
“Boys! Dis nou jag, boys! Dis nou jag!”, ʼn paar gevleuelde woorde wat die naweek baie gesê sou word en so ook die tema van die naweek.
Donderdagoggend en ʼn fris span manne kom by Villamar Restaurant by mekaar vir ʼn vinnig cappuccino + roomys tasting voor ons die pad Beaufort Wes toe aanpak.
Ons span vir die naweek is soos volg:
- Jacques Groenewald
- Frans Laubscher
- Lourens Hugo
- Nols Hanekom
- Franso Steyn
- Jacques Matthee
- Izak Visagie
- ek
So net na 9am en die twee bakkies se neuse trek N1 se kant toe. Die VHF radio’s begin lewe kry en die opwinding is groot onder die manne.
“Boys! Dis nou jag, boys! Dis nou jag!”
Paar km buite Laingsburg word daar eers vuur gemaak, want ʼn man moet darem eet ook, voor ons aanstoot Beaufort Wes toe waar die bakkes vol gemaak word en die laaste proviand aangekoop word.
Uiteindelik by Mimosa Lodge word ons ingewag deur ons gasheer vir die naweek, Tertius Myburgh. Die knaap is afkomstig van Malmesbury, maar gedurende die jag seisoen is hy maar meeste van die tyd in die Beaufort Wes omgewing.
Vat nie lank vir Frans om die groot vrag vuurmaakhout te kry by die lapa nie en kort voor lank word die eerste koue verversing’tjies om die vuur geniet.
Vrydagoggend en almal is sommer al vroeg aan die beweeg. Op pad na die 1st Springbok kamp, word daar eers deur ʼn droë rivierloop gery opsoek na ʼn verlore Koedoe of twee, maar ongelukkig was geluk nie aan ons kant nie.
Kamp 1 en ek is 1st van die bakkie. Skaars 100m die veld in geloop en ʼn skoot klap skuins agter my. Hardloop terug en kry Nols langs ʼn mooi Springbok ram … nogals een met ʼn netjie oorbel (tag) aan haha. Man skud maar net kop en hulle beweeg aan. Min het ons geweet, hy sou nie die enigste een wees wat hou van bokke met oorbelle nie – of hoe sê jy Jacques?
“Boys! Dis nou jag, boys! Dis nou jag!”
Laat middag is ons almal terug by Mimosa. Almal se Springbok rekening is al oop, maar Izak se Koedoe ontwyk hom nogsteeds, maar dit pla hom nie veel nie. Môre is nog ʼn dag…
Die aand se samesyn kry ʼn hupstoot en die vuur brand effe groter as die vorige aand, want die jag se senuwees is iets van die verlede en almal ruil bok stories uit.
Saterdagoggend en daar word besluit ons gaan die oggend gebruik om eers vir Kudus te soek. Die twee bakkies skiet in verskillende rigtings en so net na 11am kom ons weer by mekaar vir middagete.
Frans het ʼn Koedoe koei op 291m plat getrek, maar ongelukkig was daar geen tekens van Kudus gewaar van ons bakkie nie. Na middagete, en die jag gaan weer voort vir Springbokke…
Jag bly maar ʼn ongelooflike ervaring, maar ek dink dit is belangrik om saam met die regte mense in die veld te wees. Mense wie jy kan vertrou en meer belangrik mense wat die natuur & alles gepaard met jag met respek behandel.
Maak nie saak hoe goed jy op papier / teikens skiet nie, sodra jy van daai bakkie klim is dit net adrenalien wat pomp. Vir een of ander onverklaarbare rede begin jou asem jaag en terwyl jy die regte plek probeer kry vir die maksimale skiet venster is daar soveel goed wat deur jou kop gaan.
En dan, sodra die 1st bok val, dan is dit soos iemand wat jou met ʼn emmer water foeter en skielik is jy rustig en die asemhaling weer normaal.
“Boys! Dis nou jag, boys! Dis nou jag!”
Saterdag laat middag en die gewere word finaal in die geweersakke weg gesit. Jag is amptelik verby, maar nog nie die verrigtinge nie.
Soos die vorige aand, kom daar weer ʼn hupstoot in die samesyn en die vuur brand sommer nog groter as die vorige twee aande. Die atmosfeer om so groot vuur in die middel van die Karoo is iets om te beleef. Elk skoot word in detail beskryf en dan is daar ook natuurlik die na betragting gedeelte waar ʼn paar manne ʼn trofee of twee (Nols) ook gekry het.
Sondagoggend en die bokke word gelaai en dit is weer terug op die N1 Wellington toe.
Dankie vir ʼn puik naweek manne. Volgende jaar maak ons weer so.
Kliek hier vir ʼn paar foto’s van die naweek.
Lees gerus nog so paar jag verhale:
- 2023 – Jag by Waterfloof Plaas
- 2022 – Jag by Knoffelfontein
- 2020 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Thali-Thali
- 2017 – Jag by Mullersvlei
[…] 2018 – Jag by Mimosa Lodge […]
[…] 2018 – Jag by Mimosa Lodge […]
[…] 2018 – Jag by Mimosa Lodge […]
[…] 2018 – Jag by Mimosa Lodge […]