Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Jean skiet sy 1st bok op sy 8st verjaarsdag

Jag

7 April 2018 is ‘n datum wat ek en Marli nie gou sal vergeet nie. Dit is darem die datum toe ons groot seun, Jean, sy 1st Springbok op sy 8st verjaarsdag plat getrek het.

Dit was nie net vir skiet gou ʼn bok nie…nee glad nie. Inteendeel die knaap het al van kleins af, as ek met die windbuks in die agterplaas doenig is, belangstelling getoon.

Toe hy groter was het hy bietjie met Paul se .22 geskiet en toe een Saterdagmiddag toe laat ons hom agter die .270 lê. Daarna moes hy sy tyd & patrone agter die .270 Ruger in gesit het, en het paar Sondae oggende wakker geword met ʼn blou skouer, maar nooit gekla daaroor nie.

Knapie het al van vroeg begin oefen

Ons besluit om die knaap vir sy 1st bok na Thali-Thali naby Langebaan te neem. Met die dat dit die knapie se verjaarsdag ook is, gaan ons sommer ʼn hele familie ding daarvan maak en hom ondersteun. Dit is mos nonsens dat net pa saam veld toe gaan.

Vrydag na werk en ons val in die pad via Malmesbury -> Hopefield. By Thal-Thali aangekom gaan ons gou saam met Charlie (gids) veld toe dat Jean so 2 skote op die ghong kan skiet op 100m. Die man wil darem net eers sien of die knapie darem kan skiet voor hy met hom die veld in gaan moreoggend.

Jean is gemaklik en sonder huiwer laat hy die ghong twee keer swaai. Die opwinding is daar en die mannetjie wil sommer onmiddellik veld toe gaan. Ek op die ander kant is maar senuweeagtig, want skiet op ʼn ghong en skiet op ʼn bok is effe anders.

Dit gesê spoor ek en ma hom die aand aan dat hy net dit moet geniet en nie te haastig hoef te wees nie.

Jean skiet sy 1st bok by Thali-Thali op sy 8st verjaarsdag

Terwyl ons vuurtjie lekker knetter in ons chalet word ons verras deur ʼn paar Takbokke wat sommer tot by ons deur kom om hallo te sê. Natuurlik was hierdie nou ʼn groot treffer onder die seuns. Soos ʼn ouer nou maar is begin ek wonder of Jean besef dat môre hy een van die bokke se vrinne gaan plat trek en hoe ʼn klein mannetjie soos hy daarop gaan reageer?

Jean skiet sy 1st bok by Thali-Thali op sy 8st verjaarsdag

Saterdagoggend en ons is sommer vroeg uit die kooi. ʼn Verjaarsdag koek, wat die vorige aand weg gesteek is, kom te voorskyn uit ʼn kas en die word dan singend (dit is nou ek, ma & Lian natuurlik) voor Jean neer gesit. Mannetjie word sommer met ʼn groot glimlag wakker en die kersies was skaars af toe takel hy en boeta die koek.

Natuurlik moet ʼn man darem ʼn geskenk of twee ook op sy verjaarsdag kry. Met die dat Charlie ons net na 7am sou kry, was daar nie lank tyd om te oe-en-te-aah oor die geskenk nie.

Marli sit voor saam met Charli en ek en die twee seuns agterop die bakkie. Die oggend briesie sny deur die baadjies, maar niemand sê hulle kry koud nie. Ek besluit om niks te noem van die jag of skiet nie. Dink die knapie se gedagtes is seker reeds besig om daaroor te dink. Nie nodig dat sy pa nog goed in sy ore blaker nie.

Jean skiet sy 1st bok by Thali-Thali op sy 8st verjaarsdag

By die buurman se plaas aangekom, word daar gou blad geskud voor ons die kamp in gaan.

Die Springbokke is volop, maar is katvoet vir die Cruiser. Charlie gaan die trop deur met die verkyker tot hy ʼn rammetjie kry waarvan hy hou.

So teen hierdie tyd is pa (ekke nou) se senuwees natuurlik heeltemal op hol, maar ek probeer dit nie wys nie. Charlie doen die praat werk en ek maak net seker Jean is kort op sy hakke.

Die uitgekieste rammetjie daag heeltyd die ander rammetjies uit en kort-kort word daar koppe gestamp. Marli is by Lian op die Cruiser en hou ons van ʼn rigting dop. As die ram gaan staan probeer ons ʼn gaping tussen die bossies kry dat die knaap kan lê en aanlê, maar soos jag mos nou maar is as hy net gaan lê dan beweeg die bok weer aan.

