So ongeveer 2 maande gelede het goeie maats van ons, Paul en Marina Laas, sak en pak opgetrek na Namibië om te gaan boer in die Outjo omgewing. Met diè dat Marli in haar besige seisoen by die werk was, het dit beteken ek was op diens met ons twee jong woelwaters (Jean en Lian) oor Desember.
Nou elke ouer kan vir jou sê om ʼn jong span besig te hou oor vakansie, as jy tuis gaan bly, is soms ʼn mal avontuur op sy eie en dit deeg nie goed met my nie.
Met die dat ek net ʼn halwe rede nodig het om te reis het daai halwe rede geboer naby Outjo.
Vrydag 27 Desember om 04h00 is ons 3 aan die beweeg. Die plan was eenvoudig – daar is nie ʼn manier op hierdie aarde dat ek die 1,800km tot op die plaas in een sessie sou kon doen nie, dus het ons gemik vir Mariental waar ons die aand oorgebly het by die River Chalets.
ʼn Swembad, restaurant en ʼn mini zoo was net wat die dokter bestel het vir die kinders na +/- 11ure in die kar. Teen 20h00 moes ek hul letterlik van die plek wegsleep anders sou hulle die hele aand daar gespeel het.
Saterdag 28 Desember en ons is weer vroegoggend aan die beweeg. Van Mariental lyk die wêreld heelwat groener as die Suide wat beroerd gelyk het. Uiteindelik in Outjo en die kinders kan nie meer hul opgewondenheid beheer nie.
Van Outjo is dit nog so 37km en dan, na 1,809km, ry ons uiteindelik die plaas Nungubais binne.
Marina en haar ma kom groet met ope arms en die seuns is onmiddellik by Munnik en Streicher om hul te groet.
My groot maat, Paul, staan by ʼn werksbank en worstel met ʼn stukkende ding wat in ‘n boorgat hoort. Ons skud blad en dit voel goed om die knaap weer te sien. Soos altyd hap ons mekaar eers oor die gewig wat ons elk nou al 10+ jaar gelede moes verloor het voor ons aansit vir ʼn koue Windhoek bier.
Vandat ek Paul en Marina ken was hul op verskeie plase, so om hom hier op hul eie plaas te sien was iets spesiaal. Maar ʼn Namibië plaas is heelwat anders as om te boer op ʼn spoggerige landgoed hier in die Boland. Sit nog ʼn 7 jaar droogte by en jy kry omstandighede wat nie in enige persoon se geaardheid sit nie.
Byvoorbeeld vir my lyk die veld goed en alles is groen, maar as jy op die grond kyk is daar min, selfs niks, gras nie en dit is hoekom die reën nou belangrik is. Die goeie nuus was dat hul goeie reën so paar weke voor ons koms gehad het, maar dat opvolg reën nou noodsaaklik is want dit sal help met die groei van die gras.
Tans word meeste van die bees gevoer met boskos en dit was nie lank nie of die manne is terug van die veld en nou moet voer gemeng word. Paul was nog nooit skaam vir werk nie en soos ek hom ken laat hy nie sy manne alleen werk nie – hy vat voor en daar moet op sy tempo gehou word.
Ek is wel ʼn stadsjapie, maar nie bang vir ʼn graaf nie – dus klim ek ook in. Hierdie is nie ʼn landgoed plaas nie – hier gaan jy werk vir jou stuk vleis en koue bier saans!
Die week se kuier het my wel laat verstaan hoekom hul as gesin sak en pak plaas toe geskuif het, al was die veld +/- 3 maande tevore nog swart van die droogte. Elke dag het sy uitdagings en soos ons almal weet is daar nie ʼn 8-5 werksdag vir ‘n boer nie. Jy werk tot die werk klaar is – punt.
Ons was ook bevoorreg om ʼn dag by Etosha Heights Private Reserve ʼn draai te gaan maak en wat ʼn belewenis was dit nie om vir die seuns beide wit en swart renosters te wys nie. As jy in die omgewing is kan ek dit regtig aanbeveel dat jy ʼn draai daar gaan maak.
Het ook twee keer probeer om iets vir die pot te skiet, maar ongelukkig was geluk nie aan ons kant nie.
Iets wat my vir altyd sal bybly is die donderweer in daai wêreld. Hier in die Boland ken ons dit nie, maar om te sien hoe die donderweer wolke opbou en eers kom die wind, dan ruik jy hom en DAN kom daai groot druppels.
Die kuier op die plaas was ʼn groot eye-opener vir Jean en Lian gewees. As gesin probeer ons hulle aan soveel moontlike nuwe avonture bekendstel en kamp is al tweede natuur vir hulle. Hulle het my wel laat terug dink toe ek as kind vir my neefs gaan kuier het op die plaas – die knape weet hoe om te vat en doen net dinge anders as die besoekers van die stad. Ek self moes bont staan met my stadsmaniere en sal volgende keer moet opskerp op my tang en waterpyp vaardighede… Haha!
Saterdagoggend dra ek die twee seuns kar toe, blad word geskud en na ʼn vinnige gebed is ek so net na 04h00 weer op die pad – huis toe.
Ons was laatmiddag oor die grens en teen diè tyd was my twee manskappe al lekker gatvol vir ʼn kar en die langpad. Na ʼn oproep of twee kry ek vir ons ʼn plekkie by Oewerbos River Camp op die Oranjerivier. Koue bier, swembad, pizza’s … lafenis vir die siel.
Sondag was ons so net na middagete terug in Wellington en ma se twee welpies veilig terug in haar arms.
Dit is nou ʼn paar weke na die kuier in die Kunene en die seuns vra my nou die aand, terwyl ek langs die vuur sit, uit die bloute wanneer gaan ons weer vir oom Paul en tannie Marina kuier. Sal seker weer ʼn halwe rede moet kry om te ry…
Ja ons het al almal die hempies en slogans gesien dat boer is nie vir sissies nie, maar in werklikheid is dit is nie eers vir outjies nie. Dit vat ʼn spesiale persoon (man en baie belangrik, vrou) om die leisels van ʼn plaas op te tel en daaruit ʼn lewe te kerf. Daar is geen gewaarborgde salaris aan die einde van die maand nie en om elke hoek en draai is daar struikelblokke waarteen jy vasloop, keer op keer.
Maar dit is ‘n klas mens wat hierna kyk en dit aangryp en Paul en Marina Laas is sulke mense.
Tot ons mekaar weer sien – Groete.
Kliek hier vir n paar kiekies van ons kuier in die Noorde.
Nice one ouboet!
Raakvat skrywe. In Namibië boer mens op jou knieë. Bly vir die reën. Lekker roete!
Great geskryf soos altyd ou maat. Was lekker om jul hier te kon ontvang en sien uit na wanneer julle vir Marli Jonker bring.