Dit is 03h55 Saterdagoggend (26ste Desember) en ek lê en kyk vir my selfoon – alarm behoort enige oomblik af te gaan en dan is dit so, ons gaan Namibië toe, pappie.
So net na 04h30 en die seuns slaap rustig verder in die bakkie. Wellington se strate is stil en daar is geen siel of kraai nie. Kort voor lank breek die son sy strale oor die Swartland, en so tussen die bestuur word daar gesukkel om koffie uit die Stanley fles te gooi, maar terwyl die seuns nog slaap word daar nie gestop nie.
So paar kilometer voor Springbok kom daar lewe in die bakkie. Bene word gerek en dan is dit die laaste stukkie grens toe. Vir die wat al in Afrika gereis het, sal almal vir jou sê dat Afrika het sy eie tyd en jy moet baie geduld toon as jy ʼn grenspos benader, want dit is soos ʼn vaas met gemengde lekkers – jy weet nooit wat jy gaan kry, of hoe lank dit gaan neem in die geval van ʼn grenspos nie.
Hierdie is nie die seuns se eerste rodeo (reis na Namibië) nie en ek herinner myself ook net weer om diep asem te haal en, waar moontlik, oorvriendelik te wees.
Alles loop seepglad tot die dametjie by Customs my hamer dat die 10 potjies heuning agter in die bakkie darem nou baie is. Sy vra weer hoeveel daar is. Ek herinner haar daar is 10 en 10 sal daar wees. Sy vra weer en weer sê ek 10 en dat daar 10 sal wees. Pouse. Sy vra weer en sug en ek sug en sê 10 en 10 sal daar wees as ek hier ry vandag. Sy sug – stamp my papiertjie, en ons 3 manne is op die oop pad Mariental toe.
Laat middag is ons in Mariental en die wêreld is warm. Skaars gestop by Rivier Chalets en die seuns is soos gehokte vlakvarkte die ooptes in, reguit swembad toe.
Volgende oggend is ons weer so net na 4am in die pad. Die keer skiet ons vir Swakopmund waar my groot maats (Paul & Marina Laas) en haar familie (oom Johan & tannie Jeanetta) bietjie vakansie hou.
Soos jy reis deur Namibië is dit ongelooflik om te sien hoe die landskap verander, veral hoe nader jy aan die Weste kom. Voor jy jou kan vind is daar sand en duine om jou en dan skielik verskyn Swakopmund se palmbome in die verte. Teen die tyd is die seuns al gatlam gery en toe hul oom Paul gewaar (wat ons inwag langs die pad soos jy die dorp in kom) kan ek die verligting in hul oë sien – UITEINDELIK haha.
Blad word geskud en dit is goed om die groot siel te sien. Voel soos nou die dag wat ek en die seuns hul kom besoek het op die plaas.
Swakopmund, het ek net weereens besef, is een groot speelparkie vir groot en klein en die paar dae langs die see was net ongelooflik. As daar nie duine geklim/verken word nie, dan word daar uitgespan langs die see by Myl 30 saam met goeie ou & nuwe maats (Marnus & Phillip en hul gesinne). Saans word daar langs die see gestap terwyl die seuns al langs die boardwalk ry en ver in die verte sien jy hoe die misbank Swakopmund bekruip.
Ek moet wel iets noem, vir my eie rekordhouding as ek weer die artikels lees oor paar kenmerke rakende Marina se ouers. Beide is stoere boere in murg en been en is lief vir hul grond, mense & diere.
Oom Johan is een van die min mense wat ʼn verhaal sal vertel en elke persoon waarna hy verwys sal daar ʼn naam en van genoem word. Nie soos ons wat in vandag se wêreld sukkel om ʼn naam van iemand te onthou nie. Hy ken sy beeste by hul nommers en as jy hom tyd gee sal hy jou dalk moontlik vertel wanneer daai bees verkoop was of die geskiedenis daarvan. Soggens drink hy sy koffie terwyl hy sy blokkiesraaisel invul, en al vra jy of jy vir hom kan maak sal hy vriendelik nee sê, net om sy eie koffie te gaan maak. Sy liefde en geduld vir sy honde is aangrypend en hy praat oor sy bees by die Glen met passie, maar ook oor die hartseer van die droogte. Sy stem is diep en hy praat duidelik terwyl hy sy sigaret stompie dood druk in sy asbakkie. Die oom het al ʼn wye pad gestap deur Namibië en jy kan voel aan sy hande dat hy al hard gewerk het.
