Bietjie meer as nege jaar gelede het ek en die langman van Franschhoek, Lourens Hugo, ons eerste reis al langs die Weskus se kuslyn aangepak.
Min het ons geweet dit sou net die punt van die ysberg wees – daarna sou daar nog vele toere, kampe, jagte, visvang en onvergeetlike avonture volg.
In 2021 het ons na Khutse, Botswana, gereis, en wat ‘n belewenis was dit nie! Nou, vyf jaar later, is die jongspan ouer en lus vir nóg ‘n avontuur.
Neem eers ‘n paar minute om hierdie reeks artikels te lees voordat jy saam met ons reis na die plek waar die katte groot tande het, die Kgalagadi Transfrontier Park 😊.
- Verneukpan wind & Putsonderwater se eensaamheid
- Reën & Donderweer by Botsalano.
- Khutse, CKGR & Mokolodi se weerlig storm
Hierdie keer is ons spannetjie ‘n bietjie groter. My suster se seun, Stiaan Steyn, van Gqeberha, en Lourens se dogter, Loumari, spring ook saam op hierdie twee weke lange avontuur.
Ons eerste stop is by die Sutherland Hotel, waar ons vir die kinders die bekende Rooikat Bar gaan wys. Daarna vat ons die pad Fraserburg toe, waar Riaan en Michelle Fourie ons op hul plaas, Tweeriviere, vir die aand ontvang. Ons het hulle ook tydens ons 2021-toer besoek, en hulle is regtig sout-van-die-aarde-mense.
Hulle het vir ons spannetjie die hele uiesaadbedryf gewys en stap vir stap verduidelik hoe alles werk. Ná die toer is ons behoorlik bederf met ‘n egte Karoo-ete – skaapstertjies, tjops, varsgebakte brood… en natuurlik ‘n paar vuil Cokes om alles mooi gebalanseerd te hou. 😊



Die volgende oggend mik ons noord deur die Boesmanland na Molopo Kalahari Lodge. Ek moet eerlik bieg – dié plek is vinnig besig om een van my topvyf-gunsteling oornagplekke te word wanneer ons noordwaarts of weer huis toe reis.
Ons kamp bestaan uit 3 x bow tente vir die 7 van ons. My tent span bestaan uit die twee jong knape, Lian & nefie Stiaan. Beide sport mal en elk met sy eie dit-en-datjies so natuurlik sou daar tydens ons reis so bietjie haak-en-steek oomblikke wees, maar verbeel jou ʼn avontuur waar alles 110% verloop – erg vervelig, nee dankie.
Dag 3 en ons gaan die Kgalagadi Transfrontier Park binne by die Twee Rivieren hek en dan mik ons vir Rooiputs.
Net so ‘n bietjie agtergrond oor die kampe en die roete wat ons sou volg. Die Kgalagadi Transfrontier Park strek oor Suid-Afrika en Botswana. Die Suid-Afrikaanse gedeelte was vroeër as die Gemsbok Nasionale Park bekend voordat die twee parke saamgevoeg is. As jy nie die park verlaat (Weste-kant na Namibië & Ooste-kant na Botswana) het jy nie ʼn paspoort nodig al kamp jy by die Botswana kampe.

Die groot faktor, hoekom ons net op een Suid Afrika kamp besluit het, was die ontmoontlikheid om plek te kry gedurende skool vakansies. Dit is regtig ʼn grap om eerlik te wees.
Die besprekings maak +/- ʼn jaar voor die tyd oop en dan is dit chaos om plek te kry, nie eers gepraat as jy ‘n roete in jou kop het nie.
Ek het toe weer by Lea en Francois van Ultimate Routes gaan aanklop, en gelukkig hanteer hulle al die besprekings vir die Botswana-kampe – wat die hele proses baie makliker gemaak het. Die Botswana-kampe verskil egter heelwat van die Suid-Afrikaanse kampe. Waar die meeste SA-kampe omhein is, is die Botswana-kampe baie meer basies. Dink eerder aan ‘n A-raam, ‘n boom en, as jy gelukkig is, ‘n “long drop”. Dus, perfekte omstandighede!
Nadat kamp op geslaan is en almal rustig is, besluit ons om bietjie Noord te ry en soos die geluk ons daardie middag tref, kry ons drie wyfieleeus naby die Kij Kij-watergat. Op pad terug kamp toe gewaar ons ʼn paar Bruin Hyenas…
Wat ‘n manier om ons eerste dag in die Kgalagadi af te skop! Daardie aand sit ons met ons voete in die Kalahari-sand, ‘n kameeldoringvuur wat rustig knetter, ‘n koue een of twee in die hand en ʼn jongspan wat nog hope energie het.
