
Party mense mag dalk hul wenkbroue so effens op trek en party mag selfs die koppie vol “ek is so verdomp heilig” uit hul hande laat val as ek die volgende stelling maak.
Ek was en is nog nooit iemand wat van die “mainstream” avonture of wegbreeknaweke hou nie. Het geen behoefte om Parys se torinkie, Italië se Instagram kus dorpies, Mauritius se oorde, Stilbaai/Hartenbos … bla bla en bla en al die ander “mainstream” kommersiële plekke te gaan ondervind of verken nie.
Ek probeer maar altyd my oor teen die grond hou vir plekkies wat afgeleë of nie maklik bereikbaar is vir die normale toeris nie. Sodra ons die skool se jaarbeplanning kry, begin ek kyk na potensiëel beskikbare naweke, langnaweek en natuurlik die skoolvakansies en dan is dit ʼn eenvoudig formule van bekostigbaarheid en, natuurlik, beskikbaarheid en dan kom dit in die kalender.
Dit laat my dink aan een van Walt Disney se bekende aanhalings: “Die beste manier om te begin is om op te hou praat en te begin doen.”
Ja, ons land het baie (soms unieke) probleme en ja alles werk nie altyd soos dit moet nie, maar glo my dit is nie altyd groener aan die ander kant nie. Met ʼn bietjie moeite en beplanning kan jy baie juwele in ons mooie Afrika ontdek en ek en die seuns was bevoorreg om so ʼn plekkie te ontdek so twee naweke gelede (via vriende en dit help as jy die eienaars ook ken😊) – Matroosbergstasie se Transkaroo kampplek.
Matroosbergstasie is so ongeveer 30km van De Doorns op die R318 (ook bekend as die Koo pad). Met ons eerste besoek ongeveer ‘n jaar gelede was ek verbaas hoeveel huisies/geboue daar was en ek kon my net indink hoe besig en dalk selfs gewild, hierdie stasie was toe die ou Spoorweg nog bestaan het.
Van die huisies is gerestoureer vir naweek akkommodasie terwyl die ou kroeg en ʼn mini film teater beskikbaar is tydens sekere geleenthede. Vir die manne wat hou van skiet en om lood ver te gooi is daar ook twee skietbane beskikbaar, maar dit is slegs vir lede.
Maar ons is nie hier vir koekies bak en handjies vashou nie. Die eienaars, Estian en Elzanne, het ons genooi om hul splinter/nat nuwe bos kamp, Transkaroo, te kom toets en bietjie insae te lewer van hoe en wat hulle kan verander.
Blad word geskud en Estian vat ons gou deur na die plekkie. Soos ons die vallei afsak hoor ek net die seuns: “WOW, geeze pa daar is ook ʼn waterval!!”.
Die waterval vloei nie altyd deur die jaar nie, maar ons tydsberekening was absoluut perfek. Aan die een kant het jy hierdie bittermooi waterval en swemgat en dan, seker minder as 100 meter verder, is twee Populierbome waar die kamp geleë is.
Die area onder die bome is lekker oop en ek glo 3 tot 5 gesinne kan gemaklik daar uitspan, afhangende natuurlik van die groottes van tente en al daai nonsens.
ʼn Onderdak kombuis met al die basiese benodighede (gasstoof en -yskas) maak dinge baie gerieflik as jy nie lus is om alles saam te ry nie, en dan natuurlik die hoogtepunt vir die seuns was die buite warm bad.
Laatmiddag toe die misreën effens opgeklaar het, brand die knape se g@tte om Mila (jup, die plekkie is honde vriendelik so jy kan jou 4-poot familielede saam bring) vir ʼn stap te vat en die waterval te gaan verken.
Ek moes met alle mag net keer dat daar nie geswem word nie, want daar is nie ʼn manier dat daai papnat hond in die tent gaan slaap nie en dan ook dat dit woes KOUD is.
Die aand word afgesluit met ʼn intense Rummikub toernooi en ʼn paar tjoppies op die kole.
