Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Kamp by Gatsrivier

Gatsrivier 4x4 roete

Vrydagoggend (lang naweek) en dit is weer sulke tyd. Daar moet vuur gemaak word soos die ou dae. Samesyn moet gebou word asof Maandag einde van die wêreld is. Kinders moet speel en raas nes hul dit kan doen.

Hoekom? Want ons wil, en magtig ons KAN!

Jean kry sy plek in sy stoeltjie en die knaap se glimlag trek van oor tot oor. Marli / yster / M / SWAMBO / gogga maak seker sy pak nog 3943573 los sakkies in voor sy die hoë trappie neem om haar plek in Tigger te neem. Sleutels word geswaai en “man oh man” Tigger se straight six purr soos ’n Suid-Koreaanse Pofadder op hitte.

Kry Nols, Dirk & Nicus-hulle by die garage in die dorp (Wellington) voor ons in die pad val Ceres toe, waar die res op ons gewag het.

Ek en Nols skiet oor Bainskloof pas terwyl Dirk & Nicus-hulle via Gouda gaan. Nols se Cruiser sleep sy Jurgens XT140 waentjie luilekker die pas uit…om eerlik te wees dit sou my nie verbaas as hy vergeet het van die waentjie agter hom nie.

By Ceres kry ons die res van die spannetjie (Rickster, Ruan, Karel & Liz) en laaste goedjies word gou gekoop voor ons op die R46 die dorp uit suiker.

Deur Karoopoort en ons draai regs op die R356. Eers is daar geen tekens van die vorige 2 dae se reën nie, maar na ’n vinnige pitstop begin die pad effe verander en kry ons meer modder en water kruisings. Karel kies sy lyne goed met Liz se karretjie en net voor die gees al begin skreeu vir ’n koue branners gly ons deur Gatsriver se hekke.

Terwyl tente staan gemaak word begin Ruan met vuur bou. Oom Hennie (eienaar en ’n lekker karakter) was so gaaf om ’n palet hout op elke staanplek te los dit terwyl elke voertuig in ons groep 2 streepsakke hout ook saam gery het. Augustus maand in die Karoo en die dorpe om ons het almal sneeu, so daai vuur moet loop en hy moet maar *#^$# hard hardloop want as die son sak dan is dit ons en die Karoo se koue.

TB vir die naweek

Hoe later hoe kwater en toe Nols se Jägermeister bottels uitkom toe kon jy die koue op ons gatte skryf.

Saterdagoggend en die kinders is al vroeg woelig. Tania het bietjie martelpyp gaan trap terwyl die res lekker om die oggend vuurtjie verkeer.

Dirk & Nicus-hulle was net daar vir die een aand, want Marion se oogappel het by oupa & ouma gekuier vir die aand so hul het begin met die oppak proses.

Laat oggend en die wors vir brunch is klaar gebraai. Sleutels word geswaai en ons skiet al dieper Gatsrivier in. Groet gou vir Elizann (was ook die naweek daar saam met familie en vriende) voor ons regs draai by die waterval bordjie. Bande word gou afgeblaas en dan skud skud ons deur die Karoo vlaktes.

By die waterval word die dors en koue gou geblus met die knak van ’n OBS botteltjie. Entjie vêrder en Nols kry ’n lekker oopte waar die kinder kan rondhol soos afkop hoenders, sonder om te worry of een gaan besluit om by die waterval af te spring en meer belangrik die honger magies kon gevul word met boereworsrolle.

Op pad terug later die oggend kry ons weer vir oom Hennie langs die pad. Daar word gereël dat ons hom net so voor 15h30 by sy huis moet kry dan gaan ons gou die ysters deur hul passies sit op ’n kort/vinnige roete tot op ’n nabye koppie.

Pa die ding wil nie meer ry nie...

Terug by die kamp en die vrouens gaan lê skuins, manne skiet teiken met die windbuks en later skuif dit na enige iets wat leef en beef terwyl die kinders mekaar leer kaart speel (tx Boeta Bul).

15h30 en ons staan by oom Hennie se plekkie. Danie (Elizann se man) en ’n vriend stop ook met hul Jeep. Oom Hennie doen verwelkominge en stel almal gerus dat alhoewel daar plekke is waar die hare effe gaan opstaan dat al die voertuie daar dit kan doen.

Hubs word gelock, kort stokkie skuif na 4L, SWAMBO kyk of haar hare reg is, boeta beloer die wêreld intens asof daar ’n helse fight by sy venster is tussen Superman en Spiderman.. en daar sleep oom Hennie die rivier bank af.

Ons kronkel deur en langs die rivier en dinge gaan lekker. Een spesifieke hindernis het die onderbroek laat klou aan die seat covers, maar almal is daar deur sonder enige WOW oomblikke. Bo-op die koppie en oom Hennie se jong latte haal paar plat rivier klippe van sy Toyota af. Marli word sommer aangewys as die “beste skrywer” en drywer, voertuig maak en registrasie nommer word op elke klip geskryf.

Tigger rek bietjie bene

Terug by die kamp en Tania en kinders het reeds al die groente vir die aand se pot reggekry. Vuur word weer lewe gegee en die eerste enkel hoogte dop word gegooi met ’n steady hand.

Met Nols aan die stuur van ’n swart pot gereg kan jy gerus wees daar gaan geëet word asof daar nie einde is nie.

’n Kuier om ’n vuur saam met vriende in die Karoo koue is ’n gawe van Bo, en een waarvan ek nie genoeg kan kry nie. Baie vra altyd hoekom wil jy in die vlaktes gaan kamp in die middel van winter, storm, reën, chaos….? Selfde mense wat nie verstaan wat dit doen aan jou siel nie. Geen stront soos fone, laptops, Facebook, Twitter, WhatsApp….nie.

Jou gat in ’n lekker kampstoel, die lag van kinders om die tente, die vroue wat klets en diep sake bespreek, ’n rooster vol vleis met nog twee casseroles om te kom, ‘n pal wat doppe in die donker skunk en soos jy daai beker na jou mond bring weet jy jou trok sal ook kan loop op hierdie k@k wat jy nou gaan drink…dit is maar net ’n paar goed wat my hoendervleis gee. Noem my maar eenvoudig, maar hierdie is my tiepe mense.

Sondagoggend en Danie & Elizaan het kom groet voor ons in die pad val.

Groot dankie aan Marli, Nadia, Nicus, Marion, Dirk, Tania, Nols, Liz, Karel, Ricky & Ruan en die kein span (Emily, Boeta Bull, Juan, Nanicke & Jean) vir ’n kookwater naweek. Soos die res is dit ook een vir die boeke. Ook ’n groot dankie aan oom Hennie (“ek laat nie aan my trek nie”) van Gatsrivier vir sy gasvryheid.

So wanneer en waar gaan ons volgende?

Kliek hier vir meer foto’s.

Related Posts

Comments (4)

Johannes van die See

Jy’s darem n interessante persoon met n lewe vol opwinding en gees, lekker!

Goeie verslag en mooi foto’s.

Tx Johannes. Wil nog trippie saam jou en paar Kampvuur manne doen. Laat dit juig

Dankie man! Ons eerste kamp-ondervinding en sal dit beslis weer doen!

[…] word ons verwelkom deur ons gashere, Wessel & Caron. Ons kry die presiese kampplek waar ons so paar jaar terug ook gekamp het, en wat lekker beskud is teen wind en ligte […]

Leave a comment