Hierdie sou ook die begin van ons Kgalagadi Vakansie Kompetisie wees. Kortliks: elke dag word ʼn speletjie gekies. Jy kan gedurende die dag dit oefen/speel, en dan as almal reg is, dan is dit so. ʼn Wen gee jou 6 punte, 2de plek 5 punte en so voorts tot die laaste posisie wat 0 punte kry.
Ons skop kompetisie #1 af met Uno No Mercy wat Jean wen.
Ek sal meer oor hierdie vakansie kompetisie verduidelik asook die finale resultate in die volgende twee artikels, maar my mens, het die ding toe later ʼn lewe van sy eie gekry….hahaha.
Volgende dag verken ons die pad verder van Kij Kij-watergat, Wes en stop vir ontbyt by die museum piekniekplek. Almal kry ry-kans om bakkie te ry en gou besef ek, ek kan hierdie tot my voordeel gebruik as ons dalk weer ʼn kort skermutseling tussen my twee jong here (Lian & Stiaan) het as daar kamp takies is soos bv. skottelgoed was, vuur pak…
Die diere lewe langs beide die Auob & Nossob riviere is ongelooflik volop en ons kry groot troppe Gemsbokke, Swart Wildebeeste, Rooi Hartebeeste, Springbokke & Kameelperde. Dan praat ons nie eers van al die voël lewe nie. Dit los ek vir Josua (Lourens se seun) wat ʼn groot liefde & passie daarvoor het.
Middagete word geniet by Kamqua piekniekplek en dan besluit ons die spannetjie is nou effe gatlam bakkie gery. Op pad terug word ons beloon met ʼn vlakvark wat ʼn Cheetah onder ʼn boom bly tart. Tot die natuur het sy humor tye.
Van Rooiputs reis ons verder Noord tot by Nossob wat ons enigste SA kamp in die park sou wees met badkamer fasiliteite, so natuurlik het almal die lang warm showers geniet. Lourens-hulle se geduld laat middag is beloon toe ʼn leeuwyfie by Marie-se-draai-watergrat rustig verby sy bakkie gestap het.
Die kamp is propvol en orals speel groepies kinders terwyl die ouers om die vure ontspan. Na ete en die amptelike dag se kompetisie wedstryd besluit ons om na die watergat uitkykpunt te gaan, maar dit neem net een minute en ʼn diep-asemhaling toe is die stilte iets van die verlede (Stiaan & Loumari 😊).
Aan my twee seuns, Jean en Lian, en hul nefie Stiaan: Dit het byna 10 jaar geneem, maar wat ‘n voorreg was dit om weer saam met julle die Kgalagadi te beleef. Hierdie keer was julle ouer, en ek hoop julle het die ervaring nog meer geniet en waardeer.
Stiaan, ons is so bly jy kon saamkom. Ek hoop jy sal altyd die hele avontuur onthou – die lang ure in die voertuig, kamp opslaan en afslaan, saam kos maak en skoonmaak, en die laat aande om die kampvuur waar ons gelag het tot ons mae seer was.
En laastens… die winkeltjie by Nossob! Lian en Stiaan, as ek sê geen “goetertjies” nie, beteken dit jy kyk nie eens in daardie rigting nie! 😄 Maar ek moet julle darem 6/10 gee vir die kreatiewe maniere waarop julle probeer het.
In die volgende artikel, reis ons verder Noord en verken Polentswa…
Aan my twee seuns, Jean en Lian: …..
- Dag 1 – Noord Kaap, Fraserburg
CHECK - Dag 2 – Molopo Kalahari Lodge CHECK
- Dag 3 tot 4 – KTP, Rooiputs #1 CHECK
- Dag 5 – KTP, Nossob CHECK
- Dag 6 tot 7 – KTP, Polentswa #2
- Dag 8 – KTP, Matopi #1
- Dag 9 tot 10 – KTP, Monamodi #1
- Dag 11 – KTP, Mpaya #2
- Dag 12 – KTP, Mpaya Reserve
- Dag 13 – KTP, Mosomane
- Dag 14 – Huis toe
Kliek hier vir paar kiekies van ons kuier in die Suide van die Kgalagadi Transfrontier Park.











