Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Namakwaland 4×4 Toer

Namakwaland 1

ʼn Avontuur wat nie ontstaan om ʼn kampvuur nie, kan nie vertrou word nie – skryf dit neer as jy nie dit geweet het nie.

Jy kan nie tuis sit en teug aan ʼn Rooibos tee en dink maggies dit sal nou lekker wees om die bakkies se neuse in die-en-daai rigting te stoot saam met die vrinne nie.

Verbeel jou – terwyl jy jou briljante idee op jou vrinne WhatsApp groep bekendstel is die een dalk besig om sy longe langs ʼn 0/8 rugbyveld te verloor en ‘n ander is dalk nogsteeds, na 3 weke, besig om deur die gebruikers gids van sy nuwe welder te gaan. #SiesMan!

Om ʼn kampvuur na die 3rde koue verversing’tjie is daar rustigheid en die week se geraas is iets van die verlede. Die vrouens is rustig êrens terwyl die kinders iets afbreek by jul gasheer se woning, maar dit is sy probleem later.

ʼn Idee word geskiet terwyl daar met admirasie dop gehou word hoe ‘n vol rooster skaap tjops (Delico wat anders) gedraai word. Die presiese tegniek hoe die rooster vas gehou word gekombineer met die korrekte rotasie spoed – ʼn kuns op sy eie.

10min later en die datum & die eindbestemming word gefinaliseer. Hierdie sal natuurlik binne minute voorgelê word aan die beter-helftes, om seker te maak jy word nie per ongeluk in nog ʼn kinder partytjie geboelie nie.

25 April – 1 Mei 2018 (datum) – Namakwaland (bestemming) word aan geteken. Die detail van die toer was natuurlik tydens vele soortgelyke kuiers meer in diepte bespreek en finaliseer.

25 April (Woensdag) en die groot dag breek aan. Ons spannetjie vir die toer was soos volg:

  • Groenewald’s (Jacques, Carlize & Rialé)
  • Laas’e (Paul & Munnik) – Marina is hoog swanger
  • Hugo’s (Lourens, Mariette, Josua & Loumari)
  • Laubscher’s (Frans & Lunay)
  • Jonker’s (ek, Jean & Lian) – Marli het ʼn rugoperasie ʼn week gelede gehad
  • De Kock (Ruan het saam met Paul gery)
  • Janse van Rensburg (Rey) – Laaste 2 aande

Ek en die twee seuns val al vroeg in die pad want ons wil graag die lang grondpad (R358) wat voor Garies afdraai en dan via Kliprand tot by Pofadder hardloop.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Die res van die konvooi vertrek net so na 3pm uit Wellington en kom die aand laat by Klein Pella aan. Teen die tyd het ek natuurlik seker gemaak die vuur brand al hoog terwyl die wêreld om ons koud raak.

Tyd is ʼn relatiewe begrip en wors & ʼn lieslap kry hul plek op die kole terwyl die dag se stof uit die monde gewas word met ʼn vuil Coke.

Volgende oggend en daar is al vroeg lewe in die kamp. Na koffie en beskuit is die konvooi aan die beweeg na Kakamas om die wonder van die Augrabies watervalle te gaan aanskou. Die Oranje rivier is in vloed en om hierdie valle in sy glorie te sien is altyd ʼn voorreg.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Middagete word geniet by Lake Grappa voor daar weer in die pad geval word. Pofadder sou ons laaste stop wees om brandstof te kry tot ons weer by Alexanderbaai sou kom, dus word al die tenks + jerry kanne (die is nou ons met die dors masjiene) vol gemaak. Petroljoggie glimlag breed terwyl ek met trane in my oë die bank kaartjie vir hom gee…

So 15km buite Pofadder volg ons die smal pad tot by die sendings dorpie Pella waar ons ʼn draai gaan maak by die bekende kerkie. Ongelukkig was daar niemand om vir ons oop te maak nie en dus het ons aanbeweeg tot ons teen die Oranje rivier vasry. Hierdie sal ook die amptelike begin plek wees van die Namakwa 4×4 Roete.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Van hier volg ons ʼn kronkel tweespoor pad al langs die Oranje rivier. Die landskap is dor & droog en toon geen genade nie. Later beweeg ons weg van die rivier, weer terug na Klein Pella, waar ons vir ʼn 2de aand sou oornag.

