Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

‘n Koue front druk ons vas by Zwartkop Guest Farm

Zwartkop

Vrydagmiddag en die weer in Wellington lyk kwaad. YR.com voorspel ʼn groot koue front wat deur die Weskaap gaan beweeg en die eerste reën gaan Wellington die middag al tref. Ek het geen begeerte om daarvoor te wag nie, so ons 3 manne en Mila besluit om in die pad te val Tankwa Karoo toe.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Dawie Joubert van Zwartkop Guest Farm het ons manne genooi om bietjie by hul Lapa te kom kamp en as ek so na die donker weer in my truspieëltjie kyk, is ek dankbaar ons het die lapa tot ons beskikking.

Die veld in die Tankwa is verstommend groen en ek het dit nog nie so mooi beleef nie. Ons het skaars die laaste pen in die grond gemoker toe die Joubert’s (Bertie, Roelien en gesin) daar stop.  

Blad word geskud en die kinders skiet die vlaktes in om die rivier te gaan verken saam met Mila.

Die lapa is beskikbaar vir al die kampeerders, maar as jy soos ons wil maak kan jy sommer direk langs die lapa kamp.

Dit is ten volle ingerig soos jou kombuis tuis, maar spog ook met ʼn lekker pizza oond en swembad vir daai warm somerdae.

Mila het die kinders en vlaktes terdeë geniet. Waar hul beweeg kan jy maar weet is sy ook daar. Sy is nog pure stadshond en as ʼn groot duif op haar afvlieg trek sy daai stert styf onder haar g@t vas, ore word plat getrek en dan hardloop sy vir lewe en dood na die lapa se veiligheid… Hahaha!

Dit is lekker om meer en meer plekke te sien wat troeteldiervriendelik is. Vir hierdie 6 dae avontuur van ons het ons 2 ander plekkies ook gekontak, maar ongelukkig was die terugvoer negatief ten opsigte van diere en dus het ons maar verby gehou.

Die aand trap die reën en wind ons vas met alles wat hulle het. Die seuns snork ʼn bars hou bo in die daktent en ek sit met Mila wat na my kyk met groot oë. Haar oë smelt/smeek: “pa ek is bang, kan ek nie ook op die stretcher slaap onder die kombers nie groot asb?”. Aaai ek is ook nou nie die skraalste outjie nie, maar ons maak dit werk en elkeen kry soort van ‘n plekkie op die stretcher.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Dis die volgende oggend en die wêreld is koud, my mens. Die son is darem uit, maar in die verte kom daar nog swaar weer en dit gaan nie lank vat voor dit ons gaan tref nie.

Nie te lank nie of die kinders vaar die kos in.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Die reën het vir die res van die dag gekom en gegaan, maar gelukkig nie so sterk soos die vorige aand nie en ou Bertie kon darem vir ons ʼn lekker hoenderpot op die vuur aanmekaarslaan.

As die lapa begin stil raak, kan jy maar verseker weet die kinders is êrens die vlaktes in.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Laat middag en die vuur kry weer lewe. Daar heers groot opgewondenheid, want die Bokke pak die verdomde Aussies. As daar nou een ding is wat my meer irriteer as Lego onder my voete, is dit die arrogansie van daai klomp eilandbewoners.

Ek het vir ons ʼn projektor en laptop saamgesleep terwyl Roelien het sekergemaak ons het ʼn wit laken en kort voor lank, hardloop die Groen en Goud op ʼn groot skerm uit terwyl ou Bertie daar ʼn paar onskuldige Spice-Golds skink.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Sondagoggend en daar is GEEN teken van reën of wind nie. Die wêreld helder sommer op, maar ongelukkig is dit tyd vir oppak. Die Joubert’s keer weer terug na Wellington, en ons skuif aan na ons volgende bestemming – Gecko Rock, naby Touwsrivier.

Aan die Joubert’s (Bertie, Roelien, Josh, Jomien) asook Mali Louw: dankie dat julle so ʼn awesome unit is. Nooit bang vir ʼn uitdaging nie. Ons moet wel nog praat oor al die lag na die klein terugslag van my tand… Genade, dit is ʼn storie vir ʼn ander dag, maar ja na die naweek is ek daar weg as Henry Die Seerover… Hahaha!

Camping @ Zwartkop Guest Farm

En dan natuurlik aan Dawie Joubert en haar span by Zwartkop Guest Farm: dankie vir jul gasvryheid en dankie dat julle bereid was om ʼn stukkie van jul mooi wêreld met my en die seuns te deel.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Aan my twee seuns, Jean & Lian: soos altyd is die stories, gebeurtenisse en al die lag in die tent gewoonlik dié wat pa nooit sal vergeet nie. As dit nie Jean is wat ons uit die tent poep nie, dan is dit Lian wat nie jou lê kry nie.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Zwartkop Guest Farm.

Camping @ Zwartkop Guest Farm

Related Posts

Comments (2)

[…] 0   By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie July 20, […]

[…] gerus hoe hierdie reis van ons begin het by Zwartkop Guest Farm en toe na Gecko […]

Leave a comment