens Hugo & gesin
- Johan Dreyer & gesin
Frans en Johan-hulle met die grond tente het op die grasperk tent op geslaan, terwyl ek, Jacques en Lourens met die daktente sommer laer getrek en seker gemaak daar is darem ʼn kuierplekkie onder die awnings.
Saterdagoggend en wat ʼn voorreg om nou al met groot kinders in ons span te kamp, so skottelgoed diens was maklik om te allokeer :-).
Vure word aangesteek en die eerste Vuil Coke word geskink…
Na ontbyt maak die span reg om die 5km staproete aan te pak. Die roete lei jou terug op die pad na die hoof kamp, en dan draai jy links berg op.
Na so paar zig-zags teen die berg op, loop jy parallel terug met die pad teen die randjie.
Terug by die kamp en ʼn nuwe watergat word ontdek by hul Sandstrand, wat ook ʼn privaat kamp is.
Laat middag en dinge begin weer lewe kry na ʼn vinnige middagslapie. Vure kry weer lewe en die glasies word uitgespoel vir ʼn tweede rondte.
Vanaand gaan ʼn groot aand wees, want daar is ʼn belangrike rugby wedstryd wat plaasvind in Frankryk en een wat ons as Suid Afrikaners nie kan misloop nie. Die Springbokke speel teen die All Blacks in die Rugby Wêreldbeker Toernooi!
Terwyl die manne die vure se gat warm maak met hout, word ʼn wit laken aan Jacques se awning gehang, want manne ons gaan voorwaar die rugby in styl kyk. Die opwinding is hoog en die glasies word vol gehou.
Die groot oomblik breek aan…en soos die gesegde gaan: “And the rest was history!”.
SUID AFRIKA IS VIR DIE 4de KEER WERELDKAMPIOENE!!!!!
Wat ʼn ongelooflike voorreg was dit nie om hierdie spesiale geleentheid saam met Jean en vriende hier in die middel van die niks en nêrens te ervaar het nie.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Sjoe Lian, ons het jou gemis. Jou woelige en vriendelike persoonlikheid is definitief deur almal gemis, maar trots op jou dat jy jou skool verteenwoordig het by die atletiek. Jean dit was ʼn voorreg my seun om die 2023 Rugby Wêreldbeker wedstryd saam met jou te kon gedeel het. Het so lekker gelag vir Mila in die dak tent en met die dat jy amper elke dag groter raak, gaan jy haar binnekort die leertjie moet opdra haha.
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Schoongezicht.
Dit was ongelooflike naweek. Die kampterein was puik en saal lekker pelle kan niks skeefloop. Ons kamp gou weer
Self laas naweek by morning glory gekamp. Seuns het heel dag in daai gat geswem.
Beste badkamers in die bedryf. 😜
Daai is wraggies ‘n lekker spot