
Ek weet nou nie of dit ‘n gesegde of ‘n wyse sê ding is nie, maar een ding wat ek al eerstehands beleef het is dat as jy iemand regtig wil leer ken gaan toer/reis saam met hulle. Om saam met hulle om die vuur te kuier tuis is “quick & easy”, maar as jy ’n paar dae saam spandeer en as daar soms ʼn hick-up of twee jou kant toe gegooi word dan sal jy ʼn idee kry van die persoon se karakter.
Nou met die filosofiese stukkie agter ons, kom ons begin by die begin.
So sit ek een oggend by Perfect Place (bekende koffie winkel in Wellington) en is doening met my eie gedagtes toe ou Anton Bartman skielik hier voor my kom staan. Blad word geskud en ons begin lekker gesels. Die knaap vertel van ʼn fietsry toer wat hy saam met ‘n paar ander manne van Wellington gaan aanpak. Die toer, genoem Beaufort 500, sou begin in Wellington en dan via die Tankwa Karoo na Sutherland tot by Beaufort Wes oor 4 dae.
Toe ek die woord Tankwa Karoo hoor, het die man my aandag ten volle en my kop begin al rond loop met gedagtes. Wag wag – twee stappies terug – ek gaan nie ʼn hel daai afstand met ʼn fiets ry nie so moet nie eers daai gedagte kry nie liewe leser, maar voor ek myself kon keer begin ek wonder hoe awesome dit nie sal wees as die manne op dag een, wat 150km gaan wees, so 10km voor hul 1st aand se bestemming hier langs die pad ʼn knaap sien wat meeste van hul al ontmoet het, maar meer belangrik hy staan daar met ʼn yskas vol koue bier vir hulle. Dit alleen is mos ʼn verdomde goeie rede om weg te breek die naweek.
ʼn Dag of twee gaan verby en so loop ek Tertius Joubert & Hugo van der Merwe raak en dié vra wat my planne is vir die naweek. Verduidelik kortliks wat ek gaan doen en voor ek my kon kry word daar besluit maar hul gaan saam. Maar wag, as ons met twee voertuie wil ry, dan kort ons ʼn 4de makker. Hugo skiet ʼn gedagte na Mauritz Kriek en “the rest was history” soos hul sou se.
Al 4 het al menigte male saam om ʼn vuur gestaan, maar ek persoonlik, het nog nie saam met een van die knape gereis nie. Persoonlikhede so ver verskillend dat selfs die kombinasie van ʼn Suid Koreaanse pofadder gekruis met ʼn Boksburg Jack Russel na ʼn beter reis kombinasie sou gelyk het vir die normale man op die straat.
Donderdag laat oggend en ons spannetjie verlaat Wellington met bravade & ʼn groot lus om net bietjie weg te kom van die geraas. Ons word vergesel deur die manne se jong knape so dit was maar moeilik om te kies wie meer opgewonde is: die pa’s of die seuns?
Na ʼn vinnige koffie by Morale Coffee net buite Wellington is ons aan die beweeg Ceres toe waar daar eers ‘n ontbyt geniet word by die Wimpy en dan die laaste goed gekoop word by Kaap Agri.
Nou, soos vroeër genoem was die hoof rede vir hierdie vinnige Tankwa Karoo uitstappie om die Beaufort 500 manne in te wag met ʼn koue bier so paar km voor hul 1st aand se eindbestemming (Sadawa Game Reserve). Andre, eienaar van die plekkie, het vir ons vooraf verduidelik van ʼn driffie so 6k voor die afdraai na die plaas, waar ons die manne kan in wag.
Die driffie word gekry en ons maak ons gesellig langs die pad. Kort voor lank kom stop ʼn paar Cruiser manne wat op ʼn “Legend FJ45” trippie is by ons en terwyl ons gesels noem die een knaap maar hul het so paar min terug verby ʼn klomp mal fietsryers gery. Sy woorde was skaars koud toe sien ons die eerste manne op hul martelpype die driffie afsak.
Blad word geskud en elk kry ʼn koue bier. Die manne lyk maar peh en die Tankwa se hitte is nie jou maat nie. Die eerste dag se einde vir die manne was om die draai so na ʼn vinnige bier en geselsie is hul weer op pad en ons sou later die middag by hul aansluit by Sadawa.
Vrydagoggend en die Beaufort 500 is sommer vroeg aan die beweeg. Vandag sou hul via Ouberg Pas tot in Sutherland ry wat glo ʼn riller van ʼn dag was, het ons later gehoor.
