Ons Weskus avontuur begin in die klein kusdorpie van Elandsbaai. Met die dat Noup +/- 520km van Wellington is, sou die afstand net te lank gewees het vir die twee honde (Pepsi & Mila), wat ons vergesel op hierdie avontuur.
Die bakkie het skaars by Elandsbaai gestop en die honde kon nie vinnig genoeg die voertuig uit nie. Kamp is opgeslaan en dan is dit reguit strand toe met die honde.
Terug by die kamp het ʼn groot Rummikub toernooi begin terwyl die vuur lekker knetter.
Volgende oggend is kamp vroeg afgeslaan en na ontbyt by die hotel is ons 5 weer aan die beweeg. Volgende stop is Noup – whoop whoop!
By Garies word die bakkie volgemaak (die petrolstasie by Koingnaas sou nie oop wees op ʼn Sondag nie) en die seuns/honde loop ʼn laaste draai en dan vertrek ons. ‘n Paar km verder draai ons links op die grondpad by die bord Hondeklipbaai/Koingnaas.
Die country musiek raas oor die radio terwyl die wind (vensters is oop vir vars lug vir die honde) alles verwaai in die bakkie, maar dinge loop lekker en die Hilux vreet die km’s op soos soetkoek.
Skielik hoor ek Lian se huiwerige stemmetjie tussen al die geraas: “Pappa ons het ʼn probleem!”.
Alles voel reg op die bakkie so ek verstaan nie heeltemal wat die probleem is nie?
“Pa jy moet stop – Mila het my NAT gepiiieee!!”
Bakkie skuur tot ʼn stilstand en alles wat leef en beef vlieg die deure uit. Daai 6 maande oue Golden Retriever het hom nie net gedeeltelik natgepie nie, maar die jong knaap het semi papnat langs die bakkie in die veld gestaan. Natuurlik was die jong siel nie baie gelukkig nie, maar ek en Jean kon nie ons lag hou nie en dit het natuurlik nie die situasie gehelp nie.
‘n Paar liter water en ʼn t-shirt, wat ons nie weer gaan red nie, later en Lian is van kop tot tone gewas en het weer ʼn nuwe vars pakkie aan. ʼn Les is geleer – stop meer gereeld vir piepie geleenthede vir die honde, CHECK!
By Koingnaas klim ons op ʼn netjiese teerpad wat een van die locals later vir ons sou verduidelik die langste privaat teerpad in Suid Afrika is.
Noup se afdraai is so +/- 15 km verder op hierdie pad. Die plekkie lyk maar vaal en stil en my eerste opmerking is, ek hoop hier is iemand wat ons kan verduidelik hoe om by die strandkamp uit te kom. Gelukkig het hulle geweet van ons koms en die knaap help ons gou met aanwysings op ʼn kaart hoe om by die plekkie uit te kom.
Terug op die teerpad is dit nog so +/- 12km tot by Hek 5 waar ons ingaan. Die grondpad loop vas tot net voor die see en dan draai jy regs op ʼn tweespoor sandpad. Later raak die sand dikker en daar word besluit om bande maar af te blaas. Let wel: hier is geen sein nie, ons is alleen, die naaste mense is op Koingnaas wat +/- 27km weg is so as ons hier vasval en ons kom nie uit nie, dan is dit vêr stap vir hulp.
Die opwinding in die bakkie is aansteeklik en selfs die honde se koppe is al by die vensters uit, op soek na ons strandkamp. Jean sien die groen nette eerste en Lian en Mila is die bakkie uit nog voor ek behoorlik kon stop. Toe ek ook uiteindelik die voertuig uit is, is die seuns en honde al klaar op die strand en die werklikheid tref my toe weer, ek gaan seker WEER kamp alleen opslaan.
Die sonsondergang is skouspelagtig en geen foto sal dit kan regverdig nie. Terwyl ek op die duin sit en teug aan ʼn koue bier besef ek dat ons die laaste gaste op hierdie stuk kusstrook sal wees, want vanaf 1 Julie neem die myn die area oor.
Mila is soos ʼn mal haas en dié sukkel om alles te absorbeer en sy kry net nie rustigheid nie. Sy en Lian mik vir die see, maar dan herinner ek beide (Lian en Mila) dat hulle buite gaan slaap, want daai nat/sanderige hond gaan nie ʼn vrek in die tent by ons slaap nie.
Die dag se gebeure word oor en oor vertel om die kampvuur en dit is altyd lekker om te hoor hoe elkeen van die seuns die plekkie sover beleef.
Die volgende oggend is almal reeds vroeg aan die beweeg want Lian en die honde wil ʼn verkenningsuitstappie gaan goed.