Kort voor lank en die son gooi sy laaste strale terwyl die Kameeldoring lekker knetter. Kinders hardloop die vlaktes plat terwyl Carlize besig is met haar Cowboy (mince & bakes beans) gereg. Manlief, Jacques, bak soos altyd weer ʼn lekker brood.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Na ete kom Frans met ʼn gevaarlike klein bottel (Withond soos baie hom ken) houding daaraan. Die vorige aand het daar ʼn skokkende voorval plaasgevind waar ʼn individu (Jacques) ʼn verversing’tjie vir homself geskink het en nie die groep gevra het of hulle ook ietsie kouds vir die keel verlang nie. Dus was dit ons plig om die arme verlore siel te herinner dat jy nie daai voetfout weer moet begaan nie. Ou Frans skiet die knaap ʼn kort glasie plofstof, skuus Witblitz/Withond in. Snaaks hoe so klein glasie anergie so groot man se gesig skeef kan trek en skielik is daar trane in die oë, maar hy mis seker maar net sy hond tuis…

Vrydagoggend na ʼn vinnige besoek aan die Dadel plantasies is ons weer op die kronkellende tweespoor pad.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Die dag is sommer van vroeg af warm en middagete word langs die rivier geniet by Melkhoutboom. Skaars het die voertuie gestop en die kinders is reeds in die water. Daar was nie eers tyd vir swembroeke nie.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Die oop vlaktes van die gebied is iets om te aanskou Alhoewel die wêreld semi woestyn + klip is, is daar tekens van lewe met veld blomme wat hier en daar kleur aan die vlaktes gee. Gelukkig het ons darem ʼn man van die Boesmanland in ons konvooi so ou Frans kon darem sy veld kennis met ons almal deel.

Laat middag en ons kom uiteindelik by Ramansdrift, maar ʼn ander groep het ons reeds voorgeskiet. Met die dat die rivier so hoog op gestoot het, was daar nie plek vir nog ʼn groep nie en het ons besluit om terug teen die vallei op te beweeg en teen ʼn berg hang te gaan kamp.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Die verlore siel (Jacques) van die vorige aand se siekte was wonderwaarlik genees en die glasies word saam-saam vol gemaak.

Die aand word daar groot vuur gemaak en fees van ʼn maaltyd word geniet: roosterkoeke, skaaprib & tjops.

Saterdag volg ons die Oranje rivier tot by Henkriesmond waar ons dan weg draai en die eensame grond pad volg tot ons weer vasry teen die N7. Hierdie is ook die amptelike eindbestemming van die Namakwa 4×4 Roete.

Namakwaland 4x4 toer 2018

By Vioolsdrift draai ons links by die grenspos en volg, weereens, die rivier tot by Bushwacked waar daar kamp op geslaan word. Die manne met die visstokke het nie op hulle laat wag nie en Ruan & Lourens se lyne was gou in die water.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Terwyl Jacques se vleis pot op die kole prut, het Frans & Paul die nodige voorbereiding gedoen vir hulle afval pot. Die aand was daar soos konings geëet.

Sondagoggend en daar was sommer van vroegoggend al groot opgewondenheid in die kamp. ʼn Legende van Voetspore-faam, oom Rey Jansen Van Rensburg, gaan vir die volgende twee dae by ons konvooi aansluit en sy kennis van die area met ons deel.

My oudste, Jean, wat ʼn groot Voetspore aanhanger is se mond het letterlik op die grond geval toe die groot 4.2 Cruiser ons kamp in ry en die twee kleur sokkie oom, met die breë glimlag ons groet.

