
Met die Laas gesin sterk oppad terug Klein Nungubais toe, druk ons die Cruiser se neus in ʼn Suidelike rigting op die B8.
+/- 1km voor die Ngoma grenspos kry ons die afdraai na Chobe River Camp wat ons tuiste gaan wees vir die volgende 2 dae.
Die 4km na die kamp is ʼn grondpad en soos meeste van die kampe waar ons reeds gekamp het, was dit plek-plek onder water. Die GROOT verskil was dat hierdie daai swart kleigrond was, en toe ons deur die eerste gat water gaan, sê ek vir Jean, “Ek dink ek gaan 4×4 aktiveer om veilig te wees manne.”
Die 1st km gaan goed en alhoewel daar by ʼn paar van die watergate ʼn alternatiewe ompad is (meeste van hulle was ook onder water) besluit ons om voort te gaan en nie af te wyk van die pad nie, tot…
Soos ons om die een draai kom kry ons ʼn gedeelte waar die watergate in die pad skielik opeenvolgend van mekaar is. Ons besluit om ʼn alternatiewe opsie te neem, links van die pad deur die oop stuk grond wat droëer gelyk het. Ons beweeg stadig deur die bos om seker te maak dat, sou ons skielik in ʼn modder hindernis kom, ons genoeg van die Cruiser se krag beskikbaar sou hê om vining vet te gee. Alles loop volgens plan, en skielik merk Jean op dat die veld so 20m voor ons is onder water is. Vat ons die kans en gaan deur die veld, of breek ons regs en sluit by die amptelike pad aan en trotseer die waterpoele?
Intussen in my truspieëltjie sien ek ʼn ander voertuig wat ons volg deur die veld. Ek besluit om by die pad aan te sluit en sien ʼn gaping tussen twee bosse en besluit om daarvoor te gaan. Die aansluiting van ons hoek lyk droog so ons gaan net gou deur die paar bossies gaan en siedaar dan is ons op die pad en ʼn yskoue bier gaan in minute geniet word… Reg?
Eish, was ek verkeerd…
Soos ek deur die twee bosse beweeg en weer links draai op die pad verras ʼn helse gat water my en nog voor ek my oë kan knip is ons in die ding. Tweede rat, lae rat en die Cruiser praat mooi. Alles loop reg en soos ons die einde van die poel water bereik om uit te ry, voel dit of die voertuig teen ʼn effense wal vas ry. Ek haal my voet van die petrol, om te verhoed dat ons nie vas “spin” nie. Sit die voertuig in trurat en beweeg weer terug so vir 2m. Terug in 2de rat en ek gee bietjie meer vet om die neus uit die gat te laat spring en dan is dit petrol en baie gebed dat hy traksie kry.
Wel dit was die plan. Toe die neus uitspring en ek laat die refs klim, grawe die Cruiser se agterwiele vas. Intussen het die voertuig agter ons gesien wat gebeur het en so 50m terug gestop om te sien hoe ons verhaal afspeel. Linker voorwiel is in die lug met regs agter en die spaarwiel in die modder. Ek en Jean is soos een man die voertuig uit. Hy hardloop gly-gly na die voertuig agter ons om hul op ʼn manier voor ons te kry en ek, kniediep in die modder, beweeg na agter die voertuig om ons recovery tou uit te kry.
Die agterste voertuig, ‘n gesin van die Kaap (baie oulike mense), vat ʼn ander roete en binne ʼn paar minute is hulle voor ons op ʼn stukkie droë grond. Die eerste probeer slag kom onderweg maar die Cruiser roer nie eers nie.
Ek dink terug aan jong Streicher se woorde, “Raak net vir my rustig pappie.”
Tweede probeer slag, en die Cruiser se neus spring uit. Daar is groot opwinding in die Cruiser en ons skud blad met ons “redders”, waarna ons die laaste paar km na ons kamp takel.
Die Chobe River Camp is op die oewer van die Chobe rivier, aan die Namibië kant, en het die laaste paar maande ʼn groot gedaanteverwisseling (opgraderings) ondergaan. Ons sou ook van die laaste gaste wees (het ons later verneem), want so 3 weke na ons besoek is die lodge toe gemaak vir die bou van die nuwe ontvangs/restaurant gedeeltes.
Met die dat die Chobe rivier so laag was, kon daar geen bootritte gedoen word nie, so ons het besluit om die modder van ons vroeër, onbeplande, avontuurtjie af te was in die swembad.
Elke staanplek het sy eie tent struktuur wat bestaan uit ʼn kombuis en badkamer.
Ons besluit die area binne is groot genoeg vir ons 3 stretchers en muskietnette, en die keer gaan die reën ons nie vastrap nie. Die eerste aand toe ons manne lekker onder die muskietnette lê hoor ons die leeus in die verte.
Lian, wat tussen my en Jean lê, fluister vir my, “Pappa, die leeus sal mos nie die trappies op klim nie?” Jean begin lag, want hy weet sy stretcher is laaste en as leeu-se-kind wil kom kuier, is ek die hoofmaal en Lian sal seker die tandestokkie wees 😊. Ek dink ek het daai aand met een oog oop geslaap.
Ons kuier by Chobe River kamp het werklikwaar vinnig verby gevlieg en kort voor lank was dit tyd om die lang pad huis toe aan te pak.
Ons volg die B8 weer terug en besoek die gestrande Russiese vliegtuig wat by Omega 1 staan. Met die dat daar ʼn verlate aanloopbaan is, besluit ons dit is die perfekte tyd om te kyk hoe vinnig ons ou Cruiser kan hardloop.
Soos ons nader aan Divundu beweeg, raak die wêreld donker om ons en kort voor lank ry ons in ʼn helse bui reën in. Ons volgende kamp is by Ngepi, wat +/- 16km van Divundu is so ek begin die seuns al voorberei dat ons dalk gaan moet kamp opslaan in gietende reën.