Terwyl die jong klomp die area verken gaan sit ek en die ou dame, Pepsi op die rotse en maak ʼn paar goeie memories. Sy sukkel maar met die heupe en terwyl sy langs my lê op die rotse wonder ek of daar nog genoeg krag en wil gaan wees om nog ʼn trippie saam te doen, of sal hierdie haar laaste een saam met ons familie wees?
Jy kamp nie in die Weskus en dink die wind gaan nie waai nie. Nee pappie, die wind word hier gemaak! Terug by die kamp toe moet daar net geklou word, want toe foeter hy ons van alle kante. Ons moes kies: dis of binne die tent of binne die bakkie en almal besluit kom ons gaan verken liewers verder die kusstrook.
Die persoon by ontvangs het genoem hier is ʼn skeepswrak Noord van ons kamp, maar hy beveel aan ons ry nie tot by die wrak nie, want van die duine nader aan die wrak is glo lekker dik sand en die mense kom nie daar uit nie. CHECK!
Jean is op die stokke en dinge gaan lekker.
“Kyk pappa, daar is die wrak!”, en Lain wys opgewonde in die rigting van die skeepswrak. Ek sê vir Jean om aan te ry en ons kyk waar die pad eindig. Ons kan altyd met die terugkomslag hier stop en dan oor die paar duinstrate stap na die wrak.
Die paadjie wat parallel met die see geloop het knak skielik 90 grade na links en voor ons ons kon kry is ons oor ʼn paar duinstrate, ‘n paar dik sand gedeeltes en siedaar hier stop ons reg langs die wrak. Ek onthou nog hoe Jean vir my vra maar hy verstaan nie hoekom die oom gesê het ons kan nie tot hier ry nie…
‘n Paar kiekies later en ons is weer aan die beweeg. Jean is weer op die stokke en dis ongelooflik hoe goed die jong knaap al kan ry. Die sand paadjie loop langs die see en dan knak hy 90 grade na regs en dan is dit reguit teen ʼn duin op.
10m voor die kruin van die duin, kom die bakkie tot stilstand. As ek op hierdie punt net vir Jean geluister het, sou die res van hierdie episode heelwat anders gegaan het, maar nee – ek het nie geluister nie… *sug*
“Pappa, ons is so naby kom ons gebruik die Maxtrax’s en probeer die bakkie met die laaste gedeelte met dit uit te kry?”
“Seun, ons gebruik nie daai sissie goed nie. Reverse terug en ry die verdomde bakkie hier uit”
So reverse ons die hele pad. Ons recap vinnig wat gedoen moet word, en dan plant daai knaap die regtervoet. Weer kom die bakkie tot stilstand, hierdie keer bietjie korter as die vorige keer.
“Ok, laat pa gou die stokke vat en die bakkie hier uitkry” – aai, ek sak sommer my kop in skaamte as ek die woorde lees, maar ja…
Ek wil nou nie in diepte hier ingaan nie, maar die kort van die lang storie is ons (of altans ek) probeer daai duin van alle rigtings uitjaag, maar ek kom nie eers naby Jean se eerste poging nie.
Jean vra of hy nog ʼn kans kan kry en waarom nie – soos dit tans lyk gaan ons nêrens nie en onthou, ek het vroeër genoem ons is seker nou so 35+ km van die naaste hulp so ons het nie ʼn keuse nie – hierdie bakkie MOET hier uit!
Hoe hy dit reggekry het weet ek nie, maar hierdie keer gaan val hy vas reg langs sy eerste poging so al 3 sy pogings is verder as myne; jip, my ego is nogsteeds gekneus.
Die keer stem ek in en die Maxtrax word afgehaal en voor die agterwiele begrawe. Bande wat tans op 1 bar was, blaas ek verder af tot so 0.5 bar so dit is al opsies wat tot ons beskikking is.
Weer word daar vinnig vergader voor Jean agter die stokke inklim. Ek is op die Maxtrax en Lian is êrens die duine in met die honde. Hy dink seker ek en Jean speel met die bakkie in die duine…
Die bakkie se gat klim mooi uit die sand en stadig begin Jean momentum kry… Die jong man hou kop en besluit om ‘n nuwe pad aan te durf en skuins die duin uit te ry waar die sand nog relatief hard is en terwyl ek my oë knip glip die bakkie oor die duin.
Dit was hittete, besef ek en Jean, op 12 jaar oud, het dit soos ʼn champ hanteer. Hy het nie een keer bekommerd geklink nie en alhoewel ek al begin dink het wat is Plan B as ons nie uit hier kom nie, het hy heeltyd die situasie positief hanteer en daai oomblik van trots sal ek nie gou vergeet nie.
Terug by die kamp (skemer) en die wind is iets van die verlede. Vuur word aangesteek en ons sit ons Rummikub toernooi voort.
