
Na ‘n LANG en KOUE winterseisoen en ʼn angs-bevange Graad 4 eksamen het ons weer die voorreg gehad om bietjie te gaan verken en net te ontsnap weg van die dag-tot-dag se gejaag.
Ons manne was in vir ʼn groot bederf vir die eerste been van ons vakansie. Ons was bevoorreg om vir ʼn paar dae by oom Victor en tannie Linda by hul Namakwaland Tented Kamp, Agama, te gaan kuier en was dit nie ʼn belewenis vir ons 3 manne gewees nie.
Ek begin sommer lag as ek terugdink aan Lian se gesigsuitdrukking toe ons in ons luukse tent (daar is 7 in totaal op die reservaat) in stap. Mens sal glo die knape is aan niks gewoond nie – haha – in hul verdediging is hulle so gewoond dat ek hulle altyd na plekke neem waar daar nie ʼn lewendige siel naby is nie en ons moet klaarkom met die basiese kamptoerusting op/in ons voertuig.
Soos oudergewoonte het ons skaars gestop en die verbale diarree het begin. Kon skaars die mense ordentlik groet of daar word vriendelik en AANHOUDELIK “versoek” om te kom loer/kyk na iets.
Dit het Lian nie lank geneem om die swembad te kry nie en natuurlik het hy spoorloos verdwyn tydens die afpak; ons het hom na die tyd in die swembad gekry.
Die plaas, +/- 15km van Garies, is so 6,800 hektaar groot en is ʼn groot trekpleister, veral oor die blomme tydperk. Behalwe vir die blomme en mooi kleure moet jy nie skrik as jy teen ʼn trop van +/-40 Gemsbokke vasry nie.
Die 7 luukse tente is ʼn kort afstand van ontvangs/swembad area en ʼn kronkelende bospaadjie lei na elke tent. Elke tent het ʼn en-suite badkamer en gasheater vir daai koue wintersaande.
Vriende van Wellington (Karien en Mariette – dogters van oom Victor-hulle) het ook vir pa en ma kom kuier op die plaas, en met die nuwe maats was Lian natuurlik in 2de hemel. Nou hoef hy nie heeltyd na pa en sy broer se geselskap te luister nie.
Rummikub, was maar soos altyd, ʼn groot wenner onder almal gewees as daar nie krieket of rugby gespeel was nie. Ek en Lian het elke oggend ʼn tee/hot chocolate afspraak gehad voor die skaakbord.
As die seuns my ʼn blaaskans gee, het ek die tyd aangegryp om te lees.
Die een middag het oom Victor ons spannetjie verras, en ons op hul oop-dak Cruisers, sy Gemsbokke gaan wys en waar hy ʼn nuwe boskamp wil ontwikkel vir die kampers wat in die natuur wil kamp met niks of niemand naby hulle nie.
Ek los die beste vir laaste en dit is die etes by Agama. My mens, vir my en Jean hoef jy nie twee keer te nooi as dit by eet kom nie. Lian is net spier en senings en sal eet wat voor hom neergesit word, maar dit is aanskoulik om daai aggressiewe eet-angs wat enige koshuisseun het, te beleef by Jean. Die etes van Tannie Linda en Karin laat my dink aan daai groot Sondagmiddagetes wat my ma altyd gemaak het. Ek en Jean het in oormaat geskep, maar ons kon nie ʼn duik maak aan die hoeveelheid kos wat daar was nie.
Saans is oom Victor op sy pos agter die dameskroeg en dan word daar lekker saam met die ander gaste gekuier. Die boma is ook ʼn gunsteling onder gaste as daar vuur aangesteek word vir ʼn lekker Suid Afrikaanse braai.
Met ons laaste oggend kry ek Jean buite op die dek van ons tent en die knaap staar diep die vlaktes in.
“Als OK yster?”
“Hier kan ʼn mens mos maklik bly pa.”
Ek knik my kop, en ons twee geniet ʼn koffie en beskuit in rustigheid saam terwyl Lian seker êrens chaos geskep het.
Soos alle goeie dinge het ons kuier by Agama Tented Kamp tot ‘n einde gekom, en ons manne sou die luuksheid van die laaste 3 dae se lekker bly en lekker eet moes verruil vir die tweede been van ons vakansie waar ons al teen die Weskus sou reis, beginnend by Groenriviermond Lighuis, en dan sou afbeweeg vir die volgende 3 dae. Meer daaroor in die volgende artikel.
Aan oom Victor, tannie Linda, Karien en Mariette baie dankie vir die geleentheid om hierdie stukkie Namakwalandse paradys saam met julle te kon geniet het. Ons waardeer die geleentheid en, meer belangrik, die gasvryheid en lekker lag! Vir meer navrae kontak gerus vir Karien by bookings@agamacamp.co.za.
Aan my twee seuns, Jean en Lian: HA! Moet nie weer sê pa vat julle net na afgeleë/verlate plekke nie. Dink julle manne sal saam stem, hierdie was VER bo ons gerieflikheidsvlak!
Tot ʼn volgende keer.
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier by Agama Tented Camp in die Namakwaland.
[…] 0 By Henry Jonker Avonture Buitelewe Familie October 18, […]