Net voor Divundu vat ons die Ngepi se afdraai links en siedaar, die reën is iets van die verlede. Aan die oorkant van die rivier lê 32 Bataljon se Buffalo basis, wat ons op pad na Bwabwata Nationale Park besoek het, en mens kan die donker weer sien waardeur ons so paar minute terug is.
As jul reg onthou van die eerste artikel van hierdie reis, was Ngepi ʼn belangrike stop op ons roete gewees, want dit is hier waar ons UITEINDELIK ons eie Ngepi swembroeke kon koop. Die dae wat Paul & Boerbok (sy ma verwys na hom as Theunis) alleen soos twee seekoeitjies op ʼn Parys loopplank gepronk het met hulle Ngepi swembroeke, het helaas tot ʼn einde gekom. Ek en Jean bederf onsself met ʼn swembroek, maar Lian moet nog baie pap eet, want die kleinste een het soos ʼn meelsak aan hom gehang. Maar raak net vir my rustig asseblief tannies en ooms, ons het wel vir hom ʼn Ngepi t-shirt gekoop!
Daar was wel ʼn probleem met hul broek “sizing”, want om een of ander onverklaarbare rede het ʼn Medium my nie gepas nie. Hulle sizes werk seker anders as hier in Suid Afrika 😊.
Ngepi is regtig een van daai plekke wat jy self moet gaan besoek. Elke bestemming wat ons op hierdie reis besoek het, het sy eie karakter gehad, en ons kuier by Ngepi was ʼn belewenis vir ons 3 manne.
Die bekende swembad, wat in die Kavango river is, was natuurlik ʼn hoogtepunt en ek moet eerlik wees dit is senutergend want dit lyk so lekker, maar die seekoeie wei in die gras so 50m van jou. Hierdie rivier is ook, soos die ander in die Caprivi strook, krokodil en tiervis wêreld, maar as jy eers in is en jy voel die ysterraamwerk onder jou, dan is dit pure pret.
Ngepi sou ook ons laaste kans wees om die gesogte tiervis te probeer vang, maar soos GELUK dit wou hê het ek en Jean geen byt gekry nie, maar Lian het ʼn monster tiervis ʼn meter van die boot verloor terwyl hy hom probeer inkatrol.
‘n Paar minute later maak ʼn seekoei sy verskyning reg agter ons boot waar Lian gesit het. Ons almal was geskok en niemand kon ʼn geluid uit kry nie. Ons gids het baie rustig meer krag gegee en ons het weg beweeg van die enorme soogdier.
Ons laaste aand en Jean maak een van sy “moer-by-mekaar” resepte. Ons manne praat lang geselsies en toe die eerste druppel val staan ons tent se kant toe.
Dag 16 en ons slaan die tent vir ʼn laaste keer op. Ons 3 manne was al so ingeoefen om die ding op en af te slaan en in ʼn oogwink is die Cruiser gepak. Dit was tyd om die Caprivi te verlaat.
Die volgende 3 dae sou ons net so oor die 2,300km reis – lang, warm dae op die pad.
Ons eerste stop is by Eagle’s Rest Lodge, wat deel vorm van die Otjiwa Safari Collection. Ek is lekker gatlam na ʼn lang dag agter die stuur en al waarvoor ek nou lus is, is ontspan en ʼn koue bier.
Toe ons stop, herhaal Jean hardop wat my eerste indrukke was, “Sjoe pa, die plek lyk dan te fancy vir ons”.
Sakke in ons kamer gaan gooi, yskoue draft vir pa en toe knak ons hul swembad met ‘n paar strategiese rug bomme.
Ons volgende stop is een van ons gunsteling oornagplekke as ons Namibië toe kom, die alombekende Withuis, so net voor Grunau.
Die volgende oggend is ons vroeg in die pad en 150km later stop ons by ʼn stil Noordoewer. Ons glip oor die grenspos sonder enige haakplekke en siedaar, ons is terug in Suid Afrika en hard oppad Wellington toe.
Alhoewel ons opgewonde was om weer huis toe te kom, het die realiteit my ook getref dat ons 18 dae lange reis toe ʼn einde gekom het. Soveel herinneringe en soveel staaltjies, maar ek hoop ek kon ʼn paar van hulle vasvang in hierdie reeks artikels.
Lees gerus die res van die reeks:
- Deel 1 – Mullets, ʼn polisie snor & zeffness Caprivi toe
- Deel 2 – Ons kyk die muskiete vierkantig in die oë in die Caprivi
- Deel 3 – Groot reën & tiervisse in die Zambezi
Aan my twee seuns, Jean en Lian: sjoe seuns, pa het nie woorde nie. Daar is soveel om voor dankbaar te wees en ek wil net DANKIE sê vir die wonderlike seuns wat jul is. Ek belowe, eendag… wel… ek sal daaraan dink eendag, maar eendag kan ons DALK vakansie gaan hou by die see oor Desember 😊😊.
- Dag 1 – Felix United CHECK
- Dag 2 tot 4 – Nungubais CHECK
- Dag 5 – Hakusembe River Lodge CHECK
- Dag 6 tot 8 – Nambwa CHECK
- Dag 9 tot 10 – Zambezi Mubala CHECK
- Dag 11 tot 12 – Chobe River Camp CHECK
- Dag 13 tot 15 – Ngepi Camp CHECK
- Dag 16 – Otjiwa Safari Lodge CHECK
- Dag 17 – Withuis Guesthouse CHECK
- Dag 18 – Huis toe CHECK
Kliek hier vir paar kiekies van ons laaste kuier in die Caprivi strook & Namibië.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende February 6, […]