Volgende oggend en net soos die vorige dag, +/- 10am begin die wind ons weer rondklap. Ek stel voor ons slaan kamp af en gaan kamp die laaste aand van ons trippie weer by Elandsbaai en sodoende sal dit ook help met die terugry vir die honde want een “go” gaan dalk net te vêr wees vir hulle.
Beide stem onmiddellik saam en kort voor lang is kamp afgeslaan en ons is weer aan die beweeg. Ons was skaars verby Koingnaas en my hele span is aan die slaap. Terug op die N7 en die spannetjie raak so stuk-vir-stuk wakker.
‘n Paar km voor Garies ruik ek hier is groot probleme in die bakkie. Ek dog eers een van die knape het ʼn aggressiewe wind gelos, maar my mens toe ek omkyk sien ek daar is iets soos ʼn chemiese eksperiment wat verkeerd gegaan het op die honde se matras. Pepsi sit regop en die gedaante (seker so twee hande vol se anarchie) lê hier voor haar. Ek skreeu vir Lian om Mila te gryp en seker te maak sy hardloop nie rond nie, want as daai hond nou moet besluit om te hol met daai stomende gedaante sal nie een van ons die voorval oorleef nie.
Jean gooi sy arm oor sy sitplek en druk Pepsi vas teen die bank tot ek ʼn geleentheid kan kry om die bakkie veilig van die pad te kry. Die bakkie kom tot ʼn stilstand en ek is onmiddellik by die agterdeur. Dankie tog, die toiletpapier is byderhand en ek sluk diep en pak die takie aan terwyl 4 stelle ogies vir my staar.
Terug in die bakkie en almal bars uit van die lag. Ons lag letterlik tot by Garies oor hierdie verrassing wat Mila vir ons gelos het. Soos ek Pepsi uit die bakkie help (haar heupe is nie meer lekker nie en sy kan nie self in en uit die bakkie klim nie, so ek moet haar optel elke keer), ruik ek weer die onplesierige verrassing wat Mila gelos het. Ek inspekteer die bakkie maar sien niks nie. Die honde se matras is skoon so waar kom dit nou vandaan.
“Uhmmm, pappa wat gaan daar aan op pa se arm/hemp?”, vra Jean my.
Soos ek na my arm en sy kyk is ek toe onder Mila se stront (skuus, maar ek wil net seker maak almal weet waarvan ek praat as jy dalk nie my kode woorde verstaan het nie). Ek besef toe al waar dit vandaan kan kom is van Pepsi en toe is dit so. Mila die klein wetter het OP Pepsi gebol en toe Pepsi opstaan om te sit toe gly die mengelmoes af tot op die honde se matras toe ek dit die eerste keer gesien het.
Die seuns was vir Pepsi terwyl ek myself probeer red. Nog ʼn t-shirt sien sy gat, en dit is Nommer 2 vir die trippie (ander een was toe Mila Lian nat gepie).
UITEINDELIK maak ons Elandsbaai sonder enige verder gevalle. By ontvangs vra ek die dametjie watse tipe akkommodasie hulle alles het, bloot interessantheidshalwe. Toe sy noem hul het Backpackers kamers vra Lian wat is dit. Ek besluit toe net daar na ʼn dag soos vandag gaan ons die tent in die bakkie los en ek gaan laat die knape vir die eerste keer in ʼn Backpackers slaap.
Soos ons al langs die see af stap word verhaaltjies van die laaste paar dae herhaal en dan word daar weer van vooraf gelag.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Manne – hierdie wegbreek sal ek nie sommer gou vergeet nie. Om die laaste mense te wees wat hierdie kusstrook (Noup) besoek het, is ʼn spesiale en onvergeetlike memory. Lian, my seun jou liefde vir die see en die honde is onbeskryflik en jy en Mila gaan nog baie avonture saam het. Elke keer as jy bid en jy vra dat Jesus ʼn oog moet hou op Basjan en Antjie is altyd iets spesiaal vir my. Alhoewel hul nie meer met ons is nie, het jy nie van hul vergeet nie. Jean, ek het net een woord vir jou my seun en dit is WOW. Toe dinge lyk of dit dalk gaan skeefdraai by daai duin het jy kalm gebly en dit is ʼn ongelooflike karakter eienskap om te hê my seun en jy moet daarop voortbou.
Kliek hier vir ‘n paar foto’s van hierdie Weskus avontuur.
Awesome memories ou maat, altyd lekker om jou stories telees
[…] In Elandsbaai, voor ons regs draai op die spoorwegpad, word daar besluit om die manne die hotel te gaan wys. Laaste keer wat ek in die einste hotel was, was toe ek en die seuns in 2022 oppad Noup toe was. […]