
Ons is presies halfpad deur ons 18 dae lange reis deur Namibië via Outjo en dan Oos, deur die Caprivi strook tot by Nambwa in die Bwabwata Nasionale Park.
As jy erg verveeld is nadat jou ma jou Huisgenoot versameling weg geneem het, lees gerus die eerste twee gedeeltes:
- Deel 1 – Mullets, ʼn polisie snor & zeffness Caprivi toe
- Deel 2 – Ons kyk die muskiete vierkantig in die oë in die Caprivi
Van Nambwa beweeg ons verder Oos, al dieper die Caprivi strook in tot by Katima Mulilo waar die voertuie volgemaak word en die nodige proviand vir die volgende paar dae aangeskaf word.
Ons tuiste vir die volgende twee aande sou by Zambezi Mubala Camp wees, wat op die oewer van een van die sy-takke van die Zambezi rivier is. Die krokkedille op die oorkantste wal vang die kinders se aandag onmiddellik. My onmiddellike fokuspunt op daai oomblik was om ons kant van die wal te verken om seker te maak daai knape klim nie naby ons uit nie 😊.
Nadat kamp opgeslaan is, doen ons ʼn vinnige “recce” van die plek, en terwyl die kinders die swembad toets bederf ek en Paul onsselwers met ʼn lekker koue bier of twee.
Behalwe vir die lekker kamp oor die volgende twee dae, was daar wel drie gebeurtenisse wat kop bo water vir my uitgestaan het.
Van Nambwa af het die reën ons die heeltyd gevolg en die een middag terwyl Paul besig was met ʼn lekker pot, het die weer donker en kwaad oor ons toegetrek en my maat, toe kom daai groot druppels… Ek het dit seker al so baie in vorige artikels genoem, maar die somer reën in Namibië is iets om te beleef. Hier in die Boland, met ons winter reën seisoen, is dit nat reën langs ʼn rugby veld en saans lekker kaggel stook.
Die kinders het nie die geleentheid deur hulle vingers laat glip nie, en was reguit swembad toe. Ek het gereken – “when in Rome, do like the Romans” – so ek was kort op hulle hakke en wat ʼn belewenis was dit nie om hier, in die Caprivi, in gietende reën te swem.
Die tweede gebeurtenis het al sy oorsprong so 2 dae terug gekry toe Lian in ʼn splinter getrap het by Mukolo Campsite.
Annemarie, ons vriende van Wellington by wie ons vinnig gestop het by Kwando Bush Camp, het probeer om dit te verwyder, maar dit was net te seer vir die jong knapie.
Later kom ek kom agter Lian sukkel om sy voet neer te sit, en ek besef ons sal die ding moet aanspreek. Ek verduidelik vir hom dat ons nog vir baie dae gaan kamp en as die doring nie gaan uitkom nie, gaan dit net seerder raak.
Hy stem onwillekeurig in dat ek daarna kan kyk, maar met swak sig en ʼn wesenlike tekort aan geduld besef ek dat ek die verkeerde kandidaat is om hom te help. Paul stel voor dat Marina daarna kyk. Gewapen met ʼn kopliggie, naald en skerp tangetjie begin Marina met die delikate storie.
Lian is teen hierdie tyd erg emosioneel en dit is 100% verstaanbaar. Ons praat die man moed in, maar die trane loop en daar is geen teken dat die verdomde ding wil uit nie. Na ʼn paar minute voel dit vir my die splinter sit dieper as wat ons almal gedink het. Lian vra mooi dat ons stop, want dit raak net te erg. Ons verduidelik mooi dat as die ding nie uitkom nie, dit net seeder gaan raak in sy voet.
Marina vra hom of hy nog een keer kan vasbyt, want sy dink dit is naby. Die arme seuntjie knik sy kop en Marina doen haar ding.
Lian gryp my arm styf vas, terwyl die trane spat en sy oë smeek dat ons moet stop. Paul kan sien wat die stand van sake is, en gryp sy voet dat hy dit nie kan weg ruk nie. Marina besluit dit is nou of nooit nie en…
Vir ʼn sekonde, wat soos ʼn leeftyd gevoel het, voel dit of die wêreld stil staan en ek voel hulpeloos.
“HIER KOM HY! BYT VAS LIAN!”
