Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Ons kyk die muskiete vierkantig in die oë in die Caprivi

Rivier_01

Daar is opwinding in die lug… Ek en Paul is tot laataand besig om die voertuie gepak te kry, want môre begin die tweede been van ons Namibië toer. Lees gerus die eerste gedeelte van ons toer na die Caprivi hier.

Kinders is soos vlieë om ons. Nie om te help nie, maar net om te kyk watse kos ons alles pak 😊.

Part 1 of our Caprivi Tour

Vroegoggend is dit nie nodig om die jongspan aan die gang te kry nie. Laaste paar sakke word ingegooi en dan mik ons vir Outjo waar ons die laaste paar goedjies by Spar gaan koop en voertuie volmaak.

Een van die Cruiser se hoofligte het êrens die gees gegee, so ons vervang dit ook sommer – nie dat ek enigsins gou weer in my lewe in die aand wil ry in Namibië nie.

Part 2 of our Caprivi Tour

Van Outjo vat ons die grondpad (C39) tot by Otavi. By Grootfontein stop ons om bene te rek, kry iets om te eet en dan is ons weer aan die beweeg Rundu toe.

Beide hierdie stede was belangrike punte in destydse Bosoorlog en ek onthou hoe my pa altyd daaroor gesels het tydens sy grensdiens, so dit was lekker om die plekke by die name te sit.

Net voor Rundu draai ons links op die B10 pad en kort voor lank ry ons die hekke in van die Hakusembe River Lodge. Dit sal ons eerste bekendstelling van die Gondwana-groep wees, en man, ons was beïndruk.

Die kinders het nie op hulle laat wag nie, en die swembad was binne sekondes aangetree.

Part 2 of our Caprivi Tour

Ons kamp is op die oewer van die Cubango rivier, wat ons later sou leer die Okavango rivier word en ook die Okavango Delta in Botswana voed.

Aan die oorkantste oewer is Angola en kort-kort verskyn ʼn beeswagter of iemand wat kom wasgoed was by die rivier. In die verte sien ons twee vissermanne op mokoros en al wat deur my kop gaan is HOEVEEL krokodille is daar in die rivier 😊.

Part 2 of our Caprivi Tour

‘n Vuurtjie kry lewe en so ook die 1ste (rustige) Gin … of was dit nou die derde een..? Self nie seker nie, maar mens moet doen wat mens moet doen om die muskiete vierkantig in die oë te kyk hier in die Caprivi want niemand is lus vir Malaria nie.

Part 2 of our Caprivi Tour

Munnik en Streicher maak ons stadjapies touwys van die naglewe en kort voor lank baklei ek ʼn reuse krokodil.

In die jong uwe, Sir Streicher Laas, se eie woorde, “Raak net vir my rustig pappie.” 😊

PS, geen Skurwe Geitjie was beseer in die gesprek nie.

Part 2 of our Caprivi Tour

Een van die mylpale wat ek ook op die reis met die seuns wou deel was om onder die sterre te slaap, net met ʼn stretcher en muskietnet.

Natuurlik is dit nie orals moontlik nie, as gevolg van wilde diere, maar met diè dat hul nou al ouer is, het ek gevoel die tyd is reg dat ons nie meer die veilige hawe van ʼn tent altyd nodig het nie… tot die Hemel bo jou begin oopmaak met groot, vet druppels in die middel van die nag, wat presies met ons gebeur het op dag #1.

Kry die knape wakker, ons skuif gou alles mooi onder die Cruiser se awning in dat niemand papnat is nie, en dan probeer ons weer 😊.

Part 2 of our Caprivi Tour

Van Hakusembe River Lodge ry ons Oos via die B8, oor die Cubango Rivier by Divundu waar die voertuie weer volgemaak word, en ‘n paar kilometer buite die dorp stop ons by Bwabwata Nasionale Park se hekke vir ons nodige permitte.

Een van die plekke wat ek graag persoonlik wou besoek het tydens ons reis deur die Caprivi, was 32 Batteljon se Buffalo basis wat op die oewer van die Okavango rivier (Cubango rivier verander na die Okavango rivier) is.

Die boek van Piet Nortje, 32 Battalion: The Inside Story of South Africa’s Elite Fighting Unit  vertel van die stories & operasies van hierdie gevegseenheid en hoe hul gevrees was deur hul vyand en soms na verwys was as die “terrible ones”.

Part 2 of our Caprivi Tour

My seuns sal seker gedink ek is mal, om hier na ou murasies te kyk en dit is ook ʼn gedeelte van ons land se geskiedenis wat hul seker nooit van sal leer nie, maar ek onthou hoe my pa na hul verwys het as van die hardste manne wat hy al ontmoet het.

Na ʼn vinnige middagete is ons weer aan die beweeg na ons volgende bestemming, Nambwa Camp wat in Bwabwata Nasionale Park geleë is.

Part 2 of our Caprivi Tour

Die ingang na Nambwa is +/- 180km op die B8 vanaf Divundu, en nadat jy ingeteken het by die ontvangs is dit nog so +/- 30km se sandpad deur die bosse na ons kamp. Hoe dieper ons die veld in beweeg, al langs die vloedvlakte, sien ons meer diere.

