Skip to main content Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Lesotho se berge, Koffiebaai en taai vakansie kompetisie

Lesotho

Vroeg in 2025 sit ek met die kaart en doen ’n bietjie beplanning vir die einde van die jaar se vakansie. Ons gaan definitief Kersfees by my suster en Stiaan (die seuns se nefie) in Gqeberha vier, maar voor dit moet daar eers ’n draai gery word.

Ek kyk na al die aangrensende lande, maar nie een spring regtig vir my uit nie. Dalk is dit ’n goeie tyd om iets plaaslik te doen? Siedaar — daar staan die ronde oop kol tussen die Vrystaat en Natal uit soos ’n geel puisie: Lesotho!

Lesotho is bekend as die “Kingdom in the Sky” omdat die hele land 1 000 meter bo seevlak geleë is — die enigste land ter wêreld met hierdie unieke kenmerk. Dit is ’n bergagtige land wat volledig deur Suid-Afrika omring word en word gekenmerk deur sy indrukwekkende hoëlandlandskappe, Basotho-kombers-erfenis, mohairbedryf en eeue-oue rotskuns.

Ons eerste stop op ons 4 000 km lange reis is die Karoo Nasionale Park, net voor Beaufort-Wes. Die park is al verskeie kere deur vriende aanbeveel, maar het nog nooit deel gevorm van enige van ons reise nie.

Die Karoo is erg warm en ons is sommer direk van ontvangs swembad toe om ’n paar rug bomme te stoot. Met die ergste hitte agter ons ry ons die mooi Klipspringerpas (sirkelroete) voor ons manne vuur aansteek by die kamp. ’n Klein bietjie teëspoed met een agterwiel skep ’n puik geleentheid om die seuns bekend te stel aan die kuns om ’n voertuig se wiel te ruil.

Die volgende oggend klim ons op die N9 na Nieu-Bethesda. Ons stop in Graaff-Reinet om die Karoo Origins Fossil Centre te besoek, wat natuurlik al Lian se verwagtinge plat geskiet het. Ná ’n vinnige besoek aan die Valley of Desolation pak ons die laaste ±60 km na Nieu-Bethesda aan.

Nieu-Bethesda is ’n klein, rustige dorpie in die Oos-Kaap aan die voet van die Sneeuberge. Dit is bekend vir sy kunstenaarsgemeenskap, die bekende Uilhuis (Owl House) en ’n stadige, tydlose leefstyl.

Twee dae voor ons vertrek kontak vriende, Mauritz en Lindy Kriek-hulle (buurmense van Wellington), my en stel voor ons kanselleer ons verblyf in Graaff-Reinet en ry deur na hulle. Hulle gastekothuis, Karoo Healing, is beskikbaar — en hoe sê ’n mens nou nee vir so ’n geleentheid?

Die Krieke-hulle doen ongelooflik baie moeite en wys vir ons soveel mooi plekkies in die omgewing. Een dag is net te kort, maar ongelukkig moet ons weer aan die beweeg kom.

Volgende stop: Matatiele, waar ons gaan aanbly by Philip Rawlins van Resthaven Guesthouse. Jurgens Schoeman (Live The Journey) het my in kontak gesit met Phillip en met die dat hy Lesotho uit die palm van sy hand ken het hy glad nie geskroom om advies te gee oor ons roete deur Lesotho nie.

Die volgende oggend pak ons die bekende Sanipas aan. Ongelukkig lê die berg onder ’n digte mis, so die seuns kon nie die hoogte beleef nie. Ons het egter ’n benoude oomblik of twee gehad met ’n vragmotor wat begin terugrol het en ons net-net gemis het.

Ek wou graag ’n koue bier by die “Highest Pub in Africa” geniet, maar ons word in ons spore gestuit en ingelig dat besprekings verpligtend is (effektief vanaf 1 Januarie 2025).

