Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Kuier by Kranskraal boskamp naby Merweville

Blog-Main-Image-Template

ʼn Paar weke gelede ontvang ek ‘n oproep van oom Bassie Basson, hier op Wellington, wat wil weet of ek en die seuns nie belangstel om by sy vriende, Andre en Suzaan Theron wat naby Merweville boer, se nuwe Boskamp te gaan kamp nie.

Dit is mos musiek vir my ore en voor ek my weer kon kry is ons 4 manne (Lian se makker, Paultjie, het by ons aangesluit vir die naweek se kuier) oppad Merweville toe.

‘n Paar km buite Ceres, net nadat ons regs gedraai het op die R46 oppad Touwsrivier toe, word daar eers gestop vir ʼn warm koffie langs die pad en ook ʼn geleentheid vir die jongspan om bene te rek.

In Laingsburg word daar eers by tannie Poppie gestop vir haar bekende roosterkoeke en ek moes letterlik die seuns dreig dat ek vir hulle gaan wegry anders sou hulle bly kuier het saam met die bekende tannie van Laingsburg.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

‘n Paar km verder, nes ons Laingsburg verlaat, stop oom Bassie langs die pad en wys ons almal iets wat ek nog nooit gesien of opgemerk het van al my jare deur die dorp ry.

Langs die pad in die klipwal is die vorm van ʼn boom sigbaar. Die boom is ‘n polistraatfossiel wat in sediment afgeset is onder vloedomstandighede.

Oom Bassie verduidelik vir die seuns en myself hoe so iets slegs moontlik kon gewees het as gevolg van Noag se vloed.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Uiteindelik op die grondpad en dit voel of ons boskamp naweek nou amptelik begin het. Ek het nie so lank terug hierdie einste grondpad saam met ʼn paar ander manne gery en dit was lekker om terug in hierdie wêreld te wees.

By een van die laagwaterbruggies (+/- 10km voor ons Andre-hulle se plaas sou kry) word daar besluit dat daar nou genoeg koffie gedrink was en iets kouds sal beter die keel afval terwyl oom Manie ʼn worsie in die veld “tan”.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Kranskraal is al van 1993 deel van die Theron familie. Pa Andre boer met skape terwyl ma Suzaan haar liefde vir die Karoo en die wêreld se mense uitleef by Karoo Blessings wat in Merweville geleë is.

Die boere van Merweville omgewing gaan deur een van die ergste droogtes wat reeds vir ongeveer 9 jaar al duur. Menigte boere kon ongelukkig net nie voortgaan nie en moes die knie buig onder die erge droogte. Andre en Suzaan, soos baie ander, moes aan kreatiewe maniere dink om die pot aan die kook te hou en met die genade van God is mense en geleenthede op hul pad geplaas, waarvan oom Bassie Basson een is wat die Therons nou al ʼn paar jaar ken.

Saam het hulle met die plan vorendag gekom om ʼn boskamp te ontwikkel op Kranskraal. Soos die idee verder vorm begin kry het, is ʼn 10km wandelpad ook ontwikkel vir besoekers en dit, my liewe vriende, is die rede hoekom ek en hierdie 3 jong manne hier is.

Die ander 3 “ouer” manne (oom Bassie, oom Matie en oom Dewald) het al vantevore hier by Andre-hulle gekuier so dit was net ek en die seuns wat die nuwelinge in die groep was.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Die volgende oggend groet die Karoo ons met ʼn ongelooflike mooi sonsopkoms.

Andre daag daar op net na ontbyt en na ʼn vinnige verduideliking vir die seuns oor die roete wat ons gaan stap, is ons spannetjie manne aan die beweeg.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Andre se passie vir die omgewing is aansteeklik en sy kennis van die veld laat die seuns aan sy lippe hang elke keer as hy iets verduidelik.

Hoe hoër ons teen die koppie opgaan, hoe onplesieriger raak die wind…   

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

By een van die gedeeltes moet daar mooi kopgehou word, want regs is ʼn afgrond en, alhoewel die paadjie al mooi uitgetrap is, moet daar maar met sorg gewerk word met die gedeeltes waar die grond dalk effe los is.

Aan die einde van hierdie gedeelte word daar gou bietjie gerus, maar ook om die ongelooflike uitsig oor die vlaktes te geniet.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Ons beweeg al langs die kruin van die koppies langs terwyl Andre en oom Bassie die seuns wysmaak oor hoe hierdie koppies geskep is, asook hoekom mens soms vreemde fossiele, bv. Visse, soms op die punt van koppies kry.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Uiteindelik terug by die kamp en almal vat ʼn nodige ruskansie voor daar met die potte begin word. Andre het ons genooi om die toets (SA vs Wallis) by hul te kom kyk en oom Bassie het voorgestel ons kry die potte so 98% klaar.

Dit beteken dat, wanneer ons later die aand terug is, is dit net die potte effens weer hitte gee en dan kan daar geëet word.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Lian en ou Paultjie het hul nou nie veel gesteur aan die toetsrugby nie, maar het meer hul aandag gefokus op Andre se groot snoekertafel.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Alles proe sommer beter as die Bokke wen so met ʼn lekker naelbyter agter die rug is ons terug kamp toe. Andre-hulle en vriende van hul wat kom kuier het vir die naweek gaan by ons aansluit later die aand vir ete.

Soos daar lekker gesels en gelag word om die kampvuur is die seuns doenig met hul eie vuur. Dit verbaas my altyd hoe ʼn eenvoudige ding soos ʼn vuur ʼn kind fassineer.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Aan Andre & sy familie wil ek net baie dankie se vir jul ongelooflike gasvryheid. Dit het gevoel of ons al lang jare huisvriende is en ek haal my hoed af vir julle en almal in jul gemeentskap vir die manier hoe julle hierdie droogte aanpak. Ek weet Kranskraal gaan al hoe meer bekend raak onder die families wat in die stilte van die Karoo wil gaan kamp en stap.

Kontak Andre gerus by 083 338 2025 (via WhatsApp asb) vir enige navrae rakende Kranskraal.

Dan aan die 3 manne, of altans ooms, wat ons lanklaas so lekker laat lag het – oom Bassie, oom Matie en oom Dewald. Manne dit was ʼn belewenis en hopelik nie die laaste nie. Met ons terugkeer het die seuns oor en oor van oom Matie se grappies oorvertel en dan word daar van vooraf weer gelag.

Aan klein Paultjie wat saam met ons klomp manne gehardloop het – ek is baie trots op jou jong man en jy is ENIGE tyd welkom om weer saam met ons te hardloop. As jy hoor ons gaan kamp en jy is nie lus vir mamma se lekker warm kos nie, laat sy my bel dan maak ons plek vir jou in die Cruiser of bakkie.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Aan my twee seuns, Jean en Lian: Manne – dit was ʼn fees om hierdie naweek in die Karoo saam met jul te beleef. Ek dink nes julle, het ek baie geleer by die “ou manne” en ek dink nie hierdie was ons laaste bos uitstappie saam met die harde manne nie.

Kliek hier vir ‘n paar foto’s van ons kuier by die Therons van Kranskraal.

Camping weekend with Andre & Suzanne on their farm, Kranskraal, near Merweville

Related Posts

Comments (3)

Baie dankie vir n wonderlike storie en mooi foto,s.
Baie seen vir jou!

Lekker Henry, lyk na nog ‘n lekker trippie. Daai manne van jou, en Paultjie, is te oulik!

Danki Henry. Kranskraal en sy mense is so kosbaar en n absolute rus vir die siel.
Ek kan dit regtig aanbeveel .

Leave a comment