Uiteindelik by ons kamp, wat geleë is aan die voet van die vloedvlakte, word kamp opgeslaan onder ʼn groot skadu boom.  

Part 2 of our Caprivi Tour

Kinders skiet in alle rigtings, en ons moet hul gereeld herinner dat ons kamp in die wild en nie by ʼn ATKV oord nie.

Vir die volgende 3 dae verken ons die park en alhoewel ons nie die groot 5 gesien het nie, was dit nog steeds ʼn ongelooflike belewenis.

Middae speel die kinders ʼn bars hou, terwyl ons groot mense ʼn paar rondtes Rummikub of Monopoly (kaart weergawe) speel terwyl ons die muskiete veg met ons doepa aka gin, brannas of bier 😊

Part 2 of our Caprivi Tour

Nog ʼn hoogte punt (weereens net vir my 😊) was om die ou murasies van Fort Doppies (destydse Recce basis) te besoek. Die uitsig oor die vloedvlakte is iets om te beleef, en dit is moeilik om te dink dat van die wêreld se beste spesiale magte deur hierdie basis beweeg het.

Die basis word so baie na verwys in Alexander Strachan se boek, “1 Recce, volume 3 – Onsigbaarheid is ons krag”, en soos met ons besoek aan 32 Batteljon, se Buffalo Basis, het ek nostalgies geraak en sou dit graag saam met my oorlede pa wou besoek het, wat altyd ʼn verlange gehad het om terug te keer na die Caprivi strook waar hy as polisieman sy militêre diens gedoen het.

Part 2 of our Caprivi Tour

Fort Doppies is nie net bekend vir van die taaiste soldate nie, maar dit was ook die tuiste van twee leeus wat op die basis gebly het, Teddy & sy suster Lisa. Luister gerus na hierdie twee staaltjies van Teddy. Teddy is die enigste leeu in die wêreld wat ooit ‘n erelid van enige Spesiale Magte-eenheid was.

Die weer het stadig begin opbou al rondom ons, en dit was maar net ʼn kwessie van tyd voor die reën gaan kom, maar dit het glad nie die kinders gestop nie.

Part 2 of our Caprivi Tour

Ons laaste dag by Nambwa besluit ons om die ander kant van die vloedvlakte te gaan besoek en sommer iets te eet by een van die lodges.

Ons eerste stop is by Mukolo Campsite, waar die kinders dapper genoeg was om die makoros te probeer.

Part 2 of our Caprivi Tour

By Namushasha River Lodge geniet ons middagete terwyl die wolke weereens bo ons oop maak stuk-stuk.

Ek kry woord dat vriende van Wellington, Edu & Annemarie Wium, op ons pad terug Nambwa toe, kamp by Kwando Bush Camp, so ons besluit om te gaan blad skud en ʼn koue saam met hulle te geniet.

Part 2 of our Caprivi Tour

Ons kuier by Nambwa het einde se kant toe gestaan. ʼn Laaste kuier om die vuur met die vloedvlakte voor ons, ʼn laaste Rummikub wedstryd, ʼn laaste swaar bui reën…

Part 2 of our Caprivi Tour

In die volgende artikel reis ons verder deur die Caprivi. Ons gaan vang tiervisse terwyl die reën ons bly volg en dan herleef ons ʼn paar angs, stresvolle, hartseer, dankbaar oomblikke – alles in ʼn paar minute.   

Lees gerus die eerste gedeelte van ons reis – Mullets, ‘n polisie snor & zeffness Caprivi toe

Aan my twee seuns, Jean en Lian: dankie vir jul geduld met ons besoeke aan Buffalo en Fort Doppie basisse. Ek weet dit was ʼn era nog voor jul gebore was, maar dit was vir pa spesiaal om daar by beide se murasies saam met julle te staan. Ek glo oupa sou trots gewees het op ons 3 manne.

Dan het pa ook ʼn les geleer, en volgende keer kan julle beide met ʼn BAIE KLEIN sakkie toer want julle het amper nooit skoon klere aangetrek nie – dink julle het gelewe in daai PT broeke en as daar ʼn hemp aangetrek was, was dit altyd dieselfde een. Luv it!

  • Dag 1 – Felix United CHECK
  • Dag 2 tot 4 – Nungubais CHECK
  • Dag 5 – Hakusembe River Lodge CHECK
  • Dag 6 tot 8 – Nambwa CHECK
  • Dag 9 tot 10 – Zambezi Mubala
  • Dag 11 tot 12 – Chobe River Camp
  • Dag 13 tot 15 – Ngepi Camp
  • Dag 16 – Otjiwa Safari Lodge
  • Dag 17 – Withuis Guesthouse
  • Dag 18 – Huis toe

Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Caprivi.

Part 2 of our Caprivi Tour

Related Posts

Comments (3)

[…] 2    By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende January 27, […]

[…] 0   By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie Vriende February 6, […]

[…] die reën is iets van die verlede. Aan die oorkant van die rivier lê 32 Bataljon se Buffalo basis, wat ons op pad na Bwabwata Nationale Park besoek het, en mens kan die donker weer sien waardeur ons so paar minute terug […]

Leave a comment