Van Sanipas reis ons deur die noordoostelike deel van Lesotho op die A1. Die pad is in puik toestand, maar die spoedwalle bring jou letterlik tot stilstand — anders kan jy verseker wees jy gaan iets aan jou voertuig beskadig.

Die pad kronkel deur die immergroen berge en daar is kilometers waar jy nie mens of kraai sien nie. By Afriski besluit ons om ’n draai te maak by Afrika se enigste ski-oord. “When in Rome, do what the Romans do,” en so geniet ons ’n Maluti-bier (’n volle een vir my, ’n halwe vir Jean en ’n blertsie vir Lian 😊).

Ons eerste aand in Lesotho bring ons deur by New Oxbow Lodge, sowat 20 km van Afriski af. Die oord lê op die oewer van die Malibamatso-rivier. Toe ek daardie rivier sien, het ek geweet wat kom — ons het skaars gestop toe wil Lian reeds gaan swem. Die res van die dag word in die rivier deurgebring en die aand sluit ons af met ete in die restaurant.

Lesotho, Oxbox Lodge

Van Oxbow (Noordelike gedeelte van Lesotho), beweeg ons verder antiklokslag tot by Thaba Bosiu Cultural Village.

Die dorpie is ’n belangrike historiese en kulturele erfenisterrein waar besoekers meer kan leer oor Basotho-tradisies, geskiedenis, musiek en leefwyses. Dit was ’n eerste vir my, maar Lian was mal oor die tradisie en kort voor lank stap hy die wêreld vol met ’n Basotho-hoed.

Die volgende oggend volg ons die A5 deur klein dorpies diep in die Malutiberge tot by Semonkong, ook bekend as “Place of Smoke”, die tuiste van die 192 m hoë Maletsunyane-waterval — een van die hoogste enkeldruppelwatervalle in Suider-Afrika.

Lesotho, Semonkong

Baie jare gelede het ons hier langs die waterval geabseil — ’n ongelooflike ervaring — maar die seuns is nog nie reg daarvoor nie. Daarom reël ek vir ons ’n oornag-perdry. Hoe moeilik kan dit nou wees? Ry ’n ent, slaap in ’n dorpie en ry die volgende dag terug. Hoe taai kan dit wees? Maklik! Wie is bang?

“OH MY HAT!”

Soos Jean, diep in dag 1 êrens op ʼn berg, sou sê toe ons stop vir ʼn breuk: “Genade pa, van al pappa se idees is hierdie een van pappa se swakste by verre” 😊.

Met ons aankoms het die weer gedraai en die reën het hard begin val. Ek het geweet ’n tent in dié weer gaan moeilik wees, so ek hoor of daar alternatiewe verblyf is — en siedaar, ons bevind ons in een van hul ses-slaap-‘backpacker’-rondawels. Die opwinding was groot; almal wou weet wie ons kamermaats vir die aand sou wees. Ons sluit die aand af met ’n lekker ete by die Duck and Donkey Tavern.

Die volgende oggend word ons wakker met ’n huppel in ons stap. Ná ontbyt ontmoet ons ons twee gidse wat die perde en toerusting gereed kry. Jean en ek het ’n paar bedenkinge oor wat voorlê, maar Lian is in ʼn oogwink op sy perd en wou net dinge aan die gang kry.

Lesotho, Semonkong

Die vorige dag se reën is iets van die verlede, maar die wêreld is goed nat. Ons beweeg rustig deur die buite wyke van Semonkong sodat ons kan gewoond raak aan die perde. Lian stel voor elke man se perd moet ʼn naam kry, en siedaar daar het ons vir Bob (myne), Anton (Jean) & Ginger (Lian) wat ons op hierdie avontuur gaan neem.

Kort voor lank is ons alleen in die Lesotho-berge met geen teken van mens of kraai nie. Die galop is maar ongemaklik op die boude en dit voel of alles los skud in my lyf.

