Vrydagmiddag so net na 3pm druk ons die 80 Series se neus by die hekke uit. Ek wou al vroeër in die pad gekom het, maar die kinders se skedules het, soos altyd, daai idee kortgeknip.
Nietemin, die opwinding in die voertuig is hoog en dit neem die seuns enkele minute om die padkos, wat ek sorgsaam voorberei het, te verslind. Jean maak ʼn opmerking en dit gooi die deure oop vir ʼn lang gesprek.
“Jissie, voel of ons weer Namibië toe moet gaan. Wanneer doen ons die Angola trip pa?” (Lees gerus meer oor ons reis einde verlede jaar na die Caprivi strook in Namibië)
Lourens en Jacques, met hul gesinne, het eers bietjie later uit Franschhoek en Wellington vertrek en, met niks wat ons jaag nie, het ons 3 manne lekker aan die gesels geraak. Sò lekker gesels dat ons die Markuskraal afdraai na links verby ry.
Toe Lourens my bel en vra waar ons is want hy is 5kms weg van Boegoeberg, het ons 3 manne verstom na mekaar gestaar. Ons het die regte afdraai met so +/- 25kms gemis en na ʼn paar minute, wat toe skielik soos ʼn leeftyd voel, kry ons mekaar en oom Sybrie (eienaar van die plaas) langs die pad.
Blad word geskud en dan volg ons oom Sybrie na hul Boogklip kamp, wat Januarie 2025 amptelik oopgemaak het vir die publiek.
Die kampterrein is rondom ‘n reuse rotsformasie gebou. Oor die jare het wind en sand ‘n natuurlike opening in die rots uitgeslyp – groot genoeg om gemaklik deur te stap. Oom Sybrie het hierdie unieke kenmerk raakgesien en die kamp só ontwerp dat jy aan beide kante van die rots kan kamp.
ʼn Badkamer met ʼn donkie stort en toilet is gebou aan die een kant en, met die dat die staanplek eksklusief bespreek word, het jy regtig niks meer nodig nie.
Vier gesinne kan gerieflik in daktente of grondtente langs die rots kamp, met die kampplek wat gerieflik beskut is met ‘n heuphoogte muurtjie vir daai winderige dae.
Ons was net drie gesinne (Jacques-hulle het so uur na ons daar aangekom) so die kinders het sommer hulle eie tente laat staan terwyl ek en Lourens die geleentheid gebruik het om sommer langs ons voertuie onder die oop sterre te lê.
Volgende oggend het die jongspan ons gelei op die wandelpad, wat hul die vorige aand ontdek het, na ʼn uitkykpunt bo-op ‘n rots.
Die Sandveld lê sover soos wat jy kan sien. As jy op ʼn mooi, windstil dag fyn kyk, sal jy die see naby Elandsbaai sien – of altans so sê oom Sybrie. My oë is so sleg as ek nie voor my kyk nie, sal ek nog van ʼn verdomde rots afvoeter…
Vroegmiddag toe die hitte kopuitsteek, pak ons die voertuie en beweeg af na die hoof kamp, waar ʼn REUSE swembad vir die kinders gewag het.
Aan die een kant van die swembad is ʼn dam met die kampplekke al om die oewer daarvan. Toe ek en Paul-hulle 14 jaar gelede daar was, was daar nie skaduwee by die kampplekke nie, maar nou is amper 90% van die kampplekke geheel of gedeeltelik onder skadu.
Die dam was baie leeg met ons besoek, maar ek kan net dink na ʼn reën seisoen hoe sprokiesmooi dit moet lyk.
‘n Vuur is aangesteek onder die groot akkerbome by die lapa en kort voor lank was dit tyd om die kinders ʼn paar gevaarlike “moves” in die swembad te wys!
Die tyd het so vinnig gevlieg en kortvoorlank is die dag se hitte iets van die verlede en dit was tyd om die sonsondergang te gaan geniet by die kamp.
Terug by die kamp en die kinders speel dat die stof so staan. Rialé en Loumari neem Lian onder hul vlerk en leer die knaap hoe om te sokkie. Sy broer Jean vat ʼn meer eendimensionele uitsig en glo hy weet reeds hoe om te dans, dus het hy nie nodig om die dames nou te wys nie. Die pennie sal eendag “drop”, maar vir nou is dit net vriende en rugby!😊
Die vuur kry lewe terwyl daar ʼn koue geskink word. Die son sak oor die Sandveld en die lewe is ʼn lied!
Aan my twee seuns, Jean en Lian: Sjoe, dit was ʼn top naweek of wat dink julle? Seuns, kom ons praat gou oor dans en girls: as jy kan dans, dan raak sokkies en danse ʼn fees en die beste manier om te leer is by jul vriendinne. So as ʼn jong dame jou vra om te dans, lig jou g@t en gaan dans ʼn ding laf! #GoeieTye
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Boegoeberg.
Tot ʼn volgende keer.









