Donderdag laat oggend het ek gevoel soos Appel se liedjie FOUTE, want ʼn groot naweek het op ons gewag. Meer spesifiek, ʼn JAG naweek het vir my en die seuns voorgelê in Aberdeen.
As gevolg van eksamen roosters wat geskuif het, kon ons nie die Woensdag saam met die res van die manne al deur geskiet het nie, maar Donderdagoggend is ons 4 manne (Joshua, Lourens se seun, het ook nog eksamen geskryf) direk na die eksamens in die pad gewees.
Met al die groot reën wat ons oor die laaste paar dae gekry het, was dit amper problematies en ons kon nie by die N1 op pad Worcester toe uit kom nie, maar kort voor lank is ons uit die nat Kaap en hard op pad Groot Karoo toe.
Waterval plaas se afdraai is +/- 1km voor jy Aberdeen sou in ry. Die manne het die dag glo nat gereën in die veld, en die pad na die jaghuis was ʼn avontuur op sy eie.
Die aankomsvrees is hoog en die sakke het skaars die vloer getref en ek is gewapen met ʼn vuil Coke in die een hand, ʼn plofbare klein glasie in die ander een.
Die jag naweek het AMPTELIK begin!
Volgende oggend stop Koos & John met die spanne en dit is sulke tyd. Die manne wat opsoek is na Kudu’s skiet vooruit saam met Koos en die res van ons is saam met John.
Frans word eerste afgelaai en dan is dit ek en die seuns se beurt.
Gou word die area verken en kyk waar sal die beste plekkie wees vir die knape om te sit. Ons kry ʼn lekker beskudte bos en almal neem hul plekke in. Jean is eerste op die geweer, en daar heers groot opwinding.
Gister se reën is iets van die verlede en daar is geen tekens van wolke nie, maar my mens die wêreld is koud en om dinge net so bietjie meer interessant te maak waai die wind dat hy bars.
Lian kry later so koud, hy gryp in sy koffie sak (elk het ʼn koffie sak waarop ons kan lê in die veld), en maak hom so klein soos hy kan agter ʼn bossie.
Die instruksie was duidelik – ons is hier vir Springbokke en niks anders nie, anders skiet ons onself in die skuld.
Paar Springbokke maak hul verskyning, maar voor daar aangelê kan word, begin hul hardloop. Voorsit is nie bakkie jag nie, en die manne moet leer wat geduld is en meer belangrik LIAN, wat dit beteken om saggies te praat in die veld.
Later skuif ons na die ander kant van die koppie met die hoop dat daar darem iets in ons loop sal vas hardloop. Met Jean nog steeds op die geweer, is daar mos nou nie rede vir my om hier in die lekker sonnetjie (wind het darem effe bedaar later) wakker te sit nie, en maak gebruik van die geleentheid om so bietjie van gisteraand se verlore slaap as gevolg van die aankoms vrees in te haal.
Koos kom oor die radio dat ons liewers na die ander kamp toe moet gaan. Terug op die bakkies en deur na die nuwe kamp en kort voor lank word daar vir ons uit gewys in watse rigting ons moet stap om ons plek te kry.
Die knape se geduld hou nog goed en kort voor lank kom wandel ʼn Springbok rammetjie so op 100m. Die gras is lank (ek kniel so regs agter Jean) en ek kan nie die bok lekker duidelik sien nie.
Ek hoor die .270 se slot gaan 50% af.”
“Seun die bok staan sleg. Ek kan hom nie lekker sien nie. Kom ons wees rustig en kyk wat maak hy.”
Die bok beweeg so semi agter ʼn truksvy boom, en teen die tyd kan ek net sy gat sien.
“Pappa ek het hom skoon. Ek gaan skiet.”
“Wag boeta, ek sukkel om hom te sien. Jy seker jy het hom skoon voor jou?”
“Ja pa!”
“Jy is op die geweer. As jy reg is, gooi.”
