Scroll Top
19th Ave New York, NY 95822, USA

Pa & kind jag by Knoffelfontein

manne_02

Met die skrywe van die artikel, moet ek bieg – my lyf voel of ʼn Bedford lorrie hom getrap het. Net weereens besef ek dat, SOMS, is jag voorwaarlik nie sag op die lyfie nie, haha.

Dit gesê, was ons bevoorreg om weereens ʼn suksesvolle Pa & Kind jag by Klaas & Bert Viljoen van Knoffelfontein te kon beleef. Hierdie sou ook my & Lian se tweede besoek in die Wes-Vrystaat (Luckhoff) wees en Jean se eerste (rugby besering die 1ste jaar en kon toe nie saam jag nie).

Ons was weereens ʼn fris span pa’s en kinders gewees en dit was lekker om saam met ʼn paar nuwe gesigte om die vuur te kuier: Nicol & sy dogter, Isabella & Piggie en sy knaap, Luka.

Ongelukkig kan ek nie namens die ander manne skryf oor hul belewenis in die veld en jag stories saam met hul kinders skryf nie, maar ek het ʼn paar notas wat ek graag eendag wil onthou:

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Lian kwes ʼn vlakvark in die hardloop op +/-300m. Klaas (boer van die plaas) bevestig die skoot was raak en dui aan in watse rigting ons te voet moet beweeg, terwyl hy en Nicol ʼn ander pad gaan kry na die spesifieke kamp.

Ons kry skielik bloed in die gras en ons weet ons is nou op sy spoor. Skielik verloor ons die spoor by ʼn groot vlei met riete. Daar word gesoek, maar ons ou stadsogies sien niks raak nie. Intussen het Klaas en Nicol by ons uitgekom en dit vat Klaas nie lank om die spoor weer te kry van die gekweste vlakvark nie. Dit lei reguit in die vlei met riete, wat nie ideaal is as jy ʼn vlakvark soek nie – veral een wat dalk moerig is omdat hy gekwes is.

Voor ons die riete in beweeg maak Klaas dit baie duidelik dat ons moet reg wees met die wapens, want as die ding gaan kom, is daar nie tyd vir twee gesprekke nie – dit moet ʼn een dimensionele gesprek wees met ons wat die gesprek lei, bedoelende ons moet hom plat trek voor hy vir ons gaffel.

Later bevind ons onsself in die middel van die riete en ek kan aan Klaas se gesig sien hierdie is nie ʼn ideale situasie nie. Ek vat Lian en Luka terug bakkie toe; dis beter vir hulle op die bakkie as in die vlei.

Dit is moeilik om in woorde te sit, maar ek het nog nooit so ervaring in die jagveld gehad nie, en na seker ʼn uur of wat van die spoor volg (dit het wel soos ʼn oogwink gevoel) is Klaas kort op sy spoor in die riete en na ʼn paar “close calls” skakel Klaas die varkie se ligte finaal af, seker so ʼn enkele meter voor hom. Lian se reaksie was onvergeetlik om te aanskou, toe hulle uiteindelik weer by ons aansluit, om sy vlakvark te sien.

Ek dink baie manne sou net sê, “Jammer ou maat, maar ons gaan nie ʼn gekweste vlakvark in riete soek nie”. Maar Klaas het een jong knapie se jag gemaak deur soveel moeite in te sit en as jy my sou vra wat is die kanse dat jy daai vlakvark daar sou kry, sou ek gesê het 0%, maar sy kundigheid en deursettingsvermoë was net ongelooflik. Groot dankie aan my kamermaat, Piggie, vir sy geduld en bereidwilligheid om te help soek.

BAIE DANKIE KLAAS VILJOEN!

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Fast forward” na die volgende middag en ons is weer op die bakkie, die keer saam met Bert opsoek na sy gemsbokke. Toe ek hierdie trop gemsbokke van Bert/Klaas so twee jaar gelede gesien het, het ek onmiddellik geweet dit is waar ek graag die geleentheid wou bied vir Jean om een van die ongelooflike bokke te skiet. By die laaste hek verduidelik Bert mooi hoe ons die geleentheid gaan aanpak.

Langs Jean sit Rechtus met sy 30-06 wat gaan help met die afstande. Omdat Rechtus so ʼn lekker ou is, gee hy Jean die geleentheid om eerste te skiet en ek wil net BAIE DANKIE sê vir daai gebaar as jy hierdie ooit lees, Rechtus!

