Met die dat ek uiteindelik my eie geweer (.270 Ruger) bekom het, was die skrif op die muur dat daar gejag gaan word die jaar. Paul het ook sy hande op ʼn 1942 .303 Lee Enfield gekry en die was self lus om bietjie lood te gooi.
Paul se neef, Dirk van Rooyen, boer saam met sy pa, oom Andre, tussen Calvinia & Williston op die plaas Mullersvlei. Die noem vir Paul dat daar is ʼn geleentheid is om Kudo’s te kom jag en dat ons dit sommer ʼn familie naweek moet maak met die vrouens en kinders wat ook saam plaas toe moet kom.
Donderdagmiddag na werk trek die 80Series sy neus by die hek uit en ons klim op die R44. By Hermon draai ons links en dan weer regs by Riebeek Kasteel. Van daar is dit deur Moorreesburg tot by Piketberg waar ons die aand by Paul se ma sou kuier.
Vrydagoggend en ons is sommer vroeg aan die beweeg. So paar km voor Calvinia word ontbyt langs die pad geniet voor ons die laaste paar km aanpak Mullersvlei toe.
By Mullersvlei aangekom en almal word gegroet. Dit was nie lank of die manne was op die skietbaan om seker te maak die roere is reg vir moreoggend se jag. Beide Jean & Marli het ook agter die .270 in geskuif om so paar lood pille te gooi.
Dirk stel ons in kennis dat hulle ongelukkig nie ʼn permit vir die Kudo’s bekom het nie, maar dat ons wel Springbokke gaan jag die volgende oggend.
Beide aande gaan daar groot gebraai word so kort voor lank is almal op die bakkie om genoeg hout vir die twee aande in die veld te gaan haal. Met die terugkom sien Louw sy broer, Dirk, en Flip is op pad vliegtuig hanger toe. Daar aan gekom maak die manne reg om die papier-vlieg-bos-masjien in die lig te kry. Die naap wil ʼn vinnige recce gaan vlieg om te kyk in watse kampe die Springbokke loop sodat ons weet waar om more te begin.
Of dit ʼn regte vliegtuig is weet ek nie, persoonlik lyk dit soos iets wat Dirk van ʼn tydskrif prentjie gebou het, maar die ding kan glo vlieg. Ou Louw en Flip staan maar eenkant en kyk die verte in toe hy vra wie saam wil gaan vlieg. Dit is verstaande dat die knape effe senuweeagtig is as jy gesien het hoe ou Dirk met sy Ford bakkie deur een van die plaashekke gedrift het. Ek sê met “soort van” selfvertroue ek sal saam met hom vlieg en onmiddellik weet ek ek het myself hier in ʼn ding gekry.
Die kajuit is maar knap en as ons grond toe gaan sal die donder (dus nou Dirk) my seker dood val as ek nie klaar my gat met die val gesien het nie. Maar ja dit lyk darem of al die nodige goed daar is om die papier-bos-vliegtuig die lig op te kry.
Terwyl ons vir die olie temperatuur wag om te styg wonder ek hoe Dirk gaan opstyg want ek kan NIKS voor my sien as gevolg van die son nie so hoe gaan hy die oop pad (aanloop baan) voor ons sien.
ʼn Paar gevleuelde woorde word in Engels vir iemand oor die radio gesê en dan is ons weg.
Steeds kan ek niks sien nie en ek kry die spesmaas gevoel ons gaan sommer hier op die grond teen ʼn Karoo bos vas donder ter aanskoue van almal by die hanger…lekker Jonker, jy wou mos saam vlieg.
Die gedagte dat ons binnekort ʼn paar Karoo bossies gaan skoon val was nog vars toe ons skielik die lig in skiet.
Nie lank gevat voor ons die eerste Springbokke gekry het nie. Moet bieg ek was verbaas wat ou Dirk met daai vliegtuig kon doen. As ons nie onder die krag drade gaan nie, dan gaan ons ʼn halwe meter oor sy ouers se plaashuis.
Vrydagaand en roosters vleis kom en gaan oor die vuur terwyl daar gesellig verkeer word om die vuur.
Saterdagoggend 07h00 en oom Andre se Toyota bakkie begin lewe kry. Die wêreld is koud, maar die opwinding is hoog soos ons op die bakkie klim.
- Dirk
- Dirk (manne het hom sommer Klein Dirk genoem)
- Louw
- Paul
- Flip
- Ek & Jean
By die 1st kamp kry ons almal tweerigting radio’s by Dirk voor ons die veld in skiet…
ʼn Oom het nou die dag by ‘n manne geleentheid ʼn baie belangrike stelling gemaak deurdat jag ʼn wonderlike voorreg en kultuur is en iets wat oorgedra moet word aan ons kinders.
ʼn Dag in die Karoo veld saam met my oudste, Jean, was ʼn onvergeetlike ondervinding. Dit was sy eerste blootstelling tot hierdie ongelooflik kultuur en iets wat ek graag met albei my seuns wil voort bou oor die jare.
Om die opwinding in sy gesiggie te sien toe ek die eerste bok plat trek asook hoe hy die ander kant van jag, dood, ervaar het was priceless. Toe Louw die einste bok later in die veld skoon maak, sodat ek hom kan uitdra bakkie toe, kon ek sien dit was ʼn “eye-opener” vir hom. Maar later die middag toe daar nog bokke val was daai iets van die verlede en het hy sy kant gebring in die veld met die skoonmaak.
Die Springbokke vs Franse toets was reeds besig met die tweede helfte toe ons die laaste bokke op die bakkie laai en terugkeer plaashuis toe.
Alhoewel ons nie ʼn geleentheid gehad het om die groot knape, Kudo’s, te jag nie , was dit nog steeds ʼn wonderlike ervaring saam met die manne in die veld. Om alles te groot het die Bokke die Franse ʼn goeie pakslae gegee so dit alleen is ʼn groot rede om ʼn groot kuier aan te pak die Saterdagaand.
Sondagoggend na ontbyt word die bokke gou geweeg voor ons pak en in die pad val.
Groot dankie aan oom Andre en tannie Van Rooyen vir julle gasvryheid en natuurlik ook vir ou Dirk vir die nooi. Tot ʼn volgende keer.
Kliek hier vir so paar kiekies van die naweek.
Lees gerus nog so paar jag verhale:
- 2023 – Jag by Waterkloof Plaas
- 2022 – Jag by Knoffelfontein
- 2020 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Thali-Thali
[…] 2017 – Jag by Mullersvlei […]
[…] 2017 – Jag by Mullersvlei […]
[…] 2017 – Jag by Mullersvlei […]
[…] 2017 – Jag by Mullersvlei […]
[…] 2017 – Jag by Mullersvlei […]