Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Konings kos by Bobbejaanskrans

Blog-Main-Image-Template

Dit is Vrydagmiddag en die seuns kan nie vining genoeg uit hul skoolklere kom nie. Tigger is reeds gepak en die knape moet net klim.

Tannie Clara (wat die naweek na die honde gaan omsien) & die honde word gegroet en ons is die hek uit. Kort voorlank verdwyn Wellington in my truspieeltjies en die opgewondenheid loop hoog terwyl Airbourne se Runnin’ Wild oor die radio blaas.

Ons stop vlugtig in Ceres waar ons vir Lourens Hugo kry voor ons aanstoot via Ceres, Prince Alfred Hamlet, Gydopas…Net na Op Die Berg draai ons regs en volg die teerpad tot dit grond raak, waarna ons regs draai by die Kagga Kamma Nature Reserve bordjie.

Die nodige word gedoen by ontvangs, en met die dat Jacques & Frans-hulle nie te ver is nie besluit ons om sommer vir hul te wag voor ons afsak na die kamp plekkie.

Ons spannetjie vir die naweek was:

  1. Ek & seuns
  2. Jacques Groenewald & gesin
  3. Frans Laubscher & gesin
  4. Lourens Hugo
Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Soos met ons avontuur na Gifberg het ons ook in die donkerte by ons kampplek aangekom.

Die voertuie word in ʼn halwe laer getrek en die daktente word oop getrek. Kort voor lank en die wêreld is onder lig met ʼn vuur wat sommer lekker lewe kry. Vrydagaand is daar nie groot beplanning rakende kos nie, en ʼn eenvoudig skilpad braai sal aan die order van die dag wees.

Saterdagoggend en mense – die wêreld is koud.

Met die dat ons die aand daar aangekom het, het niemand nie regtig ʼn idee gehad hoe die plek lyk nie, behalwe die paar kiekies wat ek met hul gedeel het van my vorige besoeke aan Bobbejaanskrans, so dit was lekker om almal se reaksies te sien.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Dit was nie lank voor die kinders die koppies in is om te gaan verken nie. Jean, die oudste van die twee en so ook die konserwatiewe een vat altyd ʼn rukkie voor hy aan die beweeg kom wanneer ons by vreemde plekke is, maar Lian aan die ander kant – vrek hy laat my dink aan my ou oorlede Jack Russel, Basjan, wat as jy hom êrens sou los laat jy hom nooit weer sou vind nie want hy is soos ʼn rocket wat in alle rigtings skiet.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Altyd ʼn voorreg om saam met die groep vriende boskampe, of soos die Engelsman sal sê “wild camping”, aan te pak. Dit al so baie in vorige artikels genoem, maar almal weet waar om te vat en dinge gebeur altyd klopdisselboom.

Vandag se etes gaan bietjie anders werk as gisteraand. Wel as ek nou terug kyk daarna het ons die hele verdomde dag geëet haha.

Ons dae van eiers & bacon op ʼn blou Cadac skottel is lank al iets van die verlede. Kinders kry pap soggens en die groot mense begin die dag met koffie & beskuit.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Vorige aand se kole word oop gekrap en die fluitketels kry staanplek langs die vuur wat alweer lewe begin kry het. Jacques is reeds besig met voorbereiding vir ʼn hoender pot & deeg vir roosterkoeke wat ons later saam met Frans se afval pot sou geniet.

Frans se afval pot het so net na 12pm begin en die knaap werk versigtig die res van die dag daaraan. Dit is nie net vir alles in ʼn pot foeter en terug staan en kyk hoe die “magic” ontpop nie. Nee, pappie – die kole word met streng oë dop gehou en so af en toe word daar binne gelooer om seker te maak die vordering is soos dit beplan is.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Kinders verken al die koppies in ons omgewing. As dit nou eers genoeg was, word daar gekyk wat hul kan eet en dan gaan speel hul weer verder.

Soos die son sy strale begin wegtrek kom die langbroeke & baadjies weer uit. Winter is definitief op ons – dit kan ek jou verseker.

Laer word getrek om die vuur terwyl daar toegesak word op die twee potte & roosterkoeke.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Ek dink partykeer in die lewe vergeet ons waarvoor ons moet dankbaar wees. Ons doen die ding wat hul die “lewe” noem, maar lewe ons werklikwaar of gaan ons net deur die “motions”?

Ek voel elke keer as ek in die veld/natuur is daar ʼn kalmte wat oor my sak. Daar is genoeg reëls & riglyne in ons lewe, en as mens kom ons maklik in ʼn ritme wat gemaklik is. Sal dit nie lekkerder wees tuis met al die lekker geriewe nie? Hoekom hier in die gramadoelas en jou gat af vries? Vir my as mens, is daar twee vrae maklik om te antwoord.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Volgende oggend na koffie & beskuit word kamp op geslaan en dan is ons weer aan die beweeg. Die keer is Jean op die stokke tot by ontvangs, waarna ek verder ry.

Ek is onlangs aangevat op social media rakende my onverantwoordelikheid omdat ek my seuns op so jong ouderdom laat ry. Weereens, ek respekteer elkeen se opinie en ek weet met die dat ek ons avonture met die kuberruim deel dat daar kritiek na my kant toe sal kom. Vir die rekord ek sal nooit my kinders in ʼn posisie sit waar veiligheid betwyfel sal word nie.

Ek gaan hul wel nie in watte toedraai nie, maar inteendeel gaan ek hul uitdaag en sal ek hul nooit in ʼn posisie plaas wat ek nie dink hul kan hanteer nie.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Manne – soos altyd was dit vir pa weereens ʼn voorreg om hierdie met jul twee knape te kon gedeel het. Ons geselsies saans in die tent terwyl ons bewe van die koue is vir my altyd spesiaal. Lian, boeta, ons gaan jou by ʼn dokter moet kry want jy het my en Jean paar keer amper uit die tent gepoep haha.

Kliek hier vir ‘n paar foto’s van hierdie lekker boskamp naweek.

Camping @ Bobbejaanskrans (Kagga Kamma)

Related Posts

Comments (2)

Altyd ‘n voorreg om saam met julle manne te kamp.
Leer, beleef en sien baie plekke. Eks sommer klaar in, vir die volgende avontuur.

Ps. Kry ‘n warmer baadjie. Dan jy kry nie koud nie.

Hahaha, ja ja – sal maar een van my ook een van daai camo jag baadjies moet kry. Jacques moet nou net vinger trek en vir ons klomp ‘n lekker kamp baadjie kry

Leave a comment