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Ek, Zack en AJ staan agter die twee. Op so +/- 180m stop Bert die Cruiser en die manne scan deur die trop. Ek voel angstig, maar wil dit nie wys nie. Manne praat van opsies links van die trop en Jean noem #4 van links is die een wat vir hom uitstaan. Bert bevestig dit is ʼn mooi koei en as die geleentheid daar is, kan hy stoot.

Skielik is daar ʼn ongemaklike stilte op die bakkie en ek vergeet vir ʼn oomblik, wat soos ure gevoel het, van Zack & AJ langs my. My genade, ek is nie eers op die geweer nie en dit voel of bokkoors my oorval!

“208 meter, Jean” breek Rechtus se kalm stem die stilte.

Ek hoor hoe word die .270 se slot saggies af gedruk. Nou is ek net ʼn bystander en daar is niks wat ek vir my seun kan doen of sê nie. Dat hy kan skiet, dit weet ek, maar ek voel skielik hulpeloos. Die sekondes voel soos minute en dan klap die skoot…

Die gemsbok spring die lig op, maar val nie. Dit voel of die wêreld vir ʼn paar oomblikke stil staan.

“Hy is raak, maar effens laag. Reload Jean en stamp hom weer!”, kom Bert se instruksie kalm en duidelik deur.

Tweede skoot val en die gemsbok sak neer. Vir ʼn oomblik oorval emosies my en ek vee die “stof” uit my oë… (Daar is baie stof op so ‘n jagtog, Henry, ons verstaan… – Redakteur) Daar is groot opwinding op die Cruiser en ʼn oomblik wat ek as pa nie gou sal vergeet nie.

Jean draai om en sy glimlag sê alles. Ek gee hom ʼn groot drukkie en al die manne gee high five’s.

“Baie dankie pa!” – sjoe, 3 woorde wat so baie beteken!

Die horings word gemeet en Bert se meetband stop PRESIES op 40 – voorwaarlik ʼn ROWLAND trofee! Welgedaan seun!

Na ons die bok skoon gemaak het, en reg kry vir laai verduidelik Bert vir die jong seuns hoe dankbaar hulle moet wees. Nie rakende die geleentheid om te skiet nie, maar oor hierdie ongelooflike mooi dier wat hier voor ons lê. Hy praat sag en ek kan aanvoel hoe baie hy vir sy gemsbokke omgee as boer. Dit is nie net nog ʼn springbok of vlakvark nie – in my opinie is daar nie ʼn mooier bok as ʼn gemsbok nie.

BAIE DANKIE BERT VILJOEN!

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Met ons laaste geleentheid om nog iets plat te trek, besluit ek en Lian die vlakvark koors het hom hard beet, en ek wil graag kyk of ons nie nog een of twee kan plat trek nie. Die keer word daar nie van ʼn bakkie af geskiet nie, maar ek en die knaap gaan “walk & stalk”. Bert gee die laaste aanwysings waar hy voorstel ons moet stap en daar gaan ons twee. Lian dra die skietstok en ek die geweer.

Ons albei weet hierdie gaan vinnig wees en daar gaan nie ʼn geleentheid wees waar ons die vlakvarke in die afstand gaan gewaar nie. Die ding gaan hier naby ons uitspring en dan moet Lian die skietstok opstel terwyl ek die geweer regkry op die stok en dan moet hy lood in die lug kry.

Ons oefen so paar keer en dan is ons aan die beweeg. Ek maak seker daar is 4 patrone gelaai. Slot is op veilig, so al wat Lian moet doen sodra hy die wapen by my neem, wat dan reeds op die skietstok rus, is om die slot af te druk en dan kan hy gooi.

So ‘n uur gaan verby en Lian stel voor ons beweeg deur die vlei en stap dan parallel aan die ander kant van die vlei. Ons sien hier ʼn netwerk van paadjies en Lian gee my daai glimlag dat alle hel nou gaan los breek binnekort.

Skielik bars 2 vlakvarke so +/- 10 meter links voor ons uit die riete en pak ʼn toon op ons 12uur. Ek en Lian is soos een beweging met die skietstok en geweer en nog voor ek afstand kan gee, klap die eerste skoot.

“Net links Lian! Stamp hom weer!”

ʼn Doppie vlieg voor my verby soos die knaap herlaai en die tweede skoot klap, maar beide vlakvarke is weg in die lang gras. Ons fynkam die area met die hoop dat die tweede skoot dalk raak was, maar kry geen bloedspoor of vlakvark nie.

