Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Skaapkop ete in die Boesmanland

manne_01

2018!! Amper op my rug geval toe ek sien dat dit die laaste keer was, wat ons klomp manne by Frans se broer, Conrad Laubscher, gaan kuier het. Hoe meer ek daaraan dink, besef ek dat dit wraggies strafbaar is 😊, en Frans (aka gevreesde Span B leier) gaan met die volgende bosberaad moet verduidelik, hoekom dit ons 6 jaar geneem het om weer in daai rigting te beweeg het. Lees gerus meer oor ons kuier in die Hantam wêreld

Hierdie keer verruil ons die Hantam (Loeriesfontein) vir die Boesmanland (Brandvlei). Saterdagoggend 05h00 trap ons 5 manne die 530km Brandvlei toe vas. Almal in een bakkie & genoeg vleis om ʼn slaghuis te begin by ʼn vakansieoord. 

Visiting the Boesmanland, Brandvlei

10h00 die oggend en ons manne stop by Conrad op die plaas. Ongelukkig is Lourens die langste een onder ons manne, en die arme knaap het amper blomkool ore ontwikkel met die dat sy knieë teen sy ore vas gedruk het agter in die bakkie 😊.

Blad word geskud, en dit neem nie lank voor die eerste koue een die keel afgeskiet word nie.

Visiting the Boesmanland, Brandvlei

Die wêreld is warm, en ons manne kuier sommer so lekker uit die waenhuis/stoor. Ek en Conrad vergelyk ons “mullets” (ja, my pa sal in sy graf om draai as hy my hare nou moet sien) terwyl die ander manne maar net koppe skud.

Kortvoorlank en die son se hitte word verruil vir ʼn volmaan & ʼn skaapribbetjie langs die vuur.

Stretchers word onder ʼn doringboom getrek, en mens kan net dankbaar wees vir die geselskap waarin jy is. Die klomp manne (nes ek), is wraggies nie hul ouers se mooiste kinders nie 😊, maar dit is altyd ʼn voorreg om ervarings & plekke met hul te ontdek & te beleef.

Visiting the Boesmanland, Brandvlei

Sondagoggend en Jacques & Lourens is soos oudergewoonte sommer vroeg aan die beweeg. Vir een of ander rede voel dit vir my ek word in afdelings wakker. Frans lyk self nie rooskleurig nie, en lyk of hy 2de gekom het in ʼn meerkat geveg.  

Koffie & beskuit word die lyfies in gejaag, en dan is ons almal agter op Conrad se plaasbakkie om die skaap kampe te gaan besoek.

Die veld lyk dor & droog, maar Conrad se skaap is werklikwaar in mooi kondisie en jy kan die trots & liefde vir sy diere sommer sien as hy met jou praat.

Visiting the Boesmanland, Brandvlei

Terug by die waenhuis en Frans laat nie op hom wag om vuur aan te steek nie. ʼn Groot ete het vir ons manne voorgelê, maar dit gaan baie geduld & kundigheid verg.

Frans het my in 2007 die eerste keer voorgestel aan ʼn skaapkop ete, en daarna het ons klomp manne met spesiale geleenthede hierdie tradisie voortgesit.  

Skaapkop dinner in the Boesmanland, Brandvlei

Gewoonlik word die koppe sommer in die oond gesit, maar vir die geleentheid het Jacques ʼn pot gebou groot genoeg vir +/- 6 koppe wat op die vuur kan staan. Die manne, onder leiding van Frans, berei die koppe voor en dan 10h00 Sondagoggend kry die pot sy plek op die vuur.

As jy en “geduld” nie vriende is nie, moet asb nie hierdie probeer nie. Dit vat tyd en baie geduld om ʼn skaapkop reg gaar te kry.

Skaapkop dinner in the Boesmanland, Brandvlei

Later word die .22s uit gehaal en dan word daar teiken geskiet dat die stof spat. Johan wys die manne, dit is nie net grys hare wat die wysheid weg steek nie 😊, maar ook kundigheid met die oop visiere. Beide hy & Conrad het nog die ou SANDF Skiet balkies op die bors gedra, en mens kan sien hoekom.

Vir die manne wat al die voorreg gehad het om ʼn skaapkop ete te geniet sal weet dat ʼn vars gebakte brood (+ appelkoos konfyt) maar net ʼn wen kombinasie is. “Jacques doing Jacques things”.

So net voor 20h00 neem elke man sy plek in om die tafel in die waenhuis. Die sonsondergang is prentjie mooi, die koppe lyk perfek, die geselskap is topklas … bliksem, mens kan maar net dankbaar wees vir sulke geleenthede.

Skaapkop dinner in the Boesmanland, Brandvlei

Ek weet skaapkop ete is nie vir almal nie, en 90% van die tyd is die idee van ʼn kop in jou bord waar mense se tor van die wieletjie af foeter. Maar as ek vir jou van die wangvleis gee, sonder dat jy weet, en noem dit is net skaapvleis gaan jy herken dit is van die sagste skaap vleis wat jy al geëet het.  

Tweedens, dit help BAIE as jy die ete aanpak saam met mense wat jou leiding kan gee hoe om die ding aan te pak. Bv, my eerste skaapkop ete in 2007 het ek nie mooi geluister toe Frans verduidelik het dat mens die taai velletjie, wat om die tong is, eers moet verwyder nie. Ek het seker 10min aan daai ding gekou 😊.

Dan laastens, die harsings. Ek moet bieg hierdie is vir my ook ʼn gedeelte waar ek moet kop hou. Jy draai die kop om, en dan is daar ʼn spesifieke plek waar jy jou knipmes in druk en dan breuk die kop oop en siedaar daar sit die harsings.

Na koffie, pak die manne die koue buite stort aan en dan word die dag op sy gat geskop.

Maandagoggend 05h00 trek Frans die bakkie se neus huiswaarts. Elke man sit met sy gedagtes …

Die jaar en al die geraas, wat saam met die gekom het, is amper agter ons en dit was spesiaal om hier in die Boesmanland in die stof om ʼn vuur saam met die 5 manne te gekuier het.

Aan my twee seuns, Jean en Lian: As jul oud genoeg is, sal pa jul stadig begin bekendstel aan skaapkop ete. Eers sal jul net die wangvleis eet, en as jul dit onder die knie het sal ek met oom Frans reël dat hy vir julle knape ʼn lam kop gaar maak.

Tot ʼn volgende keer.

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Boesmanland.

Visiting the Boesmanland, Brandvlei

Leave a comment