“Sir, can we please start running?” Lian se woorde was skaars weg en daai knaap aka ons gids, skreeu daar iets wat natuurlik net die perde verstaan, maar dit voel soos ʼn mortier wat afgaan soos daai perde weg trek. Ek wou nog ʼn kragwoordjie uiter, maar voor ek aan een kon dink trek Anton & Ginger (Jean & Lian se perde) weg, met Bob (myne kort op hul hakke, maar natuurlik met ʼn effense swaarder vraggie aka ek).

Ek wens ek kon dit vir iemand verduidelik, maar die seuns omhels die oomblik en in ʼn oogwink lyk hulle soos ervare ruiters wat mekaar jaag. Ek aan die anderkant weet as Bob skielik gaan stop of rigting verander sal ek skade maak aan Lesotho se eko sisteem.

Toe my Garmin 11km sê, breuk ons vir ʼn vinnige bene rek. Ek kyk en kyk, maar daar is geen teken van enige lewe nie. Ek vra so vriendelik ek kan hoe ver nog, en al wat ek kry is, “almost half way”. Goeie donner – hier sterf ek vandag…

Ons gaan berge op en berge af en ek is sprakeloos waar daai perde kan loop. Die opwinding onder ons 3 manne is semi gedemper en daar is min geselsies. Elk is doenig met sy eie gedagtes, en dan skielik kom Jean se stem deur…

“Genade pa, van al pappa se idees is hierdie die swakste by verre!”

Ons al 3 bars uit van die lag en daar word gesels hoe lekker dit gaan wees as ons uiteindelik by ons hut is.

Ons gids wys in die verte waar ons gaan bly, maar daar is ʼn klein hindernissie (ʼn rivier) wat ons eers moet deur gaan. Toe die twee gidse by die oewer van die rivier stop en gesels toe weet ek hierdie gaan interessant wees. Ons 2de gids met die pakperd gaan eerste, maar dit is verby “sketchy” en ons pakperd het amper ge-swem-Jannie-SWEM!

Jean is volgende. Die gids wys hy moet ʼn ander lyn neem en kort voor lank is Jean se perd tot in sy middel lyf in die water. Die perd sukkel oor die rivier klippe en teen die tyd het ek lankal ophou asemhaal.

“Take him to the right JEAN!”, skreeu ons gids. Ek is so verstom dat hy Jean se naam onthou het, want ek het dit een keer vir hom genoem toe ons op die perde klim by Semonkong. Jean & sy perd worstel voort en kom uiteindelik ander kant uit.

Ek wil nie Lian hierdeur stuur nie, maar daar is geen keuse nie. Daar is nie van omdraai nie. Ek wil so bietjie advies vir Lian gee, maar hy knip my kort…

“Ek het dit pa! Sien jou anderkant!”, en daar gaan hy. Sy lyn is perfek en hulle kruis sonder enige voorvalle.

My beurt. As ek en my perd vandag gaan swem, sal ek nooit ooit die einde daarvan hoor nie herinner ek myself soos ek Bob die rivier in vat. Bob wik en weeg om Jean se amper-versuip lyn aan te pak, maar ek trek kliphard na regs dat ons presies in lyn is met Lian se roete en na ʼn paar O-VREK oomblikke is ons aan die ander kant.

Ons tuiste vir die aand is ʼn rondawel op die kruin van die berg, met ʼn ongelooflike uitsig oor die landskap. My Garmin se 25km wat ons afgelê het op die perde en ek belowe jou my lyf het dit gevoel. Daar word gelag en high-fives uit gedeel en almal voel soos Olimpiese atlete 😊.

ʼn Beweging in die skaap/bok kraal, voor ons rondawel, vang Lian se oog. Daar is ʼn werpsel hondjies (paar weke oud), en sonder haarsel spring Lian in die kraal en gaan sit tussen hulle. Sy liefde vir diere is net onbeskryflik mooi.