Skielik is daar ʼn huppel in ons stap en die jong man kan nie ophou praat van opgewondenheid nie. Ons voeter weer deur die vlei en besluit om aan die ander kant verder te verken. ‘n Paar min later en twee vlakvarke begin weer hardloop so op ons 9uur. Soos die vorige keer is ons soos een man. Die vlakvarke bly hardloop, maar vir eens het die jongman GELUISTER wat grootmense vir hom sê, en ek onthou Bert se woorde toe hy ons af gelaai het, “As die vlakvark hardloop hou jou visier op hom, want hy gaan vir ʼn oomblik stilstaan en dan stamp jy hom.”

En dit is PRESIES soos Bert verduidelik het. Vlakvark bly hardloop en toe gaan staan hy vir ʼn oomblik. Die vlakvark se stop, en skoot was soos een.

“JAAAAAAAAAAA MAN!”, skreeu ek van opwinding. Die jongman was so geduldig die heeltyd en wat ʼn voorreg om sy geduld en harde werk te beloon met nog ʼn vlakvark. My horlosie wys 4.2km wat ons reeds gestap het. Daar is nie sein op my foon nie, dus kan ek Bert nie bel nie, so ek stel voor ons maak die knaap skoon en pak ʼn toon in ʼn Westelike rigting waar die naaste grondpad is.

Ek vat die voorpote en Lian die agterpote en ons begin stap. Die knaap is oorval van blydskap en die storie word oor en oor vertel. Voor ons begin stap sê die knaap vir my, “Pa moet die geweer reg kry, want ek belowe pa hier gaan weer vlakvarke uitspring dan moet pa die keer gooi”.

Ek dog, wat is die kans dat daar nog vlakvarke gaan uitspring en as daar een uitspring, wie gaan die tweede vlakvark dra? En nes die klein wetter voorspel het, gebeur dit toe: drie groot vlakvarke spring op ons 11uur op en soos ek wil herlaai besef ek, ek het die wapen veilig gemaak toe ons begin stap het.

Ek kry “daai kyk” van Lian en ek weet dit is maar die tyd om net stil te bly, haha.

Toe ons uiteindelik die grondpad kry, wys my horlosie 6.09km – daai knaap het help dra aan daai vlakvarkie vir bietjie meer as 1,7km deur die veld en nie een keer was daar gekla nie. So nou worstel ek met die HOEKOM & WAAROM daar amper moord gepleeg moet word om te leer vir eksamens!?!?

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Terug by ons akkommodasie, Eco Karoo Lodge, en daar is nie tyd vir hanna-hanna nie. Met die dat ons hierdie jaar ʼn dag langer bly, het Mauritz dit goedgedink dat ons die laaste middag ʼn lekker kuier/braai in een van die rivierlope geniet en my mens, wat ʼn lekker kuier was dit nou nie vir jou nie!

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Laatmiddag en die span word nader getrek om te draai. Terug by die lodge is die alombekende 2024 Jag Extravaganza HOF, wat uiters gewild is onder die kinders, gelei deur die edelagbare H&N’s aka Johnny, soos sy moeder hom ken.

My mens, ek het lanklaas ʼn klomp pa’s en kinders so sien lag. Die edelagbare H&N’s en sy hofknapie (Klaas) was fenomenaal.

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Manne & dames, dit was voorwaar ʼn lekker jag gewees en dankie aan jonk en oud wat bydrae gelewer het.

Aan beide die twee Viljoen-manne en hul jongspanne, baie dankie dat ons by jul kon kom kuier het en bietjie van jul wêreld te kon beleef het.

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Dan laastens, aan my twee seuns, Jean en Lian: ek weet dit voel soms of pa net moerig met julle is, en dat ek nie grys areas ken nie, maar dit is hoe ek aanmekaar gesit is, en dit gaan ongelukkig nie verander nie, so staan sterk en bly julle ou pa op sy tone hou, asseblief. Ek hoop ek sê dit genoeg vir jul twee manne, maar ek is regtig trots op die seuns (julle is nog so paar pakslae weg van jong manne wees) wat jul ontwikkel en ek is mal daaroor hoe jul soms op die Kaplyn beweeg en ons bly toets, maar soos ek altyd sê as jy oor die lyn trap en die klappe dreun moet dit nie ʼn verrassing wees nie (Lian, haha). Baie lief vir julle.

Kliek hier vir ʼn paar foto’s van ons jag by Knoffelfontein.

Father & child Hunting Extravaganza 2024 @ Knoffelfontein

Lees gerus nog so paar jag verhale:

Leave a comment