Na MAANDE se wag, is die groot JAG EXTRAVAGANZA hier! Hierdie gaan een vir die boeke wees, maar meer belangrik dit gaan een wees wat 7 jong individue nie gou sal vergeet nie.
Die vrieskaste tuis is leeg en 7 super opgewonde kinders gaan die geleentheid kry om hul eerste bok te skiet.
Woensdagmiddag trek 8 opgewonde pa’s, 7 kinders, 4 voertuie en BAIE gees weg uit Wellington, hard op pad Oos-Vrystaat toe.
As gevolg van die afstand na Luckhof (+/- 850km) is daar besluit om by Retief Joubert se Karoo plaas, Plaatfontein, naby Prince Albert Road oor te slaap en sommer al (of altans probeer) daai “aankoms-angs” uit ons gatte te kry.
Van daar sal ons dan verder Noord beweeg Luckhof toe via Drie Susters, Victoria Wes, Britstown, Strydenburg, Hopetown & Orania. Knoffelfontein is +/- 20 km anderkant Luckhof en ons gasheer/familie is die Viljoen broers (Klaas en Bert).
Ok, so waar om te begin met so ʼn groot jag avontuur en al die stories…
…
Jammer julle, maar ongelukkig is daar daai goue reël – Wat gebeur op ʼn jag, bly op ʼn jag! 😊
Dit gesê, is daar wel twee punte wat ek graag wil aanraak en wat vir my as pa altyd spesiaal sal wees.
Die eerste is natuurlik die oggend toe Lian sy eerste bok platgetrek het. Ek onthou met Jean se eerste bok het die stres my amper opgevreet, maar ek het geweet dat dit iets is wat Jean graag wou doen. Met Lian was dit effe anders. As ons skietbaan toe sou gaan, was hy altyd huiwerig om na 3 skote verder te skiet. Ja, ek weet die .270 byt effens, veral as jy so klein lyfie het soos hy, maar hy het nooit daai wil/lus gewys om sy eerste bok te wil skiet soos Jean nie. Hy was meer geïnteresseerd oor sy eerste jagmes wat hy sou kry as hy sy eerste bok skiet – nes boeta.
Ek het besluit ons kyk maar wat gebeur op die dag en ons vat dit van daar. Maar so dag of twee voor ons in die pad sou val begin die knaap al hoe meer praat oor sy bok wat hy wil en gaan skiet. Donderdagmiddag toe almal ingesettle is vat Klaas ons na hul skietbaan en stop die twee jag bakkies so 100m van die teiken.
Tuis is die knaap gemaklik tot op 200m met ʼn klein gong, maar voor soveel grootmense en maaitjies is dit ʼn ander speletjie. Vra maar vir enige persoon wat al van ʼn vol bakkie mense af geskiet het. Ek besluit om eers bietjie te wag, en van die ander manne kanse te gee. ‘n Paar minute later kom pluk die jong knaap hier aan my baadjie en vra wanneer kan ons skiet, want hy is lus. Ek dog, goeie moer, as jy lus is my maat kom ons gooi lood.
‘n Paar skote op die 100m-merk lyk goed en uit sy eie vra hy of hy ook op die 200m kan skiet – laat loop boeta. Toe die gong op 200m klap weet ek die knaap is reg en lus. Skielik is die byt van die .270 iets van die verlede.
Die groot dag breek aan en dit voel vir my of ek my eerste bok gaan skiet, so angstig is ek. Ek, Dale en die jong knape, Lian en Connor, is op een van die buurplase waar ons gaan voorsit vir Blesbokke. Ons laai vir Dale en Connor af en dan vat Poena, die eienaar van die plaas, ons na waar ons twee sal voorsit op ʼn koppie.
Op pad na ons voorsit posisie, hardloop twee Blesbok ramme so op ons 2 uur op die randjie. Poena vra of ons van die geleentheid wil gebruik maak en of ons maar kans gaan vat van die voorsit posisie. Ek laat weet hom ons kan nie so geleentheid laat verby gaan nie.
Ek kyk vir Lian en laat hom weet dit is sulke tyd so nou moet daar gefokus word. In ʼn kalm en direkte stem sonder enige twyfel of huiwerigheid: “Ek is reg pappa, kom ons doen dit!”.
Goeie donner hoekom is hy so kalm en ek kan skaars die “rangefinder” vas hou van senuwees, wonder ek.
Poena trek die bakkie reg en die volgende minuut of twee het soos ʼn leeftyd gevoel. Poena op die verkyker en ek op die rangefinder bevestig watse een van die twee ons wil plat trek.
Silte
“Watse een pappa?”
“Ok boeta. Sien jy die een heel regs?”
Stilte
“Ja pappa, ek het hom – kan ek maar gooi?”
“Wees rustig boeta. Bok staan op 210m so vat hom op die voorbeen op en sit die eerste strepie onder die kruis op die blad.”
Ek hoor hoe die slot kliek maak soos dit van sy veilige posisie af beweeg.