Nes ek in die middag sonnetjie weg sluimer kom ons gids met ʼn huppel in sy stap…dit lyk nie belowend nie…

“Come guys, let me go and show you an amazing view”, en daar gaan ons weer. Gelukkig die keer nie met die perde nie. Paar km al langs die kruin van die berg, maak die wêreld voor ons oop maak. Wat ʼn ongelooflike ervaring om daar te sit saam met my seuns en oor die dag se gebeure te lag.

Lesotho, Semonkong

Terug by die hut begin die vrouens voorberei vir die manne wat terug kom met die beeste, skape & bokke. Die reën wolke het weer saam getrek, en kort voor lank kom die reën en ek verstaar my aan die herders wat hulle diere versorg in die reën.

Die aand se ete (wat ons self voorberei het) is ʼn verhaal vir ʼn kuier om die vuur. Ek kan ʼn kortverhaal daaroor skryf…

Volgende oggend sak ons die berg af waar ons weer die einste rivier kruis (op ʼn ander plek) en dan met ʼn sirkel roete vroeg middag weer by Semonkong aansluit.

ʼn Onvergeetlike ervaring en een wat ek en seuns nog lank oor gaan gesels & lag. Ons kuier by Semonkong het einde se kant toe gestaan en vroeg die volgende dag word kamp op geslaan en dan vat ons die lang pad na Koffiebaai via die Qacha’s Nek grenspos.

Alhoewel die afstand nie so ver is nie, het dit soos ʼn leeftyd gevoel met al die padwerke van Matatiele tot by Kokstad. ʼn Maat van Wellington, Rainier Karstel, het aangedring dat as ons Koffiebaai besoek, moet ons gaan aanklop by Roy van White Clay Resort, en maggies wat ʼn lekker plek was dit nie. Dit is een van daai plekke wat jy moet besoek met jou visstok en paar boeke. 

White Clay & Hole In The Wall @ Coffee Bay

Daar was wel ʼn rede hoekom ek die ekstra draai ingewerk het op ons roete. Lian het die jaar van Hole In The Wall geleer in Graad 5, en toe die kaart voor my oop was en ek kyk na opsies van Lesotho na Gqeberha het die naam net uitgestaan en dit was so lekker om te sien hoe opgewonde hy was toe ons die volgende oggend die massiewe, losstaande rotseiland besoek het.

Na 9 dae op die pad, kom ons uiteindelik by my suster-hulle aan in Gqeberha. Stiaan, seuns se nefie, is mal oor sport, en nes my twee hoogs kompeterend en ek LOVE dit. Die 3 jongmanne is heeltyd doenig met sport en dit vat soms nie lank voor daar ʼn ontploffing is nie. Die jaar het ek ʼn plan gehad…’n Familievakansie Kompetisiereeks!

“If you’re not first, you’re last.”

Daar was nul deelnemer trofeë op die spel. Daar kon net een nommer 1 wees, wat drie verloorders tot gevolg gehad het 😜. Hierdie jaar het ons meer struktuur, meer reëls, meer aktiwiteite en meer emosie bygevoeg…

Die 2025-reeks het bestaan uit:

  • Padel
  • Sandboarding
  • Smash Ball
  • Gholf
  • Go-karting
  • Tafeltennis

En die FINALE resultate:

  1. Jean (moes seker geluk gewees het 🤔)
  2. Stiaan (nefie)
  3. Henry
  4. Lian

Aan my twee seuns: Dit bly ’n voorreg om herinneringe saam met julle te skep. Hoe ouer julle raak, hoe meer sal julle Anthony Bourdain se woorde verstaan: “Travel isn’t always pretty. It isn’t always comfortable. Sometimes it hurts, it even breaks your heart. But that is okay. The journey changes you; it should change you. It leaves marks on your memory, on your heart, and on your body. You take something with you. Hopefully, you leave something good behind.”

Kliek hier vir paar kiekies van ons reis deur Lesotho.

Karoo National Park

Related Posts

Leave a comment