Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

‘n Ekspedisie van Hentiesbaai na Kasane

Henties

Alte Brucke Resort, Swakopmund: Die tyd het uiteindelik aangebreek. Ek en my goeie ou maat, Jacques Groenewald, vertrek op ʼn 12 dae lange reis saam met vriende van Live The Journey van Hentiesbaai, Namibië tot by Kasana, Botswana. Ons reis begin amptelik so +/- 50kms Noord van Swakopmund by die bekende visvangdorp, Hentiesbaai, waar ons konvooi van 11 voertuie bymekaar kom.

Blad word geskud en dan word die nodige VHF radio’s in die voertuie installeer wat nie reeds radio’s in het nie. Jacques trek almal bymekaar en verduidelik die dag se plan en dan is ons konvooi aan die beweeg.

Van Hentiesbaai reis ons verder Noord en dan regs by Kaap Kruis, oppad na die Messum Krater toe. ʼn Koffie stop word geniet op een van die koppies voor ons verder aanstoot deur die krater totdat ons die D2342 vind.

Henties Bay to Kasane Tour 2024 - Messum Krater

As gevolg van al die reën gedurende die laaste paar weke kon ons ongelukkig nie die beplande roete deur die Ugab Rivier volg nie, daarom draai ons regs op die D2342 en ry al om die bekende Brandberg tot by ons eerste bestemming, Brandberg White Lady Lodge, van hierdie ekspedisie.  

Vanaand is ek en Jacques op etediens, so terwyl almal kamp opslaan kry ons die vuur aan die gang en knak ʼn koue bier. Terwyl die son sy strale terugtrek in die Weste kom vermaak die plaaslike gemeenskap ons met ʼn paar tradisionele liedere om die vuur.  

Henties Bay to Kasane Tour 2024 - Brandberg White Lady Lodge

Die volgende dag na ontbyt is ons konvooi weer aan die beweeg. Vandag sou een van ons kortste reisdae wees, dus maak ons gebruik van die tyd om by die Verbrande Berg– en Orrelpype, wat naby Twyfelfontein geleë is, te stop.

As gevolg van die hitte besluit ons om liewers Twyfelfontein die volgende oggend te besoek, dus reis ons verder na Mowani Mountain Camp waar ons kamp opslaan en afkoel in die swembad!

Henties Bay to Kasane Tour 2024

‘n Lid van die groep het hul verjaarsdag gevier met ‘n glasie vonkelwyn, waarna die kuier om die vuur voortgesit word.

Daar is lekker gelag tydens die “Ken Mekaar” sessie en dit was wonderlik om na almal se lewensverhale te luister. Hier sit ons, 21 mense van regoor die wêreld, saam om ʼn vuur en deel reis verhale!

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Die volgende oggend is ons vroeg aan die beweeg en ons eerste stop is by Twyfelfontein. Die area is ‘n opelug galery met die grootste, enkele konsentrasie rotskunsgravures in Suider-Afrika. Daar is meer as 2000 rotsgravures en ‘n paar rotsskilderye. Meer as 200 kameelperde en 100 renosters word vertoon asook volstruise, rooibokke, olifante en sebras.

Ons reis verder in ʼn Westelike rigting deur Namibië. Die wêreld is groen en die landskap is prentjie mooi. Swaar weer begin bou bo Otjiwarongo, waar ons die voertuie volmaak voor die wolke oor ons toetrek oppad na die Waterberge.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Vandag was ʼn lang dag agter die stuur en ek dink almal was verlig toe ons uiteindelik ons derde bestemming, Hamakari Guest Farm, se hekke in ry. Ete word geniet saam met ons gashere voor daar kamp opgeslaan word vir die aand.

Van Hamakari volg ons die C31 en B14 via Otjinene en verder Noord parallel met die Namibië/Botswana Kaplyn. Vir die volgende twee dae gaan ons kuier by Pine Pienaar en sy vrou – eienaars van Tsumkwe Country Lodge.

‘n Hoogtepunt was definitief ons besoek aan die Nyae Nyae Panne wat plek-plek onder water was. Sekere van die hindernisse het ons maar diep laat asemhaal en, soos die noodlot dit wou hê, kan mens nie help om vir jou goeie vriend te lag as hy ʼn voetfoutjie maak met een van die hindernisse nie.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Ons sluit die dag af met ʼn besoek aan die Dorsland Trekker boom (‘n enorme Kremetartboom) voor ons groep weer vir oulaas aansit vir ʼn smullekker aandete.

Môre lê ʼn groot dag vir ons voor …

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Van Tsumkwe is dit so +/- 55kms tot by die Dobe Grenspos van Botswana waar die nodige papierwerk gedoen word. Met die laaste voertuig wat deur is, beweeg ons Noord al teen die Kaplyn op.

Die opwinding is tasbaar in die konvooi: vanaand gaan ons in die middel van êrens en nêrens kamp, maar eers moet ons daar uit kom.

Kort-kort word daar gestop om die grensdrade uit die pad te sleep as gevolg van die diere wat oor of deur die draad beweeg. Kortvoorlank kom ons by die ou veeartsheining waar ons regs in ʼn Oostelike rigting draai. Die pad raak plek-plek weg en dit vat nie lank voor die sae en skêre uitgehaal word nie. Frans Laubscher van FELCO Africa het, soos altyd, seker gemaak ons manne hardloop met die beste toerusting en hulle Alpen’s Beverin 10 elektriese kettingsaag het ligte werk van die bome gemaak wat die pad versper het.

Vanaand kamp ons op ʼn grasbedekte pan in die middel van nêrens in die Noord-Weste van Botswana. Dankbaar!

