Ons reis verder op ons Noord-Kaap & Botswana toer.
As jy die eerste twee gedeeltes van ons toer gemis het, lees gerus Verneukpan wind & Putsonderwater se eensaamheid & Reën & Donderweer by Botsalano.
Van Gaborone volg ons die A12 tot Letlhakeng (+/- 125km) waar ons vir die laaste keer sou diesel kry na en van Khutse. Soos geluk dit wou hê, is een van die enigste twee vulstasies sonder diesel en dus word daar in ‘n ry gestaan by die tweede en enigste een met diesel in die omgewing. Seuns leer weer so bietjie van Afrika tyd haha.
Uiteindelik is alles vol en die bakkies se neuse stoot weer in ʼn Noordelike rigting. Plek-plek is die pad maar sleg, en bande word bietjie afgeblaas om tande en niere ‘n bietjie blaaskans te gee.
By Khutse South Gate doen ons die nodige papierwerk en dan is ons weer aan die beweeg na ons kamp. Ons sou twee aande by elke kamp wees, waarvan die hoof kamp, Khutse, eerste op die lys was. Daarna sou ons na Maharushele kamp toe skuif vir twee aande.
Ons aanvanklike plan was om in die Suide by Moreswe te kamp, maar met die onlangse brande was ons onseker hoe die area lyk, dus het Lea van Ultimate Routes voorgestel ons skuif die laaste twee aande na Maharushele.
My eerste opmerking van Khutse was hoe hoog die droë gras was en met Lian wat altyd woelig is om die vuur het ek geweet ek gaan my hande vol hê om aan hom te verduidelik ons kamp hier waar groot katte rond loop.
Die diere lewe was maar min, maar ons was bevoorreg om oor die vier dae ʼn groot trop olifante (+/- 70) by Molose panne, leeus so 40m van ons kamp by Maharushele en toe ook ʼn hiëna te sien, wat die laaste aand vir Lourens geloer het by die vuur.
Die sonsopkoms en sak saans is natuurlik iets wat geen woorde kan beskryf nie. ʼn Knetterende vuur, koue bier, seuns wat mekaar gas gee in die sand… terwyl die gras om ons kamp plek so af en toe gescan word vir enige nuuskierige besoekers (leeus of hiënas).
Ons het eendag besluit om die pad Noord na CKGR (Central Kalahari Game Reserve) te verken en watse groot sport was die enkelspoor dik sand pad nie gewees nie. By ʼn klein nedersetting (Kukumane) is daar eers gestop en bietjie gesels met die mense voor ons weer aangestoot het. Middagete was onder ʼn boom geniet en toe het ons weer die bakkies Suid gedraai, terug na ons kamp by Maharushele.
Ons tydjie by Khutse het tot ʼn einde gekom en ons moes die tog huis toe aanpak. Al die dik sand se ryery het bietjie meer diesel gesuip as wat ek beplan het so met ʼn brandstofliggie wat nie meer ‘range’ toon nie maak ons Letlhakeng net-net met 5l diesel in die tank oor.
Nadat alles weer vol diesel is stoot ons aan na Molepolole waar daar weer COVID toetse gedoen word en dan ʼn vinnige stop in Gaborone voor ons by Mokolodi Nature Reserve se hekke stop. Hierdie sou ons tuiste vir die volgende twee dae wees, terwyl ons wag vir ons COVID resultate.
Met die dat ons die laaste twee dae in Khutse uit water gehardloop het, en die seuns lyk of hulle ʼn maand laas water op die lyfies gehad het, was die koue bos stort ʼn gunsteling onder almal. Die diere lewe was iets besonders en een van die hoogtepunte was die seekoeie, visarende en natuurlik ‘n krokodil by die reservaat se groot dam.
Ons het onsself ook in die middel van ʼn weerlig storm bevind op ons eerste aand en die weer was sommer goed kwaad. Ons mense wat van die Boland kom ken nie sulke weer nie, so die seuns het maar met groot oë gaan slaap.
COVID resultate was uitgeprint en dan is ons vroeg in die pad na Ramatlabama. Ons het twee dae om die +/- 1,400km terug huis toe te voltooi so die plan was om die eerste dag (Saterdag) die lang een te maak en te mik vir Beaufort-Wes. Van Beaufort West is dit dan net +/- 400km terug Wellington toe, so as ons vroeg in die pad is, dan behoort ons net voor middagete tuis te wees en dan het ons die hele middag om alles af te pak, skoon te kry en dinge reg te kry vir skool die volgende dag.
Lourens kry vir ons oornag akkommodasie en so net na 6pm kom ons Beaufort-Wes binne. Ons skiet sommer reguit Spur toe want toe kon die seuns al ʼn bees opeet.
Sondagoggend en almal is vroeg aan die beweeg. Realiteit begin stadig insink dat hierdie die laaste gedeelte van ons vakansie sou wees en ek kon die teleurstelling in Lian se gesiggie sien toe ek met hom deel ons skiet nou terug huis toe.
Die seuns sluimer weer in en dit is ek, country musiek en die N1. Die son kom skuins agter ons op en hierdie tyd van die oggend is altyd vir my die mooiste van enige dag. Skielik kom Lian se stem van agter: “Pappa kan ons asseblief eendag terug gaan na daai dorpie?”
“Watse dorpie seun? Ons was deur ʼn hele paar.”
“Pappa die een waar die mense in die kraal woon. Kan ons hul nie volgende keer vra of ons by hul kan kamp nie? Asseblief!”
Skielik besef ek hy praat van die klein nedersetting (Kukumane) waar ons gestop het toe ons die pad Noord gevat het CKGR toe. Van al die ongelooflike goed wat ons op hierdie reis beleef en ervaar het, is sy ontmoeting met hierdie stam vir hom die hoogtepunt. Afrika het ʼn snaakse manier om met ʼn mens te werk, maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie.
“Pa belowe jou – ek sal julle terug neem na Kukumane”. Knaap sit sy kop neer en slaap verder.
So net voor 11am skud ons 5 manne vir die laaste keer blad by die Hugenote Toll Plaza en dan is dit die laaste paar kilometer terug Wellington toe.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Sjoe daar is soveel om uit te wys, maar ek dink om saam met jul twee knape in die middel van ʼn weerlig storm in ʼn canvas tent te wees terwyl die water deur die nate stadig syfer was ʼn ongelooflike belewenis. Pa moet bieg, ek het ook met een oog gaan slaap daai aand. Haha.
Kliek hier vir ‘n paar fotos van ons 3rd & laaste been van ons Noord-Kaap & Botswana 2021 toer.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende October 20, […]
Dankie Henry. Dit is puik geskryf. Verlang sommer weer terug. Dit was ‘n ongelooflike trip, en ‘n voorreg om saam met jou en die knape, ons eie en buurland, te kon verken.
Sien uit om volgende maand weer saam te kamp. Die keer, die onderpunt van ons land.
Wow, wat ‘n belewenis Henry & seuns! EK het myself nou in die avontuur geleef soos ek lees oor die ervarings! Kukumane sal beslis vir julle weer sien…volgende keer toer julle van Khutse tot CKGR!