Moeilik om te sê wie was meer opgewonde – die pa’s of die kinders.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Kamp word sommer ekstra vinnig op geslaan en kort voor lank is die konvooi aan die beweeg met oom Rey voor. Die vorige dae se radio sirkus is skielik iets van die verlede en nou word daar sommer semi-formeel gesels. Dink paar manne (Paul…en…Paul…en…o ja, Paul) het sommer hul mae in getrek as daar gepraat word.

Oom Rey se kennis rakende die area is ongelooflik en as hy praat hang die kinders aan sy lippe. Elke koppie & boom word uit gewys. As die radio’s stil word skiet hy ons met vasvra vrae en dan is dit ʼn groot speletjie (meeste raai maar) wat die regte antwoord is.

Na ʼn besoek aan Boesmantekeninge verlaat ons die tweespoor pad en dinge beweeg in ʼn ander rat/formaat. Skielik is daar groot stukke nie meer pad nie en word oom Rey se Cruiser maar net gevolg soos ons tussen die koppies & droë rivierlope beweeg. Onder ʼn klip krans in een van die droë rivierlope word middagete geniet.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Elke kind kry ʼn beurt om co-pilot by oom Rey te wees en as my twee knape maar net oud genoeg was om die 80 Series te kon ry sou ek ook ʼn beurt in daai sitplek wou gehad het.

Ons sou die aand kamp by Tierhoek wat in die Richtersveld bewarings gebied geleë is aan die voet van die Ploegberg berge. Die uitsig van die vlaktes vanuit die kloof is soos ʼn skildery. Elke uur verander die kleur skema en kort-kort staan jy oop mond en staar net die vlaktes in.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Die kinders is natuurlik in 2de hemel en die hardloop die koppies uit soos Dassies. Kamp word opgeslaan en die geselligheid om die vuur begin lewe kry. Steaks, chips & roosterkoeke was op die menu vir aandete met natuurlik so paar vuil Coke’s. Nie seker waar en hoe die goed hulself te vinde gekry het in ons onskuldige voertuie nie.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Om ʼn kampvuur met oom Rey te deel is iets besonders en stories van al sy reise, nog lank voor hy deel geword het van Voetspore, word gedeel. Ek persoonlik het net duskant 100 vrae gevra.

Beskeie, wys, vriendelik is maar net ʼn paar kenmerke as mens so na die oom met die grys hare en gekleurde sokkies kyk.

Maandagoggend en die ritueel is nou al soos klokslag. Almal weet presies waar om te vat en die voertye kan nou al toe oë gepak word. As die blaashoring op oom Rey se Cruiser blaas dan is dit die teken dat die konvooi aan die beweeg is.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Van Tierhoek beweeg ons stadig tot by Alexanderbaai. Wou graag teen die see middagete geniet, maar kon nie ʼn pad kry tot by die see nie.

Met oom Rey in die groep was dit sommer gou en ons het ʼn alternatiewe plekkie by ʼn nabye koppie tussen die oranje ligene gekry.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Daarna volg ons die R382 tot by Port Nolloth waar die laaste proviand aangekoop word. So paar km uit die dorp draai ons regs weg van die R382 en volg die grondpad tot by die bekende ou De Beers myn dorpie – Kleinsee.

Na ʼn kort verkenning gaan kamp ons buite die dorp langs die see by Brazil.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Ou Frans laat nie op hom wag nie en die vuur het skaars lewe gekry en die 1st vol rooster (skaapsterte) maak sy verskyning langs die vuur.

Vandag wag daar ʼn groot bederf vir ons almal. Oom Rey is in beheer van die slaptjips vanaand. Hierdie is nie sommer enige hiert-jy skyfies nie, maar meer belangrik is die manier hoe dit gemaak word.

Dit is al ʼn ou tradisie op die Voetspoor toere en dit was ongelooflik om die vuurwerke eerstehands te aanskou.

