Begin nou al soos ʼn tradisie raak om saam met hierdie lekker “mal” groep te kamp elke November. Lees gerus die vorige jare se artikels hier: 2015, 2016 en een vroeer die jaar.
Alhoewel ons mekaar maar min in die jaar sien, is dit altyd een kamp waarna ek baie uit sien. Ek dink wat dit daai edge gee is die feit dat die 7 kinders veral mekaar se geselskap baie geniet. Happy child = happy parent 🙂
Die spannetjie:
- Jonker’s (ek, Marli, Jean & Lian)
- Laas’e (Paul, Marina & Munnik)
- Swart (Anene, Nicholas & Liam)
- Van Tonder’s (Danie, Elizann, Le Roux & Molly)
Danie het met die voorstel gekom dat ons in die Cederberge rigting in skiet en gaan kyk hoe dinge nog lyk by Sanddrif. Laas toe ek daar was, was dit op ʼn manne naweek en dit is ʼn naweek wat die liggaam nie weer wil hê of beleef nie #Sjoef.
Vrydagaand het meeste van ons eers na 7pm daar aan gekom. Ongelooflik hoe ʼn kind so gat lam kan wees van ry, maar as daai deur oop gaan by die kampplek dan is alles vergete en dan is dit net so goed jy maak ʼn bok wat in ʼn hok vasgehou was oop.
Saterdagoggend so net na 6am en ek en Paul val in die pad Clanwilliam toe om sy Hilux te gaan haal wat die week bietjie by Toyota gekuier het. Lees gerus meer hier hoekom hy daar gestaan het.
Terwyl ons 2 weg was het Danie & die ouer spannetjie die lyne gaan nat maak met die hoop om ʼn paar grotes uit te trek – ongelukkig was daai geluk aan NIEMAND se kant die naweek nie.
Ek en Paul was so net voor 10am weer terug en my gat het skaars my kampstoel geraak toe ek hoor ons gaan nou eers wyn proe by Cederberg Keller. Na so uur of wat is ons terug by die kamp en die vuur begin lewe kry.
Laatmiddag en die hele spannetjie pak die +/-35min roete al langs die rivier aan na die Maalgate. Ek, Danie, Elizann & Paul doen ʼn paar spronge van die 8m hoe krans ter aanskoue van die res. Na so paar minute stem Jean ook in om die 8m sprong aan te pak. Ek spring 1st en wag vir hom onder in die water. Die klippe is woes glad en Paul staan agter hom en hou sy broek vas dat hy nie per ongeluk gly en kom eers water toe kom nie.
Soos ek opkyk kan ek sien die klein mannetjie se oë is so groot soos pierings. Ek moedig aan en praat moed in. Net toe ek dink hy gaan dit nie doen nie hoor ek:
“Los my oom Paul!”
Sy woorde was skaars uit en die knapie gee die tree oor die krans. Soos hy opkom vir asem is dit net net smiles & high-fives. Moet bieg – het nie gedink hy sou dit doen nie. Welgedaan Jean!!
Die pad terug, was maar lank en die jong klomp het gesukkel na al die swem & klouter.
Saterdagaand en die vuur begin lewe kry. Die dag se gebeure word bespreek terwyl die jong span rondom die tente en op Paul se blou Isuzu bakkie speel.
Paul se swart pot skyfies was die wenner van die aand. Ek dink almal het dit so geniet, want toe ons met die vleisbraai moet begin was dit maar net ek, Danie & Paul wat op die einde reg was vir ietsie op die hole.
Sondagoggend en die kinders kom nie vinnig genoeg die tente uit nie. Niemand is lus vir oppak nie, en daarom word daar besluit om eers ʼn paar plankie steaks te geniet voor ons met daai takie begin.
Uiteindelik opgepak word ʼn laaste duik in die rivier gemaak voor die konvooi aan die gang kom.
By Cederberg Oasis groet die Laas’e ons terwyl die res van ons ʼn koue bier/koeldrank geniet voor daar ook gegroet word en in die pad geval word.
Weereens dankie vir ʼn puik kuier almal.
Ek dink die volgende een moet of in die Weskus of Garden Route wees.
Kliek hier vir so paar foto’s van die kamp.