19th Ave New York, NY 95822, USA

Honde reis saam na Ymansdam

Blog Main Image Template

Een van die seuns (veral Jean) se gunsteling YouTube kanale is die van Brodie van YBS Youngbloods. Orals waar hy reis is sy hond, Stryda, saam met hom – of dit in sy UTV, Cruiser, boot of selfs op sy jet-ski, Stryda gaan orals saam. Ek het geweet dit gaan net tyd wees tot die jong man met die voorstel kom dat ons, ons honde (Pepsi, Basjan & Antjie) saam op ʼn naweek wegbreek vat.

Wel daai dag het toe gekom…

Pepsi (+/- 9 jarige Curley Coated Retriever), Basjan & Antjie (+/- 15 jarige Jack Russels) is al ʼn leeftyd deel van ons familie, al 3 staan aan die verkeerde kant van die honde jare en ongelukkig staan ouderdom vir niemand stil, so hoeveel tyd ons nog met hulle oorhet sal niemand weet nie. Dus het ons 3 manne die geleentheid met ope arms aangegryp en Vrydagoggend is al 6 van ons in die Cruiser en op pad Ymansdam toe in die Tankwa Karoo.  

Om by Ymansdam uit te kom moet jy deur die Tankwa National Park ry en dan volg jy net die Hammelhoek aanwysings. +/- 20km verder sal jy die klein bordjie van Ymansdam sien. Kyk maar mooi uit daarvoor en moet nie soos ek die ding verby ry want jy luister te lekker country nie.

Die Tankwa Padstal kon nie vinnig genoeg kom nie en ek moes geweet het die twee Jack Russels sou woelig wees, maar blikskottel hulle stop net nie. Seuns het dit natuurlik ge-love en dit was chaos vandat ons uit Wellington gery het tot die deur oopgevlieg het by die Padstal. Wou my amper versuip het aan soetwyn, maar gelukkig was die bar toe.

Winters camp @ Ymansdam

Die Tankwa het lekker water gekry die laaste paar dae en orals lê daar waterpoele in die veld. Persoonlik het ek nog nie die Tankwa so vol water gesien nie, so dit was lekker om dit eerstehands te beleef.

Die sinkplaatpad deur die Park is plek-plek so sleg dat ek later gevoel het ek gaan tande verloor as ons nie stop vir ʼn bene-rek nie.

Winters camp @ Ymansdam

Uiteindelik by Ymansdam aangekom, word daar eers lekker gesels met tannie Nettie voor sy vir ons verduidelik hoe om by die boskamp uit te kom.

Die boskamp is in ʼn kraal en dit sou perfek werk, veral met die honde wat lief is om rond te loop en met die dat die twee Jack Russels amper doof is, help roep nie meer nie.

Winters camp @ Ymansdam

Terwyl ek kamp opslaan is die seuns en die honde die vlaktes in. So af en toe hoor ek hoe word die honde geroep en dan is dit weer stil.

Dit is sommer al vroegaand koud en ek besef my idee om onder die awning saam met die honde (ek op een stretcher & hulle 3 op die ander 1) dalk teen my gaan tel want ʼn ligte briesie het opgekom en dit het die temperatuur sommer ekstra laat daal.

Neem toe maar die veilige opsie en zip 2 van die “side-walls” van die awning aan, wat definitief ʼn groot verskil gemaak het.

Winters camp @ Ymansdam

Saterdagoggend en die honde is sommer al vroeg woelig. Terwyl die seuns nog bietjie lê gaan ons 4 vir ʼn stap.

Winters camp @ Ymansdam

Laatoggend besluit Lian dit is tyd om ʼn vleisie vir die honde te braai, terwyl Jean sy gunsteling hoender wraps vir ons aanmekaar slaan. So net na middagete het die weer begin instoot en kort voor lank moes ons die res van die “side-walls” aansit om te help met ‘n ligte reëntjie wat begin uitsak het.

Laatmiddag is die reën iets van die verlede en onmiddellik word daar besluit om nog verder te gaan verken voor ons later vuur sou aansteek.

Winters camp @ Ymansdam

Die naweek het Lian besluit hy neem beheer van al die vure so terug by ons kamp sleep die knaap twee sakke Kameeldoring nader en vuur word aangesteek. Jean pak ʼn rooster vol vleis en dan word daar lekker gesels om die vuur.

Die honde het bietjie gesukkel met die koue en hulle het besluit dit is beter om op die stretcher te wees as hier op die koue grond langs ʼn vuur.

Winters camp @ Ymansdam

Dit was regtig baie oulik om te sien hoe besorg die seuns oor die honde was die naweek. As daar nie vir hulle ʼn steak gebraai word nie, dan word hulle toegemaak onder die komberse en gereeld was daar met hulle verken en rugbybal geskop.

Ek het die naweek ook net weer gesien hoe beide van die seuns die natuur geniet en elke dag is ʼn ander avontuur saam met hulle.

Winters camp @ Ymansdam

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Om met 3 honde in die middel van die vlaktes te gaan kamp, is nie vir enige persoon nie. Maar julle 2 het nie een keer gekla, of net hande in die lig op gegooi nie. Julle het regtig baie mooi aandag gegee aan ons 4 voet familie lede en daarom is ek baie trots op julle.

Kliek hier vir ʼn paar foto’s van ons kuier by Ymansdam.

Winters camp @ Ymansdam

Related Posts

Leave a comment