Ek hoor die slot in sy finale posisie beweeg. Diep asem in en stadig uit…
Skoot klap en die perfekte blad skoon. Die jong man was ten volle in beheer van die geweer en sy keuse en dit was regtig ʼn trotse oomblik om te sien hoe hy die besluit en verantwoordelikheid van die geweer geneem het.
Blad word geskud en Lian is super opgewonde vir sy broer se part.
Daar is nie baie tyd om te hanna-hanna om die bok nie, want die dag trek water en dit is nou Lian se beurt op die .270.
Die jong man speel al heeldag tweede viool, en ja ons moes seker 3748235235 gesê het om saggies te praat, maar nooit was daar gekla nie.
Een van die aanjaers verskyn skielik uit die bos hier by ons en noem dat die bokke op pad is. Sy woorde was skaars koud toe sien ek hulle so van 10uur se kant deur kom. Moes seker so op 170m gewees het. As gevolg van die afstand is dit net die koppe wat ons sien deur die gras.
Die slot skuif na 50% en ons volg die bokke met die hoop dat êrens een sal stop waar ons darem ʼn skoon blad kan sien.
Trop raak aan die hardloop en ongelukkig was dit ook die laaste wat ons hul gesien het.
So 2 ure later, kom die boodskap oor die radio wat ek gevrees het. Ons moet pad se kant toe beweeg dat die bakkies ons kan kry, want ons is klaar vir die dag.
My hart sak in my skoene toe ek die teleurstelling op daai jong man se gesiggie gesien het. Jean besef onmiddellik wat dit beteken en bied aan dat met die volgende jag Lian eerste moet skiet.
Ek skraap moed by mekaar en soos met ons jag by Knoffelfontein verlede jaar, verduidelik ek vir hom dat ons vat wat die veld vir ons gee. Daar gaan nog baie kere kom wat jy leë hande die veld gaan uit stap, en ander dae gaan elke liewe bok wat daar is voor jou visier loop.
Soos ons bakkie toe stap, hangende skouers sê hy, “Ek is jammer as ek pappa se geld gemors het.”
Ek dog my hart breuk net daar.
“Seun moet NOOIT so dink nie. Hierdie dag wat ons manne in die veld alleen spandeer het, is priceless. Die bokke is ekstra. Moet nooit so dink nie asb.”
Later die aand terwyl die vuur nou lekker knetter en die jong man homself nou weer is kom ou Frans na my.
“Nee ou maat dit werk nie so nie. Ons ry nie van hierdie plaas tot hy sy bok het nie. More maak ons ʼn plan. Hoor vir my.”
Lourens val in en sê hy sal met Koos reël en ons het nie die aanjaers nodig nie. Ons gaan ʼn geleentheid van die bakkie vir die jong man soek.
Daai aand eet ons manne voorwaarlik soos konings.
Volgende oggend en nes die manne gesê & gereël het is ons almal op een bakkie. Lourens is aan die stuur en ek en Jacques (sy .300 hang oor die skouer sou daar ʼn Kudu uit spring) staan voor by Lian. Joshua het die rangefinder en Jean is op hek diens.
Lourens vat ons deur die valleie en dan kort voor lank is ons weer in die eerste kamp waar ons gister begin het. Paar bokke word gesien, maar hul verdwyn agter die bosse.
Ons stop voor ʼn driffie en Lourens noem, ons moet reg staan, want as ons deur die driffie is, is ons by die hek van kamp 2 waar Jean sy bok geskiet het, en daar staan altyd bokke.
Soos Lourens gesê het, toe gebeur dit so. Twee rammetjies staan onder ʼn boom. Die bakkie kom tot stilstand en dan begin al die bewegende parte op die bakkie.
Bakkie was skaars dood en Joshua gee afstand, “210m oom”.
“Die regterkantste een is die groter een.”, kom Jacques se stem saggies deur.
“Ok seun, dit is die eerste strepie onder die kruisie. Het jy hom so?”, fluister ek in sy oor.
“Het hom so pa. Kan ek maar skiet?”
“As jy reg is kan jy gooi.”
Ek beweeg die slot heeltemal af. Skoot klap, maar die bok bly staan.
“Net onder deur”, se Jacques.
