Om ʼn langnaweek tuis te wees is net so goed jy word vir die dorp se eerste klub rugby span gekies, maar in die voorry posisie in plaas van losskakel, waar jy jou talent kan uit leef met jou ligvoetige passies.
Met die dat Mnr Afrigter se 110kg niggie graag haar sport talent wil versprei na die van rugby (gee ons asb krag) het hy goed gedink om haar jou plek te gee en jou na die dodelike posisie van #1 te skuif waar die oom oorkant jou jou sagte wang velletjie gaan verrinneweer met sy 50 dae oue stoppelbaard. Dit sal wel die minste van jou probleme wees, want jy gaan voorwaar jou eie gat kan soen soos daai oompie jou gaan krom stoot met sy 150kg lyfie teenoor jou 80kg bondel angs en vrees. Helaas sal so skuif nie wys wees nie, en dis presies hoe ek voel om lang naweke tuis te bly.
Vrydag laat middag en die VHF radio in die 80 Series begin lewe kry soos ek en Groot Jacques (knaap is ʼn stuk fris mens – PUNT) die ysters se bene rek op pad Op-Die-Berg toe. Daar is opgewondenheid in die lig en die vrouens en kinders kry skaars beurt om iets te vra of te sê!
So 19km voor Op-die-berg draai ons regs by die Baviaanshoek bord en volg die teerpad vir so 5km tot ons die afdraai links kry Kaleo toe. Elke kamp staanplek by Kaleo spog met sy eie badkamer, kombuis area & ingeboude braai. Tente word so gou moontlik staangekry sodat daar gefokus kan word om die vuur aan die gang te kry, want die Koue Bokkeveld is nie bekend vir sy matige temperatuur nie. Sou hierdie net weer eerstehands beleef het die volgende oggend toe die wêreld om ons stuk stuk toe was onder die ryp.
Het die vorige aand sommer paar ekstra burgers gemaak wat sou dien as middagete vir die dag. Terug by die teerpad T-aansluiting draai ons links berge se kant toe. Van daar volg ons die grond pad tot ons die vallei begin afsak deur die Droelandskloof pas tot by die Tankwa Karoo se grond snelweg die R355. Was bevoorreg om ‘paar Gemsbokke en trop Elande naby aan ons te sien soos ons die vallei uit beweeg het.
By die R355 draai ons links en 33km verder weer regs by die Tankwa Padstal waar koffie, roosterkoeke & ʼn koue bier (of was dit twee?) geniet word. Nadat die kinders vol suiker gestop is volg ons die grond pad wat langs die Padstal loop tot by R356 en dan verder tot by die afdraai na links voor die Tankwa Rivier.
Die pad kronkel al langs die rivier, of so sê oom Garmin, want al wat ons regs sien is dorre wêreld. Die wêreld is vaal en droog en soos ons die koppies op en af sak wonder ek hoe de hel die mense hier kan oorleef.
Die kinders se suiker het teen die tyd al uit gewerk en die arme lyfies het gecrash. Lian snork so hard dat hy sy ma, wat ook hier langs my groot visse gevang het, paar keer wakker gesnork het. Dan word sy koppie so bietjie geskuif en daar is stilte vir so 5min. Maar dit is van korter duur, want kort voor lank wen hy weer daai Lister engine op as daai snork van hom aan die loop kom.
ʼn Koue bier en die vorige aand se hamburgers word geniet by Ouberg pas se uitkyk punt terwyl die vallei aan ons voete lê. So uit die hoek van my oog sien ek Jean diep die vallei af staar.
“Als ok boeta?”, vra ek angstig, want dalk het die man ʼn #2 dat hy so hard fokus. Ek kan Lian in die agtergrond hoor iets afbreek of sy ma se bloeddruk opjaag, maar steur my nie nou aan daai 3 jarige klein tydbom nie.
Ek stap nader en gaan staan langs die jong knaap.
“Sjoe dit lyk nou regtig mooi pappa”, antwoord hy my terug. Daai paar woorde het hard tuis geslaan en ek besef net weereens hoe bevoorreg ʼn mens is om sulke goed saam met jou familie en vriende te kan beleef.
Die oomblik was van korter duur want ons klein tydbom het almal in kennis gestel dat sy klein knipmes weg is en dat die wêreld gaan vergaan as dit nie gekry word nie. “The life of a 3 year old…sug!!”
Uiteindelik bo op die pas kry ons vir Cassie Steenkamp (goeie vriend van Jacques & Carlize) wie se vrou vir ons die aand se akkommodasie by Amandeldrift gereël het. Na ʼn vinnige geselsie word blad geskud en kry die Toyota’s se neuse weer lus vir stof vreet.
By Amandeldrift aan gekom word die nodige goed solank uit die voertuie gelaai voor ons weer op die pad, terug waarmee ons gekom het, klim oppad Blesfontein toe. Blesfontein is so +/- 28km Suid Wes van Sutherland en as jy hou van sterre kyk, of wil leer van sterre dan moet jy een van Nicol van der Merwe se sterre kyk sessies bywoon.