Jean lyk baie rustig en ek kan sien hy begin eintlik opgewonde raak oor hierdie kat & muis speletjie wat ons nou met die bok speel. Die ram sirkel om in die kamp en beweeg in die oop vlaktes in. Teen die tyd was ons weer terug op die Cruiser en het hom deur die veld gevolg. Toe hy die vlaktes in beweeg, toe weet ek dit is sulke tyd.

Charlie is onmiddellik uit en dit was nie nodig om vir ons te roep nie, want toe was ons al langs hom. Ek en Jean kry stelling op die stand en ek maak seker daar is twee patrone in die geweer.

Jean skiet sy 1st bok by Thali-Thali op sy 8st verjaarsdag

“Ok Jean daai bok is op 118m, so as jy hom het in jou scope kan jy maar gooi”, sê Charlie met ʼn ferm, maar aanmoedigende stem.

Ek span die geweer, “Jy is lewendig Jean!”

Onmiddellik vat hy raak en kry sy posisie in soos ons altyd op die skietbaan geoefen het. Hy lyk verbasend rustig en voor ek nog ʼn laaste wysheid kan gee…

“Het hom pa, zoom asb”.

Ek draai die scope se vergroting tot sy maksimum en…

“Ek gaan hom neer sit pa – 3, 2, 1”, en die res is geskiedenis soos hulle sê.

Die bok val en die opwinding is groot. Ma & Lian juig van agter op die Crusier. Jean vlieg op en high-5’s word uit gedeel. Ek en Charlie kyk vir mekaar en ek dink daar was ʼn gemeenskaplike verligting tussen ons beide.

ʼn Groot oomblik vir ma & pa, maar meer vir Jean wat nou amptelik deel is van ʼn ongelooflike kultuur. Ouma & oupa word onmiddellik geskakel en die opwinding kan oor die foon gehoor word. Selfs ou Lian kyk met bewondering na sy broer en gee hom ʼn high-5.

Terug by die chalet en ons is net betyds vir ontbyt. Die opwinding loop nog hoog en die hele avontuur word in detail oor en oor vertel van almal aan tafel. Selfs ou Lian het sy eie weergawe van hoe sy broer die bok plat getrek het.

Jean skiet sy 1st bok by Thali-Thali op sy 8st verjaarsdag

As ʼn man sy 1st bok plat trek, dan kan hy seker ook sy 1st jag mes kry.

So net na middagete is ons weer terug in die kar Langebaan se rigting toe. Vriende van ons, Lourens & Mariette Hugo is by Posberg Reservaat met vakansie en ons wou graag gaan hallo se. Met die dat die pad deur die reservaat so lank neem, het Lourens aangebieg hy kom haal ons sommer met die boot, wat die seuns natuurlik BAIE geniet het.

Ou Lourens het met sy eie planne gekom en toe ons naby die reservaat kom, word daar skielik anker gegooi en ʼn emmer aas kom te voorskyn. Visstokke word skielik reg gemaak en elke kind kry een in die hand.

Die seuns is in 2de hemel, want skaars raak die aas die water en die visse (Stompneuse) byt. Soos daar gevang word, word daar terug gegooi. Later word ʼn paar in ʼn emmer gegooi wat hulle verskyning op die rooster sou maak.

Die uitsig van Posberg Reservaat oor die Langebaan lagoon is prentjie mooi.

Laatmiddag na ʼn onbeplande visbraaitjie (Elf’s en Masbankers) is ons weer in die boot terug Yacht Club toe.

Kuier bietjie by Lourens & Mariette by Posberg op Langebaan

ʼn Dag met soveel opwinding word rustig by ons chalet afgesluit met ʼn stuk verjaarsdagkoek, koffie en baie geselsies oor die dag se avonture.

Sondag toe ons terug ry en die seuns rustig slaap noem ek vir Marli dat dit amper voel of dit ons almal se verjaarsdag die naweek was.

Kliek hier vir so paar foto’s van hierdie ongelooflike naweek.

Lees gerus nog so paar jag verhale:

Related Posts

Comments (10)

Weereens puik geskryf. Voel mos sommer of mens self daar agter die visier lê….

Sjoe Jy het maar net ‘n slag met woorde! Dankie dat ons ook deel kon wees van Jean se groot dag, wat ek glo vir altyd in sy herrinneringe gegraveer is!!!

Dit was sommer nou so lekker onbeplan Mariëtte, maar die seuns (en ons natuurlik ook) het dit nou tonne geniet. Baie dankie!

Mooi gedoen Jongman!

Die Charlie waarvan jy praat hier, is dit Charles Hamman ? Dadelik nou aan jou storie gedink toe ons die nuus kry van Charles.

[…] wonderlike familie kuiertjie daar beleef waar Jean (ons oudste) ook die geleentheid gehad het om sy 1st bok (Springbok) te skiet op sy 8st verjaarsdag by een van die buur […]

Leave a comment