Haar woorde was skaars koud, toe wys sy ons die splinter aan die punt van haar tangetjie.
“GOEIE BLIKS_M!”, is al wat ek kan uitkry.
Na die vorige aand se emosionele episode, is daar groot opwinding onder die jongspan. Vandag gaan ons tiervisse probeer takel in die Zambezi.
Op pad na Zambezi Mubala Camp (twee dae gelede) het Marina voorbrand gedoen en ‘n paar plekke gebel vir pryse, en Caprivi River Lodge, wat +/- 30km terug op die pad is na Katima Mulilo, het die beste opsie vir ons twee gesinne gebied.
Nes ons op die boot klim en wegstoot van die wal begin dit reën, maar dit plaas nie ʼn demper op die spannetjie nie.
Hierdie sou my en die seuns se eerste bekendstelling aan tiervisvang wees, en die eerste ding wat my opval is dat hulle slegs van “braid” lyn gebruik maak. Ons dam visvangers hier in die Boland gebruik maar jou standaard visvanglyn. Tweedens, wat ook ʼn eerste vir my was, is dat ons gebruik gemaak het van die “trolling” tegniek, waar almal se lyne in die water is terwyl die boot stadig vorentoe beweeg.
So ‘n uur in ons visvang avontuur is daar beweging by Lian se stok en skielik is daar aksie. Die visstok buig soos ʼn groen lat en dit is voorwaarlik ʼn lekker geveg tussen die twee. Na baie opwinding en advies vanaf my en Jean (wat nog nooit ʼn tiervis gevang het nie 😊) is die vis in die net en op die boot. Ek was so opgewonde en sommer ook emosioneel verlig vir Lian gewees, want dit was die perfekte resultaat nadat hy die vorige aand soveel pyn ervaar het om die verdomde splinter uit te kry en hier spog hy met sy eerste tiervis! Wat ʼn voorreg vir ʼn pa om dit te kon beleef!
Ongelukkig was dit ook ons laaste vis vir die dag, maar dis hoe dit werk met visvang en gelukkig verstaan die jongspan dit darem.
Ons kuier by Zambezi Mubala Camp het ook einde se kant toe gestaan en so ook ons kuier saam met Paul en Marina-hulle. ʼn Gesin saam met wie ons enige tyd na enige plek sal toer!
In die volgende artikel reis ons verder, diè keer alleen, na Chobe River Camp wat op die oewer van die Chobe rivier geleë is. Ons loop ons rieme vas in die swart modder met die Cruiser, gaan kamp in ʼn woud by Ngepi en pak die lang pad terug huistoe aan via Namibië.
Aan Paul, Marina & die kinders: Dit was weereens ʼn belewenis om by julle op die plaas te kuier en saam te reis deur die Caprivi. Die seuns vra al klaar wanneer gaan ons weer kuier! Dalk moet ons volgende keer in die winter kom en gaan visvang by Swakopmund? Marina, dankie vir al jou reëlings met die kos en ons het soos konings geëet so regtig BAIE DANKIE. Ek dink jy sal die stukkie info waardeer, maar ja ons het toe nog twee handdoeke gekoop by Katima Mulilo 😊. Paul, dankie vir die lang geselsies en tye om die vuur terwyl ons teug aan ʼn vuil Coke. Munnik, Streicher en Jenna dankie vir al die lekker lag en stories in die Cruiser. Ek en die seuns lag nog steeds vir Streicher se kommentaar, “Raak net vir my rustig pappie.” 😊
Aan my twee seuns, Jean en Lian: wat ʼn belewenis en dit was so lekker gewees om elke dag met julle seuns te deel. Ek dink nie ons gaan ooit die einde hoor van Lian se twee episodes nie, maar dit is ook OK, want dit was albei WOW 😊.
- Dag 1 – Felix United CHECK
- Dag 2 tot 4 – Nungubais CHECK
- Dag 5 – Hakusembe River Lodge CHECK
- Dag 6 tot 8 – Nambwa CHECK
- Dag 9 tot 10 – Zambezi Mubala CHECK
- Dag 11 tot 12 – Chobe River Camp
- Dag 13 tot 15 – Ngepi Camp
- Dag 16 – Otjiwa Safari Lodge
- Dag 17 – Withuis Guesthouse
- Dag 18 – Huis toe
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by die Zambezi rivier.