Saam met die skaapsterte & oom Rey se slaptjips maak 2 x snoeke ook hul verskyning op die rooster. En om alles af te sluit Carlize se braai-smore-poeding.

Weereens word ons geseënd met ʼn ongelooflike sonsondergang. Terwyl die son sy laaste strale oor die oseaan terug trek, kom die maan skaam-skaam oor die duine op.

Die realiteit skop in dat ons toer na ʼn einde se kant toe staan. Hoe verduidelik jy die afgelope 6 dae vir iemand?

Terwyl ek om die vuur sit en luister na al die stories & grappe begin ek wonder hoe geseënd ons is hier in Suid Afrika. Met al ons probleme (politiek, misdaad & natuurlik swak rugby haha) is dit nogsteeds ʼn land wat ek vir niks sal wil veruil nie. Om hier langs die see saam met jou vriende om ʼn vuur te sit en koningskos te geniet is mos kos vir die siel.

Dinsdagoggend, 1 Mei, en die voertuie word vir die laaste keer gepak. Die tente word vir die laaste keer opgeslaan. Koffie & beskuit word vir die laaste keer om ʼn Kameeldoring vuur geniet.

Namakwaland 4x4 toer 2018

Ons groet oom Rey by die R355 waar ons paaie split. Hy gaan links Springbok toe en ons regs Kaap toe. Ons volg die pad tot by Hondeklipbaai waar ons ʼn kiekie gaan neem van die lighuis vir Josua se skool projek.

By Klawer word die voertuie vir die laaste keer vol gemaak. Dinsdag laat middag na +/- 2,500km kom ons konvooi (4 voertuie) veilig terug in Wellington aan.

Kliek hier om foto’s van hierdie ongelooflike toer te sien.

Related Posts

Comments (11)

Soos altyd goed geskryf, well done. Laaik die drone fotos! Daai oom met die slaptjips is mal LOL. Kan nie glo Marli moes die een uitsit nie 🙁

Yeah, het haar gemis op die trip. Hopenlik as die rug nou reg is is sy nog sterker en kan sy die seuns gas gee 🙂

Dis met swaarte dat ek die artikel klaar lees en terug verlang na die onvergeetlike tyd wat ons gehad het. So is dit ook met die grootste bokspring wat my waterpas lyfietjietjietjie kan maak dat ek dink aan die volgende een.
Goeie geskryf Henry

Stem, NB dat die volgende een so gou moontlik vas gemaak word!

Ek kry hoendervleis as ek die great artikel lees……dit was n voorreg om die wonderlike trip te kon meemaak!

Dit is die tipe stories wat ek geniet om te lees en die fotos is genoeg om enige persoon jaloers te maak.

Mooi geskryf ouboet.
Janee, dis onmoontlik om daai wonder en skoonheid van die 6 dae op papier te kan sit. Was ongelooflik en voel geseent om dit te kon sien en deel met julle.
Weeneens baie dankie dat ek so op 99 kon inspring en saam toer.
Ons land bly maar mooi!!

Klink na ‘n great trip! Het self daai naweek die weskus trip gedoen, bly maar net mooi wêreld. Hoe het julle dit reg gekry om vir Oom Rey te kry om saam te toer, as ek mag vra?

Een van die families in die groep ken die oom en het al by hom gekuier op Springbok. Hy doen toere deur die hele Richtersveld, Kaokoland…hel enige plek waar jy wil gaan, sal hy jou kan neem.

Was ‘n belewenis om saam met hom te toer en het ons goed gewys en geleer wat ons nooit sou geweet het nie. 80% van die goed sou ons net verby gery het.

Dis baie goed geskryf en die fotos asemrowend! My Pa het die link vir my aangestuur – dis so ‘n klein wereld – dat jul nou saam met my Pa (Rey), op ‘n toer beland het! Dit lyk baie lekker.

Goed gaan!

Dankie. Sjoe die wereld is klein. Ek en Marli sien jul binnekort weer by die CF!

Leave a comment