Die perdry was natuurlik die hoogtepunt van die kinders en dit was ʼn avontuur op sy eie. Jean was maar aan die skrikkerige kant, maar Riale & Lian het die oomblik aangegryp en geen vrees getoon vir die groot diere nie.
Maar voor die son sy laaste strale gegooi het, het ons op aanbeveling van Nicol die sonsondergang gaan aanskou aan die voet van hul plaas met ʼn ongelooflike uitsit oor die platorand. Van hier kan jy die Ouberg Pas regs van jou sien asook die Tankwa Karoo se vlaktes.
So skuins voor 21h00 was ons terug by Amandeldrift en Groot Jacques het nie op hom laat wag om die vuur aan die lewe te kry nie. Marli het ʼn poging aangewend om die seuns te was, maar dit het nie geslaag nie. Daai klein vroutjie van my glo mos daar is nie ʼn ding soos “varkie-aande” vir kinders nie. Ek op die anderkant gaan naweke met hul weg, dan kom ons met dieselfde klere terug as wat ons die Vrydag gery het. Dan…my mens…dan moet jy daai vroutjie van my se styf trekke sien haha.
Volgende oggend was almal vroeg aan die beweeg. Na koffie & beskuit beweeg die Toyota’s by die plaas hek uit en draai ons links op pad na die R354.
Kort voor lank suiker ons Sutherland in. Na ʼn vinnige stop by die OK en die garage (die Cruiser moet mos heeltyd opgetop gehou word – aai aai) is ons weer die die dorp uit. Net voor Verlatenkloof Pas draai ons links op die grond pad.
Die grond pad kronkel deur die Moordenaarskaroo se oop vlaktes tot ons by Rae & Alwyn Myburgh se plaashuis tot stilstand kom. Rae se gastehuis, Brinksfontein, was ongelukkig reeds vol, maar soos Rae maar is het sy vir ons by een van die ander plase ‘n plekkie vir die aand gereel.
Die Myburgh huishouding was vol met familie & vriende wat kom kuier het vir die lang naweek. Na ʼn paar koue biere het Marli besef as daar nie nou gery word nie, dan gaan ons wragtig hier op die werf sommer kamp op slaan.
Terug op die kronkelpan kry ons ons plekkie vir die aand so 10km verder. Met die dat ons lekker vroeg middag al by ons bestemming is, besluit die ma’s dit is tyd om ʼn middagslapie in te werk terwyl ek en Jacques ʼn paar skaapsterte geniet op die vuur. Daar is darem niks so lekker soos Deli-Co se skaapsterte nie. Soos die vorige twee aande was daar vuur gemaak tot laat, kinders het gespeel en verken en tyd was ʼn relatiewe begrip wat geen impak op ons gemaak het nie.
Jacques het weer een van sy kookwater pot brode gemaak en magtig daar is darem niks so lekker soos warm brood + botter + appelkoos konfyt nie. Maak nie saak hoe laat dit aand/oggend dit is nie.
Maandagoggend en Laingsburg is in ons versier. By die garage word daar beplan watse roete ons terug huis toe gaan neem. Nie een van ons is lus vir die N1 nie so alle moontlike opsies word oorweeg.
Ons besluit op die R323 na Ladismith. So +/-20 verder draai ons regs by die Ladismith bord. Die km word op gevreet en later word ons gegroet deur ʼn bui reën net na middagete langs die pad. Skielik is die vorige 3 dae se stof iets van die verlede en word dit nou vervang deur modder paaie.
Uiteindelik in Montagu en die realiteit slaan skielik hard dat ons nou huis se kant toe staan.
Laat middag en die Cruiser draai sy neus in by Eikelaan, Wellington. Ons het net kort van 900km gery oor die 4 dae waarvan 50% onbekende paaie was.
Soos altyd was dit lekker om saam met Jacques, Carlize & Riale te toer vir die vier dae. Dankie vir ʼn puik avontuur julle.
Kliek hier vir paar foto’s van die trippie.
Jaloers is n understatement! Daai cruiser kan seker amper al die Karoo Se paaie sonder n drywer aanpak… ?! Mooi !
Daai knaap moet in geoefen word, want as ek 2018 Bots toe gaan vir 3 weke moet hy weet waar om sy neus in te druk
[…] jaar het ons saam met die Groenewald’s (Jacques, Carlize & Rialé) bietjie die Moordenaarskaroo gaan verken, so toe Marina vroeer die maand met die voorstel kom dat ons dalk paar grondpaaie gaan […]
[…] vas en soos my vingers op die kaart rondhardloop spring Blesfontein uit. Ek was so paar jaar gelede vlugtig daar saam met vriende en het altyd gedink ek wil teruggaan, en siedaar aand 2 is ook […]