Van Sadawa ry ons terug na die R355 en draai regs op pad Tankwa Padstal toe waar die manne iets vir die maag & keel genuttig het.
Teen die tyd was die wêreld wraggies warm en ek dink dit was tyd dat die manne die gat water by De Mond moet gaan beleef. 30km verder draai ons links by die trekkerband en dan nog so +/- 20km kom ons by De Mond se hek aan. Die manne se monde hang uit toe hul die Doringrivier sien en ons het skaars gestop toe is die seuns in die water.
Vuur word aangesteek en al die wêreld se probleme is iets van die verlede. Die vorige twee dae se gebeurtenisse word in diepte bespreek en soos menigte van die goed mos maar is kom die vraag: “Maggies boys, hoekom het ons dit nie al lankal gedoen nie?”
Saterdagoggend en niemand is lus om haastig te wees nie. Dit is sommer van vroeg af al warm en toe Liam ons vertel het van ʼn lekker swem plekkie laer af teen die rivier is daar besluit niks jaag ons nie – los alles en kom ons gaan swem manne.
Later die oggend en De Mond word gegroet. Terug by die trekkerband draai ons links op die R355. Paar km verder en die Tankwa Karoo maak sy merk – linker voorwiel op Hugo se voertuig het ʼn “slow puncher”. Druk so 3 x plugs in en ons is weer aan die beweeg met gekneusde egos en Tertius & Mauritz wat nie kan ophou lag vir ons terugslag nie.
Paar km verder en ons draai regs in by Halfway House. Seuns is reguit na die ronde swembad toe om te ontsnap van die hitte terwyl ons teug aan ietsie koud’s.
Kort voor lank is ons weer aan die beweeg. Die plan was eenvoudig – ʼn vinnige stop by Tankwa Tented Camps en dan gaan ons gou draai maak op die “burn site” en dan verder aanstoot tot by Perdekloof wat in die Tankwa Reservaat is.
By Tankwa Tented Camps (waar daar ʼn privaat funksie was) loop ons vriende raak en voor ons ons kry is ons in die bekende Onverklaar Bar en geniet ʼn paar koues.
Die volgende gedeelte van ons avontuur/reis kan ek nou sover moontlik probeer rooskleuring in kleur, maar die kort van die lang storie is dat die samesyn van so ʼn order was dat daar te veel kaarte teen ons was om aan te stoot na Perdekloof. Maar die troef kaart was toe Henk (eienaar) se: “Nee manne, jul gaan nêrens nie. Gaan slaan jul tente op daar agter die wit huisie en dan kom kuier jul verder saam met ons”. So hoe kan mens nou met so persoon stry.
Ok, ons skip so paar paragrawe en ons is skielik hier by Sondagoggend. Die wêreld lyk vaag en tekens van gisteraand se verjaarsdag partytjie (die privaat funksie wat ek vroeër genoem het) is orals sigbaar. Stretchers word op geslaan en Tertius se boswa word op gepak. Na ʼn vinnige shower is ons aan die beweeg. Nie een van die manne het al gesien waar hul Africa Burn hou nie, dus is ons eers na die bekende Burn Site om te kyk of daar dalk enige strukture gespaar is.
Na ʼn paar kiekies by een van die staande strukture draai ons die voertuie se neuse weer terug Wellington toe.
Sondagmiddag en ons suiker Wellington binne. Die 4 dae was lank op die lywe en ek dink almal het bietjie rustigheid gesoek op die bank voor die TV.
Manne dit was ʼn voorreg en ons maak sommer gou weer so. Volgende keer gaan wys ons die jong knape hoe verlate Verneukpan werklikwaar is.
Kliek hier vir paar foto’s van die wegbreek naweek.
Wat n belewnis Henry!!! Soos ek gesê het die tankwa sien my gou weer!!!!
Hierdie is BRILJANT geskryf Henry. Well done!!! Ek sou net dink dat daar een ietsie kort, maar ek se liewer niks!! Haha
Vrek Henry ons pa moet so ongelooflik trots wees op jou dat jy sy liefde vir ons land en sy mense so voortleef. Briljant geskryf voel sommer of ons saam reis as mens dit lees.
Jis Henry..Dit was regtig great om julle manne te sien toe ek op n baie donker plek op die fiets was…Maar daai yskoue Bier het vinnig weer my ligte aangesit..
Julle 4 manne se stop was beslis vir ons n hoogte punt op ons fietstoer