Tannie Jeanetta is ʼn boer in haar eie reg en sê ʼn ding soos dit is. Daar word nie doekies omgedraai nie, en ek onthou nog met Paul en Marina se troue toe sy vir my sê: “Henry, julle mans gaan nie heel aand by die bar sit en rugby kyk nie. Hoor jul my”. Ek kan my verkyk as sy en Paul oor boerdery praat want hy karring aan sy skoonma om haar bloed effe dikker te maak J en dan wanneer sy amper haar vererg vir hom dan word daar gelag. Haar oë is sag en dit voel of sy deur jou siel kyk. Sy het ʼn liefde vir boerdery en moet nie dink die tannie staan terug.
Donderdag, 31 Desember word oom Johan en tannie Jeanetta gegroet en dan vat ons die B2 terug Okahandja se rigting. Ons draai links by D1918 en volg die pad tot by die bekende Spitzkoppe waar daar onder ʼn boom middagete geëet word.
Van daar reis ons deur die Damaraland Noord via Uis tot ons vas ry in die C40 tussen Otjikondo & Outjo. Paar kilometer later en ʼn lang dag in die saal kom tot ʼn einde by Nungubais, waar Paul & Marina boer.
Vuur word aangesteek en ʼn vars whiskey word die hand in gestoot. Kinders laat nie op hul wag nie en daar word gespeel vir die vale. Dit voel goed om weer hier op die plaas in die Kunene te sit en ek kan voel hoe my siel rustigheid kry.
En soos Namibië jou maar kan verras bou die donderweer op en voor ons ons kan kry maak die hemele oop en dit is hemels vir die seuns.
Die sonsondergange in die wêreld is iets wat geen woorde hier kan beskryf nie. Elke aand kan dieselfde uitsig oor dieselfde veld anders wees en mens kan vir ure jou verstaar daaraan.
Ons hier in die Boland ken en weet nie van donderweer nie, en WOW dit is iets om te aanskou en te beleef. Ons sal nog die oggend Outjo toe gaan met geen teken van wolke en ‘n paar uur later is die wêreld donker en oordonderend hier bo jou en dan ruik jy hom eers, dan voel jy die wind en voor jy jou oë kan knip val die groot druppels. ʼn Boer het met ons terugkeer op Vioolsdrif ʼn ding iets gesê wat my laat dink het en sy woorde was iets soos: “Reën is al wat ons verniet kry en dit is net genade van God. Verder is daar niks gratis in boerdery nie, maar slegs reën en daarvoor moet ons innig dankbaar wees”.
Donderweer in Namibië is ook nie ʼn teken dat ons nou klaar gebraai is nie. Haha, daar word langs die vuur papnat gereën terwyl die kinders mekaar jaag in die waterpoele.
Op ʼn plaas werk almal en as daar hand nodig is om speenkalwers of sleepwa te kry dan moet jy maak en doen wat daar vir jou gesê word. Om die poste te besoek is altyd die gunsteling vir die seuns want dan word daar lekker agter op oom Paul se legendariese 1982 Isuzu 2.2 bakkie gery. As oom Paul hande nodig het om die skape in die skuur te kry voor die donderweer kom dan moet almal help en hand by sit en so is elke dag ʼn nuwe en onbeplande avontuur.
Met die dat Jean meer en meer gemaklik raak om met die Hilux te ry, weet ek hy brand om ʼn geleentheid te kry om die Blou Bakkie te ry. Paul stop die sleutels in sy hand en daar gaan ons. Op ʼn reguit stuk grondpad na Tamatiepos klim ek uit en gaan speel weer passasier. Gou besef die knaap maar hierdie is ʼn ander klas bakkie en alles word dubbel nagegaan en dan gly die linkervoet rustig van die clutch en daar is ons aan die beweeg – ek, my oudste seun in die ou Blou Bakkie êrens in die Kunene omgewing en vir ʼn meer spesiale oomblik kon ek nie voor gevra het nie.
Maar een ding waarvan jy verseker kan wees is dat Namibië en sy mense ʼn manier het om met jou siel te werk. Jy vergeet van tyd en ek het my vele kere gekry wat ek nie geweet het watse dag dit is nie.