“Maak seker daai eerste strepie is op die blad waar die bruin merkie stop.”
“Ok pa”
Tweede skoot klap en hy is weer onder deur.
Lourens besluit hy gaan nader ry tot by die hek. Die een bok het besluit die beweging is te veel vir hom en die ander een gaan staan mooi dwars voor ons.
Frans kom leen oor Lian se skouer, “ok, wees nou rustig, haal diep asem en dan skiet jy hom. Jy kan.”
“200m”, word die afstand deur gegee deur Joshua.
Skoot klap en die bok is plat. Die opwinding op die bakkie is aansteeklik en almal gee die knaap ʼn druk. Dit was voorwaar ʼn span poging, en wat ʼn ongelooflike voorreg om saam met hierdie manne wat so rustig en weet wanneer wie moet praat dat dit nie ʼn info overload vir die jong man is nie.
Lian se glimlag toe hy by sy bok kom is iets wat ek vir altyd sal onthou. Natuurlik het hy sy broer in kennis gestel dat hy sy bok op 200m geskiet het en syne was op 100m. Ek het een keer na Jean gekyk en hy het geweet. Dit is sy broer se tyd om te shine so gun hom dit.
Frans besluit, terwyl daar geleer word, moet die jong man geleer word hoe om pense reg te trek.
Met die dat die knaap sy bok gekry het, is al die druk nou iets van die verlede en ʼn paar kouer biere word geniet onder ʼn nabye windpomp.
Terug by die plaas word die kennisoordrag verder gevoer en die knape word gewys hoe hy verder skoon gemaak word.
Koos bederf ons later die middag en gaan wys ons sy een silinder enjin wat jare terug krag by die Cango Grotte opgeweg het. Dit is iets om te beleef, en ʼn kundigheid wat ek oop eendag oorgedra kan word aan sy na geslag.
Na ʼn laaste draai deur die veld, keer is ons terug plaashuis toe en die vuur kry weer lewe.
Lian het ʼn huppel in sy stap en so af en toe as sy broer om afknou dan word hy net herinner hoever hy sy bok geskiet het. Jean natuurlik kap trip, met hoeveel patrone gebruik word.
Jacques, soos altyd, is doenig met ʼn nuwe pot en so af en toe word daar op ʼn papiertjie gekyk na vroulief se instruksies. Daai aand het ons, onsself amper dood geëet, maar ons het nie eers ʼn duik aan daai pot gemaak nie.
Manne dit was weereens ʼn voorreg om saam met jul te reis en volgende jaar maak ons definitief weer so. Die keer kom die .243 in sirkulasie en dan beweeg Jean saam met Frans terwyl ek en Lian saam sit.
Aan Koos & sy broer John, wil ons net voorwaarlik BAIE DANKIE sê vir jul gasvryheid en die beskikbaarheid van jul ongelooflike mooi jag huis. Ons sal definitief weer kom kuier.
Aan my twee seuns, Jean & Lian: Manne ek dink jul het geleer dat voorsit in die veld, anders is as om van bakkies te skiet. Daar moet geduld aan die order van die dag wees en saggies kommunikeer word. Volgende jaar gaan ons bietjie langer in die veld spandeer, maar ek is baie trots op julle. Jul is besig om voorwaar oulike jong manne te word.
Kliek hier vir paar kiekies van hierdie kookwater jag naweek.
Lees gerus nog so paar jag verhale:
- 2022 – Jag by Knoffelfontein
- 2020 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Thali-Thali
- 2017 – Jag by Mullersvlei
[…] 2023 – Jag by Waterfloof […]
[…] 2023 – Jag by Waterkloof Plaas […]
[…] 2023 – Jag by Waterkloof Plaas […]
[…] 2023 – Jag by Waterkloof Plaas […]
[…] 2023 – Jag by Waterfloof Plaas […]
Weereens puik geskryf. Voel of ons saam in die veld is.
Dit was ‘n lekker naweek.
Altyd ‘n voorreg om saam met julle te kuier/reis ou maat.
[…] 2023 – Jag by Waterkloof Plaas […]