
Dit is weer Vrydag en hoogtyd dat ons ontsnap van die wêreld se geraas.
Alhoewel die Kaap se reën uiteindelik gekom het, was dit nie ʼn groot genoeg verskoning om die naweek se ontsnapping na die Karoo te mis nie.
Die wêreld is nat en ons ry in die reën van Wellington tot net na Theronsberg pas, anderkant Ceres. Die Groenewald’s, wat bietjie vroeër gery het, het intussen vir ons gewag waar die grondpad (R355) begin het. Soos altyd, begin die VHF radio’s lewe kry soos ons die voertuie se neuse Karoo toe trek.
Plek plek verdwyn die reën en raak minder al hoe nader ons aan Gatsrivier se rigting beweeg.
Intussen het Johan se stem ook op die VHF verskyn, wat ʼn aanduiding is dat hy nie te ver agter ons is nie.
Uiteindelik by Gatsrivier word ons verwelkom deur ons gashere, Wessel & Caron. Ons kry die presiese kampplek waar ons so paar jaar terug ook gekamp het, en wat lekker beskud is teen wind en ligte reën.
Ons spannetjie vir die naweek was:
- Groenewald’s (Jacques, Carlize & Rialé)
- Dreyer’s (Johan, Nicolene & Barbara)
- Jonker’s (ek, Marli, Jean & Lian)
Tente vlieg links en regs op en die kampvuur kry lewe, met ʼn staan-rib (natuurlik) nie te ver daarvandaan nie. ʼn Knetterende vuur bly maar iets spesiaal en dit vat nie lank en die week se geraas is iets van die verlede.
ʼn Ou gunsteling was op die spyskaart vir die 1st aand – steak & chips. Maar net soos die steaks die rooster tref, toe begin die wolke bo ons oop maak en gou-gou moet ons Johan se gazebo laat staanmaak.
Die reën kom en gaan, maar dit het nie ons lus vir die buitelewe geblus nie en die kuier gaan voort.
Saterdagoggend en die wolke is sommer donker bo ons. Ons almal weet dit gaan definitief weer reën, dit is net wanneer gaan dit kom wonder almal.
Jaffels word eers geniet voor daar besluit word om die area te gaan verken. Die bestuurder, Wessel, het gevra dat ons paar hooibale gaan neer sit vir die Zebra’s in een van die kampe wat natuurlik ʼn groot treffer onder die kinders was.
Daarna het ons die baie populêre waterval 4×4 roete aangepak. Soos ons van die groot grondpad af draai op die roete het die vlae reën om ons begin neer sak. By die waterval was daar nie lank vertoef nie, want die wêreld is koud & nat.
Terug by die kamp word daar gou eers ietsie kouds vir die keel by die Zink-Krip (boskroeg) geniet saam met ʼn paar ander gaste.
Die reën het vir eers gestop en ons het nie op ons laat wag om die geleentheid te gebruik om nou die vuur te stook nie. ʼn Skaaprib & sterkte (dankie Deli-Co) maak hul verskyning langs die vuur.
Jacques het ʼn paar vye latte vir die kinders van die plaas saam gebruik vir hulle stokbrood en kort voor lank sit al 3 voor die vuur met ʼn lat + deeg.
Die dag se gebeure word herhaal in geselsies om die vuur terwyl kinders (stokbrood take is nou al lankal oorgehandig na ma & pa natuurlik) hardloop weer die wêreld plat.
Weereens het die Karoo ons nie teleurgestel nie met sy ongelooflike sterre kombers nie. Dink nie daar is ʼn plek waar die sterre meer duidelikker skyn as in die Karoo nie.
Sondagoggend en die wolke maak reg vir groot reën. Almal weet sommer dat hierdie kamp so gou moontlik opgeslaan moet word, want as die wolke gaan oop maak dan gaan hy nie sommer gou stop nie en dit gaan ook nie ʼn ligte reentjie wees nie. Hy gaan kom met mening.
ʼn Laaste kiekie word by die ingang van Gatsrivier geneem voor ons weer in die rigting van Ceres skiet.
Soos ons Ceres in ry, tref die kouefront (waarteen almal ons gewaarsku het) ons met mening en die Hemel maak sommer al Sy sluise oop. Gepaard met die reën het die wind ook nou by gekom en nou moet daar gefokus word om hierdie ysters op die pad te hou in die slegte weer.
By Winterberg Mountain Lodge word middagete voor die kaggel geniet voor ons die laaste stuk Wellington toe aanpak via Bainskloof.
Puik naweek saam met puik mense.
Kliek hier vir paar foto’s van die naweek.