Die kuier was goed, maar ek en die seuns moes suid draai. Vrydagoggend (8 Januarie) en ek en die seuns is so net na 05h30 weer aan die beweeg. My spannetjie slaap en ek sit die kilometers in voor hulle lewe begin toon.
Goeie maat, Marnus Laubscher, het my vroeër die week aangeraai dat ek nie vir die grenspos skiet nie, want ek sou eers laatmiddag daar kom en dit kan glo ʼn proses wees. So met sy aanbeveling bespreek Marina vir ons akkommodasie by The White House so paar kilometer voor Grunau.
5pm die middag na 1,003km draai ons by die plaashek in van The White House Guest Farm. Om te sê dat ons gatte lam was teen daai tyd, is ligtelik gestel.
Die seuns ontdek ʼn plaasdam en dan is dit maar so hehe. Die aand sit ons rustig buite en aanskou die sonsondergang met ʼn skinkbord vol skaaptjops, slaai, mash, groente…hemelskos en as jul die plekkie ooit besoek, maak seker jy bestel aandete by Ontvangs. Dit is ʼn wenner.
Saterdagoggend (9 Januarie) en Jean is al 5AM wakker. Ek het hom die vorige middag belowe hy kan die paar kilometer grondpad van die gasteplaas ry tot by die teerpad so ek was verstom toe die knaap selfs begin help goed aandra om te pak – toe besef ek wat ek die vorige dag belowe het. Maar hey, ek gaan nou nie met die knaap in ʼn debat kom 5AM die oggend nie en dus ry hy die 1ste paar kilometer van ons laaste gedeelte terug huis toe.
7AM en 170km later stop ons by die grens. Ek berei die seuns weer voor en maak seker ek hoor my eie woorde dat ons geduldig moet wees. ‘n Paar minute later en alles is gestamp aan die Namibië kant en daar ry ons oor die Oranjerivier en stop by Vioolsdrif aan die Suid Afrikaanse kant.
Nou my vriende dit is hier waar daar kop gehou moet word. Onthou ek het vroeër genoem ons het 7am by die grens aangekom? Wel die kort en ondramatiese weergawe is ons is daar weg toe is dit 12h00 en die bakkie temperatuur het 38 grade gewys. Jup! ʼn Volle 5 ure spandeer om deur die Suid Afrikaanse kant te kom. Soos luck dit wou hê was daar 2 x minibustaxis wat so ‘n uur voor ons gestop het en almal moes ook eers die COVID toets doen voor hulle kon deur gaan.
Toe ek my laaste thumbs-up by die polisieman by die hek kry stroom die sweet my af en ek weet daar wag nog 650km vir ons. Daar is vreugde in die bakkie, maar ook ʼn helse lus vir kos en koue koeldrank so Springbok kon vinnig genoeg gekom het nie.
Nadat ons beide die Wimpy en die winkel leeg gekoop het aan toasted sandwitches en yskoue koeldrank is ons weer aan die beweeg. Die huis kom nader en ons moet die laaste 516km agter die blad kry.
6pm, Saterdagaand, na 4200km stop ons voor ons huis in Wellington veilig. Dit was ʼn lang dag se reis – 13 uur om meer spesifiek te wees en om te se ek was trots op die seuns met hoe hul dit hanteer het, is ligtelik gestel. Hulle was wragtig champs gewees en al was daar hier en daar soms ‘n jikkerigheid, was die twee amazing travel partners en sou ek niemand ander saam met my in die bakkie wou gehad het nie.
Aan my twee seuns, Jean & Lian: manne jul was ysters en dit was ʼn voorreg en eer om saam met jul weer te reis en plekke en dinge te beleef. Wanneer jul eendag oud genoeg is en jul lees al hierdie avonture (veral een soos hierdie) hoop ek jul kan nog die memories onthou. Ek deel met jul paar woorde, fotos en video grepe so wys eendag vir jul vrouens en kinders hoe jul saam met pa Afrika en sy mense verken het.
Paul, Marina, oom Johan & tannie Jeanetta – ek het nie woorde nie en gaan ook nie probeer nie. Al wat ek die seuns wil sê is baie dankie, regtig!
Kliek hier vir paar kiekies & video grepe van hierdie ongelooflike reis saam met my seuns.
Sooa altyd n voorreg om jul hier by ons te hê!
Slaap self ook altyd by Withuis oor as ons op gaan, daai tannie en haar span maak die lekkerste kos! Namibië bly maar net iets anders.