Skip to main content Scroll Top

Lekker mense en wind by Welgegun

Blog-Main-Image-Template(1)

Skokkend om te dink dat die laaste pa-en-kind-kamp wat ons van ons gemeente, NG Wellington-Oos, kon bywoon, drie jaar gelede was. Lian se somersportskedule help nie die proses nie, maar gelukkig het die sterre dié jaar belyn en kon ons die kamp op die nippertjie bywoon.

Soos in die vorige jare was Henry de Koker aan die stuur van al die reëlings, en man, dit is lekker om net te kan opdaag vir ’n kamp waar alles reeds gereël is.

Church camp Welgegun

Welgegun-kampterrein is net buite Rawsonville geleë, op die oewer van die Breërivier. Dit is nie ’n baie groot kampterrein nie en dus meer ideaal vir groepe.

Al die klein maats het vir pa gehelp met hulle verskeie tente, en daarna het almal in verskillende rigtings ingeskiet — party met visstokke, en ander met die kampterrein se bootjie hoër op die rivier.

Vrydagaand was dit wors en stokbrood — elke jaar ’n wenner. Ons kon die jongspan darem, soort van, nie té laat in die bed kry nie 😊

Saterdag douvoordag wemel dit van die kinders soos daar oral gespeel word. Ná ’n laat ontbyt het ons groep bymekaargekom vir ’n sessie wat deur ds. Cornis gelei is.

Church camp Welgegun

Intussen het die wind begin opkom, en die wolke wat oor die Du Toitskloofberge ingestoot het, het nie goeie nuus voorspel nie.

Na ons sessie het ’n paar manne probeer om vure aan te steek om iets te braai, maar teen daardie tyd sou dit net meer probleme veroorsaak as enigiets anders. Die weer-apps is nagegaan en dit was duidelik dat daar ’n groot onweer (wind en reën) op pad is.

Persoonlik het die weer my nog nooit geforseer om ’n kamp op te pak nie, maar met die feit dat ons met ’n klomp jong maats sit, het die pa’s besluit om kamp op te slaan terwyl ons nog kan. Oor ’n paar uur, as die reën kom, sou dit ’n ander storie wees — veral met die jongspan.

Aan ds. Cornis en Henry de Koker: dankie vir al julle reëlings. Alhoewel die kuier kortgeknip is, was dit steeds ’n stunning kamp. Volgende jaar maak ons weer so.

Aan my twee seuns: Lian, pa het die tyd saam met jou baie geniet. Ek weet jou broer irriteer jou soms en jy kan slange vang, maar dit is altyd lekker om te sien hoe jy saam met ander maats speel.

Kliek hier vir ’n paar kiekies van ons kuier by Welgegun.

Welgegun

Leave a comment