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Vanaand maak Jacques sy bekende pasta pot wat die knaap die eerste keer vir ons tydens ʼn jag in 2023 naby Aberdeen gemaak het, en dis altyd ʼn wenner!

Vroeg die volgende oggend word ons gegroet met een van die mooiste oggende op ons reis sover. In die verte sien jy hoe daar koffie geniet word terwyl andere besig is om kamp af te slaan.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Ons volg die tweespoor pad verby ‘n paar plaaslike nedersettings en, soos die vorige dag, verdwyn ons pad plek-plek. Uiteindelik vind ons die A35, van waar ʼn kort stuk pad ons lei tot by ons volgende bestemming, Drotsky’s Cabins.

Hierdie sou ons tuiste vir die volgende twee dae wees. Die lodge, wat geleë is op die oewer van die Okavango Rivier, het ʼn grasperk wat enige “landscaper” se droom sal wees. Omrede die kamp so entjie van die lodge/restaurant is word, ons na en van ons kamp per boot vervoer al langs die rivier.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Soos altyd, word daar geëet soos konings!

Van Drotsky’s volg ons weer die A35 tot by die indrukwekkende Mohembo-brug, ook bekend as die Okavangorivierbrug, wat ‘n belangrike infrastruktuurprojek in Botswana is: dit verbind die oostekant van die Okavangorivier (Mohembo-Oos) met Mohembo-Wes, en so ook die dorpies aan beide kante geleë.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Die grenskruising by Mohembe Border Post na Namibië verloop glad en gou is ons by Mahangu Lodge. Daardie aand word ons bederf met ʼn langtafel ete op die oewer van die Okavangorivier.

Nog ‘n hoogtepunt was die ontbytvaart die volgende oggend. Die bootrit gaan al teen die Okavangorivier op met volop dierelewe op die oewer. Wat ʼn wen kombinasie!

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Na ontbyt word kamp af geslaan en ons beweeg na Divundu waar ons die nodige aankoop. Van daar beweeg ons oor die Okavangorivier en dan binne die Bwabwata Nasionale Park.

Ons volgende stop is by Nyime Safari Lodge wat in die middel van die ou militêre eenheid, 32 Bataljon se Buffalo basis, geleë is. Soos met ons 2 vorige kampe is Nyime ook geleë op die oewer van die Okavangorivier, maar net aan die Oostekant.

Vure word aangesteek, want vanaand gaan daar ʼn lekker hoender en groentepot gemaak word, maar ʼn bui reën forseer egter almal onder die awnings vir ʼn wyle 😊.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Die volgende dag volg ons die “Trans-Caprivi Highway” verder Oos deur die Bwabwata Nasionale Park. Vandag sal meestal uit teerpad bestaan, dus besluit ons om ʼn klein ompad te maak halfpad deur die Caprivi strook… Die storie van hierdie “klein ompad” sal ek om ʼn vuur vir jou eendag vertel my liewe vriende… haha!

Ons gaan oor die Kwando rivier en draai dan regs by Kongola. So +/- 70kms verder draai is weer regs en volg die grondpad in die rigting van Sangwali Village tot by ons laaste kamp in Namibië, Livingstone’s Camp wat in die Wuparo Conservancy geleë is sowat 4 km vanaf die ingang na Mamili (Nkasa Lupala) Nasionale Park – Namibië se grootste formeel beskermde vleilandstreek.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Ek en Jacques is vanaand weer verantwoordelik vir ete en vanaand gaan ons voorwaar soos konings eet – steak & chips.

Soos alle goeie dinge in die lewe het ons 12 dae lange reis van die Weste van Namibië by Hentiesbaai na ons finale bestemming Kasana, begin einde toe staan.

Van Livingstone reis ons verder met die C49/M125 Noord-Oos tot by Katima Mulilo waar dit tyd is vir voertuie volmaak. Dan is dit so uur se ry voor ons die Choberivier kruis en dan weer by Botswana ingaan by die Ngoma Border Post.

Ons ry ʼn gedeeltelik deur die Chobe Nasionale Park wat ons ONGELUKKIG moes kortknip om betyds te wees vir ʼn vooraf bespreekte “sunset cruise”, MAAR dit was die moeite werd: ons sonsondergang en die diere wat ons gesien het in en langs die Chobe Rivier was net iets onskatbaar.

Ons sluit die toer af by ons kamp, Chobe Safari Lodge, met ʼn laaste braai en kuier om die vuur.

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Sjoe, hoe kan mens so reis opsom in woorde en foto’s – dis amper ontmoontlik. Dit is regtig iets wat enige mens moet beleef. As jy belangstel om meer uit te vind oor hierdie ekspedisie kontak gerus die span by Live The Journey, of, as jy wil, kontak my en ek sal jou in verbinding sit met die regte persoon.

Aan ons medereisigers – julle het hierdie reis so spesiaal gemaak. Dankie vir elke oomblik en hoop jul het dit so baie soos ons geniet.

Laastens aan my goeie ou maat, Jacques: dit was ʼn voorreg en ek sal enige tyd, enige plek saam met jou reis my maat. Laat net weet wanneer en ek is daar!

Kliek hier vir ʼn paar foto’s van hierdie ekspedisie.  

Lees gerus die 2de, en laaste, gedeelte wat deel vorm van ons maand-lange reis – Victoria Watervalle, Hunters Road & Makgadikgadi Pans

Henties Bay to Kasane Tour 2024

Related Posts

Comments (2)

Jacques Groenewald

Dankie Henry, voorwaar was dit n spesiale ekspedisie. Die ongelooflike omgewing en die bystand as vriend en mede toerlyer.

Jou sitplek sal altyd beskikbaar wees vir jou💪

[…] 0   By Henry Jonker Avonture Buitelewe Vriende July 2, […]

Leave a comment