PS: vir al daai tannies wat seker nou op en af spring omrede ek die nat hond buite in die “storm” laat slaap het. Wees rustig tannie en vat so sluk of twee van daai Rooibos + 2 doppies brannes tee van tannie. Ons het Mila semi droog gekry en die het darem warm (wel sy kon nie vir my sê dat sy koud gekry het nie, want ons 3 het lekker koud gekry) geslaap.
Die volgende dag is daar geen tekens van wolke nie. Ons doen ʼn recce na een van die damme op die plaas en met die terugkom verken ons die ou treinspoor van nader.
Na middagete (hoender sosaties in wraps) begin die manne daai bad stook met hout. Ek het gou besef die manne se afwagting vir die bad om warm te raak gaan nie hou nie, en ek sal ʼn kort termyn plan in werking moet sit.
Swem gaan hul swem, dit is nou maar net ʼn timing ding. Ek maak die steling dat hul nie braaf genoeg is vir die koue swemgat by die waterval nie. Ek wou nog my stelling staaf maar al wat ek sien is hoe die twee en die hond gatskoonmaak waterval toe!
Mila het natuurlik ʼn fees gehad. ‘n Kombinasie van verken, zoomies, slaap, swem, eet, slaap, zoomies op repeat…
Sy het die veld erg geniet, en dit was lekker om te sien hoe sy die water saam met die seuns geniet het.
Die res van die middag het ons 3 manne die warm bad geniet en lekker manne tyd spandeer. Met die dat beide seuns voor (Jean Vrydag) en na (Lian Dinsdag) Paasnaweek verjaar het, was dit lekker dat net ons 3 (plus Mila natuurlik) alleen tyd saam kon kry.
Dit is soms so maklik om net vriende saam te nooi, maar dan spandeer ons nie werklik 1-to-1 tyd nie, want hulle speel met die maats en ons grootmense kuier eenkant. Maar die alleen kamp met die seuns forseer ons al 3 om met mekaar tyd te spandeer.
Jean begin ʼn lekker hoenderpot op die gasstofie en die tweede Rummikub toernooi van die naweek begin.
Later die aand kom verras Estian en Elzaan ons met ʼn vars gebakte brood. Hulle was skaars weg toe kom die botter uit en ons is elk gewapen met ʼn dik sny plaasbrood en dik botter.
Maandagoggend was ons manne vroeg aan die beweeg. Ons moet by die huis kom en begin met die voorbereiding vir Lian se verjaarsdagpartytjie die volgende dag.
Groot dankie aan Estian & Elzaan vir die uitnodiging en dit was voorwaar ʼn voorreg om van die eerste gaste te wees wat by jul nuwe plekkie kom kuier het.
Vir enige navrae besoek hul gerus op Instagram by @Matroosbergstasie. Alternatief, stuur vir my ʼn epos en ek sal hul kontak besonderhede vir jou stuur.
Aan my twee seuns, Jean & Lian: voor ons vertrek het die Saterdag het tannie Elzaan my gebel en genoem dat daar bietjie onweer en ligte reën is by hulle. Weer is maar net een van die aspekte en ek het nog nooit ons naweek planne verander vir dit nie, en ek het die tannie onmiddellik laat weet dit is geen probleem nie. Soos ek die foon neer gesit het, besef pappa dat ek dalk jul opinies moet kry rakende die potentiele onweer wat vir ons wag. Toe ek dit vir julle noem sien ek onmiddellik verwarring op beide jul gesiggies en Lian jy was die eerste wat geantwoord het: “Ek verstaan nie nou die vraag nie pappa. Is dit dan ʼn probleem omrede dit nou reën?”. Jean jy het ‘n kort rukkie daarna ook in geval met: “Weer het ons mos nog nooit gestop nie pa, hoekom sal dit dan nou?!”. En dit, my liewe seuns, is hoekom ek so baie admirasie vir julle twee het. Grootmense sal na moontlike ander opsies kyk, maar kinders se siening is net anders en so eenvoudig.
Kliek hier vir paar kiekies van hierdie onvergeetlike naweek.
Baie smart. Tyd saam kinders is kosbaar.
Lyk na baie nice plek
Ons span gaan definitief nog daar gaan kamp.
Hello, wat is die kostes per nag?
Betaal jy per persoon of vir die staanplek?
Ons is 2 volwassenes, 3 kinders en n hond.