“Pappa kan ek gooi?”
Ek haal diep asem en dit voel of alles stil staan.
“As jy reg, kan jy gooi boeta.”
My woorde was skaars koud toe klap die skoot. Bok val plat en eerste woorde uit my mond: “BLIKSEM, JY HET HOM BOETA!”
Poena spring uit en daar is groot blydskap op die bakkie en ons twee groot manne omhels die jong man.
Die volgende dag was dit tyd vir die groot bokke, Swartwildebees en Gemsbokke. Met die dat dinge so goed verloop het met die Blesbok het ek besluit ek gaan hom die geleentheid gee op ʼn Swartwildebees. Die wat Gemsbokke wil skiet is op een bakke en die wat Swartwildebees (ek, Dale en ons seuns) op die ander.
Voor ons ry waarsku Klaas ons dat die Swartwildebees baie wild is so ons moet maar kyk wat gebeur. So uur later kry Dale ʼn geleentheid en hy sit een mooi Swartwildebees neer. Bok word gelaai en ek skuif Lian langs my in agter die geweer.
Dit sou ook die laaste keer wees wat die trop so stil gestaan het daai dag. Die paar geleenthede wat ons gekry het om nader as 250m aan hul te kom, wil hul net nie stil staan nie en dan is hul weer aan die hardloop. Na middagete het dinge nie regtig verander nie en toe dit 4pm raak laat weet Klaas dit is ongelukkig nie ons dag vandag nie.
Ek en Dale stem saam dat hulle nie vandag ons weer ʼn kans gaan gee nie en ons moet maar terug huis se kant toe staan. Soos ek afkyk na Lian sien ek die trane oor sy klein wangetjies rol. Die jong man het van vroegoggend tot laatmiddag al die “amper oomblikke” saam met ons manne beleef en niks om daarvoor te wys nie.
“My seun – pa is baie trots op jou. Jy was ʼn champ vandag op die bakkie en ek weet dit was nie maklik nie, maar jy vat wat die veld en die Liewe Vader vir jou gee. Daar gaan baie dae nog in jou lewe wees wat jy dalk leë hande uit die veld gaan kom, maar dit is deel van jag. Vee jou trane af – ek belowe jou ons sal nog vir jou ʼn Swartwildebees eendag kry.”
Gee die jong knaap ʼn druk en druk hom onder my blad soos ons terug ry. Met die terug ry gaan die dag se gebeure deur my gedagtes en alhoewel ek die geleentheid vir hom wou gee is ek eintlik dankbaar dat dit nie gebeur het nie, en dit bring my by die tweede punt en dit is die les wat hy daai dag in die veld geleer het.
Wat ʼn voorreg om saam met jou kind tyd in die veld te spandeer. Hierdie is ʼn jag wat ek vir altyd sal onthou en dit was super spesiaal om deel te wees van al die maaitjies wat hul eerste bok geskiet het. Ek dink elke pa en oom se hart het gebars van trots.
‘n Groot dankie aan Klaas en sy span vir hul professionaliteit én hul warm gasvryheid. Die akkommodasie en fasiliteite by hul lodge, Eco Karoo Lodge, was iets wat nie een van ons gewoond was op ʼn jag nie en dit was top klas.
Dan natuurlik aan Mauritz wat leiding geneem het en alles gereël vir ons. Iemand wat ook baie moeite gedoen het, maar ongelukkig nie kon gaan nie, is Hugo Van Der Merwe wat al die klere/pette/mussies gereël het. En dan natuurlik elke pappa en maaitjie – manne en prinsesse dit was ʼn fees en ʼn voorreg en volgende jaar maak ons weer so.
Laastens aan my oudste seun, Jean – die jong man het sy elmboog die Saterdag voor ons jag op ʼn rugby toer gekraak en ongelukkig was dit die einde van sy jag. Seun ek weet jy wou graag daar wees as boeta sy bok skiet, maar ek kan jou belowe die dag toe ons uit die veld kom nadat hy sy bok geskiet het en ons in die kamer sit en gesels oor wat gebeur het, was sy woorde: “Sjoe pappa, ek wens Jean was hier om dit te gesien het.” Ons het jou gemis seuna, maar daar sal nog baie wees.
Kliek hier vir ʼn paar foto’s en videogrepe van hierdie ongelooflike avontuur.
Lees gerus nog so paar jag verhale:
- 2023 – Jag by Waterkloof Plaas
- 2020 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Mimosa Lodge
- 2018 – Jag by Thali-Thali
- 2017 – Jag by Mullersvlei
[…] 2022 – Jag by Knoffelfontein […]
[…] 2022 – Jag by Knoffelfontein […]
[…] 2022 – Jag by Knoffelfontein […]
[…] Pa & Kind jag by Klaas & Bert Viljoen van Knoffelfontein te kon beleef. Hierdie sou ook my & Lian se tweede besoek in die Oos-Vrystaat (Luckhoff) wees en Jean se eerste (rugby besering die 1ste jaar en kon toe nie […]