
Ek loop al lank met die idee rond om die Ooste van Namibië te gaan verken, die Caprivi strook om meer spesifiek te wees.
Daar is wel nog iets wat my dryf om daai wêreld saam met die seuns te gaan verken. Vriende van my was al jare terug daar en albei het swembroeke van die Ngepi kamp. Vir die normale persoon mag dit soos net enige ander swembroek lyk, maar dit is vir my ʼn teken van iemand wat al deur die Caprivi getoer het… En dit was tyd dat ons vir ons ook swembroeke gaan koop manne!
Paar weke voor ons die pad vat, besluit die jong manne ons moet “vakansie-hare” kry. Daar word besluit om buite ons gemaksone te gaan en onsself te bederf met ʼn lekker diep mullet en snor (vir pa natuurlik). 26ste Desember toe ons die pad vat, verras Lian ons manne elke met ʼn stel vinnige/zef sonbrille.
Raak net vir my rustig tannie – ons manne is hard oppad Caprivi toe 😊
Ons eerste stop op toer sou by Felix Unite wees (+/- 15km Noord van Vioolsdrif grenspos). Ons het een van hul Cabanas bespreek wat jou ʼn 180 grade uitsig oor die Oranje Rivier gee.
Gewapen met ʼn groot swembad, kroeg met ʼn paar koue goed, ʼn pool tafel, restaurant en dit alles terwyl jy die son sien sak oor die Oranje Rivier – die sterre het “align” seuns, kom ons maak dit een wat ons altyd sal onthou!
Volgende oggend kry ek ʼn onbeplande verrassing toe ons die sakke laai – my twee “deep cycle” batterye gee ʼn lesing van 10.23V – moer toe! Ek onthou Jacques, van GW Concepts, se woorde nog baie goed, so maand voor ons die pad gevat het: “Henry jy gaan hierdie batterye moet vervang! Hulle gaan nie hou nie.”
Dit is wat gebeur as jy kanse vat ☹. Terwyl ons manne ʼn groot ontbyt aanpak, boodskap ek Paul (waarnatoe ons op pad is in die volgende twee dae) en hoor wat my opsies is by Outjo. Die terugvoer is maar kort en direk – my enigste opsies vir twee “deep cycle” batterye nou gaan in Windhoek wees. Hy stuur my die kontak besonderhede van ʼn Quinton Kuhn van Cymot Hilltop.
Quinton se terugvoer is nog korter as die van Paul: “Kom maak ʼn draai en ons sort dit uit.”
“Saak is reg Quinton, ek sien jou môre dan in Windhoek”, boodskap ek terug.
Die Cruiser se neus word Noord getrek, en ons mik vir Mariental. Ons aanvanklike plan was om soos vorige jare weer by die River Chalets (+/- 530km) te oornag, en dan die volgende dag plaas (Klein Nungubais) toe te skiet na Paul & Marina-hulle (+/- 620km).
1pm stop ons voor die garage/Wimpy in Mariental. Die oggend het verby gevlieg en almal se gemoedere is hoog.
Terwyl ons skade maak aan ons Wimpy burgers laat val Jean ʼn voorstel.
“Pa, ons voel goed, hoekom skiet ons nie sommer vir die plaas nie?”
My ore spits! Ek voel goed, maar dit is nog ʼn 630km plaas toe. Wie is bang, kom ons gaan!
Ek boodskap vir Quinton en laat weet ons sien hom later die middag in Windhoek.


Cymot Hilltop is nie ʼn hiert-jy-winkeltjie nie. My mond het oopgehang toe ons daar instap. Met die intrapslag het ek my hande vol gehad met die seuns wat al die mooi blink goedjies sien.
Quinton kom groet en in ʼn oogwink is die nuwe batterye gereël en sy span begin die ou batterye ontkoppel. Alles loop klopdisselboom en ek kan sommer sien ons is weer in die pad oor ʼn paar minute. Die nuwe batterye kry hul plek en word vas gemaak, MAAR… (jup, hierdie tiepe stories, het altyd ʼn maar 😊)
Die terminale van die nuwe batterye is groter as die oues, so dit beteken nie een van die krag kabels se “lugs” pas op die nuwe batterye nie. Vier stelle oë staar met groot vraagtekens na hierdie interessante dilemma.
Knip ons al die ou “lugs” en vervang dit of haal ons die nuwe batterye uit en sit weer die oues terug en probeer ʼn plan maak as ons op die plaas kom of… So word al die opsies bespreek.
