Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

ʼn Swembad in die Moordernaarskaroo

Middelstevlei

Ons reis verder…

Lees gerus die eerste gedeelte van ons Moordernaarskaroo trippie – Manne tyd in die Moordernaarskaroo.

Ons volgende stop is by Middelstevlei Wildernis Kamp, so ongeveer 40 kilometer vanaf Buffelsrivier is. Die wêreld is klaar warm en, omdat Laingsburg nogal naby is, sal ʼn lekker groot Wimpy melkskommel mos ʼn lekker bederf wees.

Gewapen met ʼn melkskommel elk, is ons weer op die grondpad. Al die vensters oop, lekker tunes op die radio en die Cruiser wat die grondpad opvreet. Lian knak eerste en kort op sy hake gaan lê Mila ook.

Ek en Jean raak aan die gesels en praat so lekker dat ek die “Camp/Kamp” bordjie, wat seker so 100 meter voor die Middelstevlei Gastehuis bord gestaan het, mis ry. Ons stop by die Gastehuis bord, maar sien geen teken of aanwysing van ʼn kamp nie.

Ek besluit om aan te ry met die hoop dat dit verder is. Na so paar kilometer besef ons iets is êrens gemis. Ons ry terug na die Gastehuis, maar steeds geen teken nie. Jean stel voor dalk moet ons nog verder terug ry want dit moet hier êrens wees.

Lian sien eerste die “Camp/Kamp” bordjie, te midde van groot verligting, en ons volg die tweespoorpad tot onder ʼn groot krans. Die wêreld is warm en die paar bome by ons kamp is wragtig ʼn seëning.

Middelstevlei Camp

Die bordspeletjies maak hul verskyning en kort voor lank is ons besig met ʼn intense kragmeting terwyl ons AANHOUDEND peusel aan iets. Die hitte klap ons van alle kante af en ons besluit om te gaan soek vir ʼn plaasdam. Terug op die grootpad na die gastehuis se kant, sien Lian ʼn gedeelte by die gastehuis wat omhein is met ʼn seil. Ons stop en Lian klim op die dak om beter te kan sien.

“Pa, ek dink dit is wraggies ʼn dam!!”

Ek en Jean kyk vir mekaar en skud net kop. Die klein wetter vat ons weer vir ʼn gat, maar Jean besluit dalk is daar ʼn kans dat hy die waarheid praat en stap tot by die besigheid.

“Julle moet kom! Hier is ʼn groot swembad!”

Die seuns het nie op hulle laat wag nie en ek en Mila was kort op hulle hakke die water in. Lian gaan haal vir ons ʼn paar koue koeldranke en paar snacks en siedaar – die beste tyd hier in die Moordernaarskaroo se hitte in ʼn lekker groot, koue swembad!

Laatmiddag en ons is terug by ons kamp wat intussen in volle skaduwee is as gevolg van die groot krans reg langs ons. ‘n Vuur word aangesteek, die JBL kry lewe en ons manne pak mekaar weer met die kaartspeletjies.

Vanaand se ete is een van ons manne se gunsteling en vrek maklik – hoender en koolslaai wraps.

Skielik kry ek ʼn bakgat plan en weet die knape gaan van die idee hou, want dit beteken minder moeite die volgende dag. Ons gaan sommer so buite, onder die awning en muskietnette, kamp. Niemand is lus vir tent opslaan die tyd van die aand nie en skielik is daar erg opgewondenheid.

Middelstevlei Camp

Die volgende oggend is ons vroeg aan die beweeg en mik vir Laingsburg, waar ons ʼn lekker ontbyt geniet voor ons die pad terug huis toe aanpak.  

Aan my twee seuns, Jean en Lian: So lekker gelag vir Lian die aand toe die bobbejane begin blaf het en hy besef daar is net ʼn muskietnet oor hom haha.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Middelstevlei Wildernis Kamp.

Related Posts

Comments (1)

[…] 0    By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie October 17, […]

Leave a comment