Een van Quinton se manne stel voor ons maak die lugs se gate groter met ʼn ronde vyl. En so begin die proses om elke kabel “lug” groter te vyl totdat dit pas oor die battery terminaal.
Uiteindelik is al die kabels konnekteer! Ons groet Quinton en sy manne, wat voorwaarlik uit hul pad gegaan het om ons te help, en dan is ons weer aan die beweeg.
Die Garmin wys dat ons so rondom 11pm die aand by Paul-hulle gaan wees. Glad nie ideaal om in die aand in Namibië te ry nie, maar daar is weer opwinding in die Cruiser en ons weet ons volgende stop gaan op die plaas wees.
11pm die aand en 1,165km later, stop ons op Klein Nungubais. Ek is pootuit, maar niks wat ‘n paar whiskeys nie beter sal maak nie 😊.
Een van die kinders se gunsteling plekke om te gaan kuier is by Paul & Marina-hulle op die plaas. Jean & Lian was erg opgewonde om hul jongspan weer te sien.
Munnik, die oudste van die 3 lyk net soos sy oorlede oupa en sy kennis van diere het ons oor die volgende paar dae laat oopmond staar. Dan is daar Streicher, wat dieselfde neigings as Lian het en kan voorwaarlik sy ouers se moer-meter goed die rooi in jaag, sou hy so besluit 😊. Jy sal geen bang haar op sy kop vind nie, en ek kan my dood lag vir die jong knaap. Dan is daar die prinses van die Laas-familie, Jenna en sy is voorwaarlik ʼn klein prinses.


Alles op die plaas is lekker vir die kinders. Tannie Marina se kos proe skielik anders. Swembad of ʼn see – watwou as jy ʼn plaasdam het?
En dan natuurlik is daar ʼn gedeelte, teen een van die grenslyne, wat altyd toe onder die water is, as daar gereën het.
Jean & Lian het maar so haak & steek deur gegaan, maar toe Streicher laat loop en ʼn duik maak, toe is al die perde los 😊.
As ʼn bakkie se enjin swaai dan is die jongspan agter op. Laat middag word die kampe deur gery, dan is Jean aan die stuur met Munnik langs hom – ek en Paul staan agter, saam met die res van die jongspan, met ʼn koue in die hand.
Die wêreld is skielik net rustiger.
Die aande in Namibië is voorwaarlik iets om te beleef. Dit is soos ʼn prentjie wat elke 5 minute kan verander.
Hierdie is bees en skaap wêreld so saans word die vuur aangesteek en dan word jy bederf met ʼn whiskey of ʼn vuil Coke terwyl die kinders die werf plat speel.
In die volgende artikel toer ons deur die Caprivi. Ons reën nat, kamp lekker, eet soos konings, besoek geskiedkundige SANDF basisse en ons kyk die muskiete vierkantig in die oë 😊.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Ons geselsies in die Cruiser is altyd die hoogtepunt van ʼn lang dag op die pad.
- Dag 1 – Felix United CHECK
- Dag 2 tot 4 – Nungubais CHECK
- Dag 5 – Hakusembe River Lodge
- Dag 6 tot 8 – Nambwa
- Dag 9 tot 10 – Zambezi Mubala
- Dag 11 tot 12 – Chobe River Camp
- Dag 13 tot 15 – Ngepi Camp
- Dag 16 – Otjiwa Safari Lodge
- Dag 17 – Withuis Guesthouse
- Dag 18 – Huis toe
Groot dankie aan Francois & die span by Ultimate Routes wat ons gehelp het met die roete se logistiek. As jy soos ek nie die geduld het vir al die heen en weer kommunikasie wanneer dit kom by besprekings nie, is hierdie jou oplossing definitief. Hulle maak die proses moeitevry!
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Kunene.
Skitterend, daai reën is ekstra spesiaal. Ek het Ngepi sonder ‘n swembroek aangepak. Op ‘n nuwejaar in ‘n vol bar ek en so 4 ander manne, geklee in Jagermeister. Dankie tog dit was voor sosiale media, want iewers was daar fotos.
Haha, mal snaaks ouboet. Die reën in Namibië bly maar net spesiaal.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende January 31, […]
[…] Deel 1 – Mullets, ʼn polisie snor & zeffness Caprivi toe […]
[…] jul reg onthou van die eerste artikel van hierdie reis, was Ngepi ʼn belangrike stop op ons roete gewees, want dit is hier waar ons […]